1 Konings 15
Afrikaans PWL
1In die agttiende jaar van koning Yarov’am, die seun van N’vat, het Aviyah oor Y’hudah koning geword. 2Hy het drie jaar in Yerushalayim regeer en die naam van sy moeder was Ma’akhah, die dogter van Avshalom. 3Hy het in al die sondes van sy vader geloop wat hy voor hom gedoen het en sy verstand, wil en emosie was nie volkome tot יהוה, sy God, toegewy soos die verstand, wil en emosie van sy vader, Dawid, nie, 4maar ter wille van Dawid het יהוה, sy God, vir hom ’n lamp in Yerushalayim gegee om sy seun ná hom op te wek en Yerushalayim te vestig 5omdat Dawid gedoen het wat reg was in die oë van יהוה, sonder om af te wyk van enige iets wat Hy hom beveel het, al die dae van sy lewe, behalwe in die saak van Uriyah, die Hittiet. 6Daar was oorlog tussen Regav’am en Yarov’am, al die dae van sy lewe.

7Die res van die dade van Aviyah en alles wat hy gedoen het, is dit nie opgeskryf in die ‘Boek van die Kronieke van die konings van Y’hudah’ nie? Daar was ook oorlog tussen Aviyah en Yarov’am.

8Aviyah is neergelê by sy vaders en hulle het hom in die stad van Dawid begrawe en Asa, sy seun, het in sy plek koning geword.

9In die twintigste jaar van Yarov’am, die koning van Yisra’el, het Asa begin heers as koning van Y’hudah. 10Hy het een en veertig jaar in Yerushalayim regeer en die naam van sy moeder was Ma’akhah, die kleindogter van Avshalom. 11Asa het gedoen wat reg was in die oë van יהוה, net soos sy vader Dawid. 12Hy het ook die manlike kultusprostitute uit die land uitgesit en al die afgode wat sy vaders gemaak het, verwyder. 13Hy het ook sy moeder, Ma’akhah, as koninginmoeder verwyder omdat sy ’n fees vir haar afgod gehou het en Asa het die afgod vernietig en by die Kidronspruit verbrand, 14maar die hoë plekke is nie weggevat nie; nogtans was Asa se verstand, wil en emosie al sy dae volkome toegewy aan יהוה. 15Hy het die toegewyde dinge van sy vader en sy eie toegewyde dinge in die huis van יהוה ingebring: silwer, goud en gereedskap.

16Daar was oorlog tussen Asa en Ba’sha, die koning van Yisra’el, al hulle dae. 17Ba’sha, die koning van Yisra’el, het teen Y’hudah opgetrek en Ramah versterk om te verhoed dat enige een uitgaan vanaf, of ingaan na Asa, die koning van Y’hudah. 18Toe vat Asa al die silwer en die goud wat oorgebly het in die skatkamers van die huis van יהוה en die skatte van die huis van die koning en gee dit in die hand van sy diensknegte en koning Asa het hulle gestuur na Ben-Hadad, die seun van Tavrimmon, die seun van Hezyon, die koning van Aram wat in Dammesek gebly het en gesê: 19“Laat daar ’n verbond tussen my en u wees, soos tussen my vader en u vader. Let op, ek het vir u ’n geskenk van silwer en goud gestuur; gaan verbreek u verbond met Ba’sha, die koning van Yisra’el sodat hy van my af kan terugtrek. 20Ben-Hadad het geluister na koning Asa en die bevelvoerders van sy leër teen die stede van Yisra’el gestuur en `Iyon, Dan, Avel-Beit-Ma’akhah, die hele Kinn’rot asook die hele land van Naftali verower. 21Toe Ba’sha dit hoor, het hy opgehou om Ramah te versterk en in Tirtzah gebly. 22Toe maak koning Asa ’n aankondiging in die hele Y’hudah, niemand was vrygestel nie en hulle het die klippe en hout van Ramah, waarmee Ba’sha gebou het, weggedra. Koning Asa het Geva in Binyamin en Mitzpah daarmee gebou.

23Die res van al die dade van Asa en al sy mag en alles wat hy gedoen het en die stede wat hy gebou het, is dit nie beskryf in die ‘Boek van die Kronieke van die konings van Y’hudah’ nie? In die tyd van sy ouderdom was hy siek aan sy voete. 24Asa is neergelê by sy vaders en is by sy vaders begrawe in die stad van sy vader, Dawid en Y’hoshafat sy seun het in sy plek geheers.

25Nadav, die seun van Yarov’am, het koning geword oor Yisra’el in die tweede jaar van Asa, koning van Y’hudah en hy het twee jaar oor Yisra’el regeer. 26Hy het boos gedoen in die oë van יהוה en gewandel in die pad van sy vader en in sy sonde waarmee hy Yisra’el laat sondig het. 27Toe het Ba’sha, die seun van Agiyah, van die huis van Yissakhar, saamgesweer teen hom en Ba’sha het hom verslaan by Gibb’ton wat aan die F’lishtyne behoort terwyl Nadav en die hele Yisra’el besig was om Gibb’ton te beleër.

28So het Ba’sha hom doodgemaak in die derde jaar van Asa, koning van Y’hudah en in sy plek geheers. 29Dit het gebeur dat, sodra hy koning geword het, hy die hele huis van Yarov’am doodgemaak het. Hy het vir Yarov’am geen persoon laat oorbly nie totdat hy almal vernietig het, volgens die woord van יהוה wat Hy gepraat het deur sy dienskneg Agiyah, van Shiloh, 30vanweë die sondes van Yarov’am wat hy gedoen en waarmee hy Yisra’el laat sondig het, deur sy uittarting waarmee hy יהוה, die God van Yisra’el, uitgetart het tot woede.

31Die res van die dade van Nadav en alles wat hy gedoen het, is dit nie opgeskryf in ‘Die Boek van die Kronieke van die konings van Yisra’el’ nie?

32Daar was oorlog tussen Asa en Ba’sha, koning van Yisra’el, al hulle dae.

33In die derde jaar van Asa, koning van Y’hudah, het Ba’sha, die seun van Agiyah, koning geword oor die hele Yisra’el in Tirtzah, vier en twintig jaar lank. 34Hy het boos gedoen in die oë van יהוה en geloop in die pad van Yarov’am en in sy sonde waarmee hy Yisra’el laat sondig het.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
1 Kings 14
Top of Page
Top of Page