Spreuke 17
Afrikaans PWL
1’n Stuk droë brood en rustigheid daarby is beter as ’n huis vol feesmaaltye met getwis.

2’n Wyse dienskneg sal heers oor ’n seun wat skande maak en sal die erfenis deel saam met die broers.

3Die smeltkroes is vir silwer en die oond vir goud, maar יהוה toets die binneste.

4Die bose luister vir valse lippe, maar die regverdige luister nie na die tong van gewelddadige manne nie.

5Hy wat met die arme spot, tart sy Maker; hy wat bly is oor ’n katastrofe, sal nie vergewe word nie.

6Kinders se kinders is die kroon vir ou manne en die lof en eer van die kinders is hulle vader.

7Uitstekende taal pas nie by ’n dwaas nie en ook nie leuentaal by ’n regverdige nie!

8’n Kosbare edelgesteente is mooi in die oë van sy besitter; oral waar dit gaan word dit bewonder.

9Hy wat ’n oortreding vergeet, soek vriendskap, maar hy wat dit haat om ’n oortreding te vergeet, vervreem homself van ’n vriend en naaste.

10’n Berisping breek die binneste van die wyse; die dwaas ontvang straf, maar besef dit nie.

11Die twisgierige soek moeilikheid; daarom sal ’n wrede boodskapper teen hom gestuur word.

12Bepeinsing en respekvolle vrees pas by ’n wyse man, maar ’n dwaas bepeins sy sinnelose boosheid.

13Hy wat goed met boosheid vergeld, die boosheid sal nie uit sy huis wyk nie.

14Hy wat bloed vergiet, maak oordeel wakker voor die heerser.

15Beide hy wat die bose regverdig verklaar en hy wat die regverdige veroordeel, is verwerplik voor יהוה.

16Wat is die waarde van rykdom in die besit van die dwaas wat geen begeerte het om wysheid te bekom nie?

17’n Vriend het te alle tye lief, maar ’n broer word gebore vir teëstand.

18’n Dwase mens bied homself aan as borg, want hy word versekering vir sy naaste.

19Hy wat oortreding liefhet, het bedrog en twis lief en hy wat homself verhoog, soek vernietiging.

20Hy wat in sy verstand, wil en emosie sleg praat, sal nie die goeie vind nie; hy wat ’n bose tong het, verval in boosheid.

21Hy wat ’n dwaas verwek, doen dit tot sy eie skande; sy vader sal geen vreugde in hom hê nie.

22’n Vrolike binneste maak die liggaam gesond, maar ’n gebroke gees droog die gebeente uit.

23Hy wat omkoopgeld aanvaar is boos, want hy verdraai hoe die regverdige oordeel werk.

24Die gesig van die man van insig, is na wysheid, maar die oë van die dwaas na die dieptes van die aarde gedraai.

25’n Dwase seun tart sy vader en is bitterheid vir haar wat geboorte aan hom gegee het.

26Om die regverdige te straf of om die regverdige man, wat die waarheid praat, te slaan, is nie goed nie.

27Hy wat sy woorde spaar, besit kennis en hy wat geduldig is, is ’n wyse man.

28Selfs ’n dwaas, wanneer hy stilbly, word as wys beskou en hy wat sy lippe toehou, as ’n man van insig.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Proverbs 16
Top of Page
Top of Page