Spreuke 18
Afrikaans PWL
1Wanneer ’n man onaktief is, bedink hy begeertes en bespot goeie instruksies.

2Die dwaas het geen vreugde in wysheid nie, maar sy gedagtes beplan nietighede.

3Wanneer die bose die dieptes van boosheid bereik, kom nietigheid, minagting, oneer en skande oor hom.

4Die woorde van ’n man se mond is soos diep waters en die fontein van wysheid soos ’n vloeiende stroom.

5Dit is nie goed om die persoon van die bose te respekteer nie en ook nie om regverdige oordeel te verdraai teen die regverdige nie.

6Die lippe van die dwaas kom in twis en sy mond bring hom by die dood.

7Die mond van die dwaas is sy vernietiging en sy lippe is die strik vir sy lewe.

8Die woorde van die skinderaar bring vir hom boosheid en veroorsaak dat hy in die binnekamers van Sh’ol afgaan.

9Hy wat slap is in sy werk, is die broer van die vernietiger.

10Die Karakter en Outoriteit (Naam) van יהוה is ’n sterk toring; die regverdige en magtige hardloop daarin.

11Die rykdom van die ryke is sy sterk stad en sy blyplek is omhein deur ’n sterk muur.

12Voor vernietiging is die mens se verstand, wil en emosie hoogmoedig, maar voor eer is nederigheid.

13Hy wat ’n antwoord gee voordat hy gehoor het, is ’n dwaas en nikswerd.

14Die gees van ’n man sal sy leiding deurstaan, maar ’n gebroke gees, wie kan dit oplig?

15Die verstand, wil en emosie van die man met insig, verkry wysheid en die oor van die wyse luister na kennis.

16’n Man se geskenke maak vir hom ruimte en bring hom in die teenwoordigheid van groot manne.

17Hy wat eerste praat, word onskuldig beskou in sy hofsaak, maar as sy naaste kom, ondersoek hy hom deeglik.

18Om die lot te werp laat stryd ophou en besluit tussen magtige manne.

19’n Broer wat deur sy broer gehelp word, is soos ’n stad wat deur sy versterkings gehelp word en sy helpers is soos die wering van ’n paleis.

20’n Man se maag sal versadig word deur die vrug van sy mond en deur die vrug van sy lippe sal hy vol gemaak word.

21Dood en lewe is in die mag van die tong en hulle wat dit liefhet, sal die vrug daarvan eet.

22Hy wat ’n goeie vrou vind, vind iets goeds en verkry guns van יהוה. Hy wat ’n goeie vrou uitsit uit sy huis, sit die goeie uit sy huis.

23Die arme praat nederig, maar die ryke praat van groot dinge.

24Daar is vriende wat maar net vriende is en daar is ’n vriend wat vaster is as ’n broer.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Proverbs 17
Top of Page
Top of Page