1 Konings 16
Afrikaans PWL
1Die woord van יהוה teen Ba’sha, het tot Yehu, die seun van Hanani gekom en gesê: 2“In sover Ek jou uit die stof opgelig en jou as leier oor My volk Yisra’el aangestel het en jy in die pad van Yarov’am geloop en My volk Yisra’el laat sondig het, om My te tart tot woede oor hulle sondes, 3let op, Ek sal Ba’sha en sy huis verteer en Ek sal jou huis maak soos die huis van Yarov’am, die seun van N’vat. 4Enige een van Ba’sha wat in die stad sterf, hom sal die honde eet en enige een van hom wat in die veld sterf, sal die voëls van die hemel eet.”

5Die res van die dade van Ba’sha, wat hy gedoen het en sy mag, is dit nie opgeskryf in ‘Die Boek van die Kronieke van die konings van Yisra’el’ nie?

6Ba’sha is neergelê by sy vaders en is begrawe in Tirtzah en sy seun Elah het in sy plek koning geword. 7Meer nog, die woord van יהוה deur die profeet Yehu, die seun van Hanani, het ook teen Ba’sha en sy huishouding gekom, beide as gevolg van al die boosheid wat hy in die oë van יהוה gedoen het, deur Hom te tart tot woede met sy handewerk deur soos die huis van Yarov’am te wees en ook omdat hy hom doodgemaak het.

8In die ses en twintigste jaar van Asa, koning van Y’hudah, het Elah, die seun van Ba’sha, oor Yisra’el koning geword in Tirtzah, twee jaar lank. 9Sy dienskneg Zimri, bevelvoerder van die helfte van sy strydwaens, het teen hom saamgesweer. Hy het homself in Tirtzah dronk gedrink in die huis van Artza, wat oor die huishouding in Tirtzah was. 10Toe het Zimri ingegaan en hom doodgeslaan in die sewe en twintigste jaar van Asa, koning van Y’hudah en het in sy plek koning geword. 11Die oomblik toe hy koning word en op sy troon gaan sit, het dit gebeur dat hy die hele huishouding van Ba’sha doodgemaak het; hy het nie ’n enkele man laat oorbly nie; nie sy bloedverwante of sy vriende nie.

12So het Zimri die hele huishouding van Ba’sha vernietig volgens die woord van יהוה wat Hy teen Ba’sha, deur die profeet Yehu, gepraat het 13vir al die sondes van Ba’sha en die sondes van Elah, sy seun, wat hulle gesondig het en waarmee hulle Yisra’el laat sondig het, om יהוה, die God van Yisra’el, te tart tot woede met hulle afgode. 14Die res van die dade van Elah en alles wat hy gedoen het, is dit nie opgeskryf in ‘Die Boek van die Kronieke van die konings van Yisra’el’ nie?

15In die sewe en twintigste jaar van Asa, koning van Y’hudah, het Zimri vir sewe dae lank geheers in Tirtzah. Die manne het Gibb’ton beleër wat aan die F’lishtyne behoort. 16Die manne wat beleër het, het dit hoor sê: “Zimri het saamgesweer en het ook die koning doodgeslaan;” daarom het die hele Yisra’el dieselfde dag vir `Omri, die bevelvoerder van die leër, in die kamp koning gemaak oor Yisra’el. 17Toe het `Omri en die hele Yisra’el saam met hom opgegaan vanaf Gibb’ton en Tirtzah beleër. 18Toe Zimri sien dat die stad ingeneem is, het hy in die vesting van die koning se huis ingegaan en die huis van die koning oor hom aan die brand gesteek en hy is dood, 19as gevolg van sy sondes wat hy gesondig het deur te doen wat boos was in die oë van יהוה, deur te loop op die pad van Yarov’am en in sy sonde wat hy gedoen het om Yisra’el te laat sondig. 20Die res van die dade van Zimri en sy sameswering wat hy gehad het, is dit nie opgeskryf in ‘Die Boek van die Kronieke van die konings van Yisra’el’ nie?

21Toe is die volk van Yisra’el verdeel in twee dele: die helfte van die mense het vir Tivni, die seun van Ginat, gevolg om hom koning te maak; die ander helfte het vir `Omri gevolg. 22Die mense wat vir `Omri gevolg het, was te sterk vir die mense wat vir Tivni, die seun van Ginat, gevolg het en Tivni het gesterf en `Omri het koning geword. 23In die een en dertigste jaar van Asa, koning van Y’hudah, het `Omri oor Yisra’el koning geword, twaalf jaar lank; hy het ses jaar in Tirtzah geheers. 24Hy het die berg Shomron van Shemer gekoop vir twee talente silwer en op die berg gebou en die stad wat hy gebou het, Shomron genoem volgens die naam van Shemer, die eienaar van die berg.

25`Omri het boos gedoen in die oë van יהוה en meer boos gehandel as almal wat voor hom was, 26want hy het geloop in al die paaie van Yarov’am, die seun van N’vat en in sy sondes waarmee hy Yisra’el laat sondig het, om יהוה, die God van Yisra’el, te tart met hulle afgode. 27Die res van die dade van `Omri, wat hy gedoen het en sy mag wat hy gewys het, is dit nie beskryf in ‘Die Boek van die Kronieke van die konings van Yisra’el’ nie? 28`Omri is neergelê by sy vaders en is in Shomron begrawe en sy seun Ag’av het in sy plek koning geword.

29Ag’av, die seun van `Omri, het koning geword oor Yisra’el in die agt en dertigste jaar van Asa, koning van Y’hudah en Ag’av, die seun van `Omri, het twee en twintig jaar lank in Shomron oor Yisra’el regeer. 30Ag’av, die seun van `Omri, het boos gedoen in die oë van יהוה, meer as almal wat voor hom was.

31Dit het gebeur, asof dit die minste was vir hom om in die sondes van Yarov’am, die seun van N’vat, te loop, dat hy Izevel, die dogter van Et-Ba’al, die koning van die Tzidoniërs, getrou het en Ba’al gaan dien en voor hom neergebuig en aanbid het. 32Hy het vir Ba’al ’n altaar opgerig in die huis van Ba’al wat hy in Shomron gebou het. 33Ag’av het ook die Asherah opgerig. So het Ag’av meer gedoen om יהוה, die God van Yisra’el, te tart as al die konings van Yisra’el wat voor hom was. 34In sy dae het Hi’el, van Beit-El, Yerigo gebou; hy het sy fondasies met die verlies van Aviram, sy eersgeborene, gelê en sy poorte opgerig met die verlies van S’guv, sy jongste, volgens die woord van יהוה wat Hy deur Y’hoshua, die seun van Nun, gepraat het.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
1 Kings 15
Top of Page
Top of Page