Numeri 33
Afrikaans PWL
1Dit is die reise van die seuns van Yisra’el wat uit Mitzrayim uitgetrek het volgens hulle leërafdelings, onder die leierskap van Moshe en Aharon. 2Moshe het volgens die opdrag van יהוה die aanvangsplekke van hulle reise opgeskryf. Hierdie is hulle reise, volgens hul aanvangsplekke: 3hulle het vanaf Ram’ses vertrek in die eerste maand, op die vyftiende dag van die eerste maand, op die dag ná die Pesag het die seuns van Yisra’el vrymoediglik voor die oë van al die Mitzrayiete uitgetrek, 4terwyl die Mitzrayiete besig was om hulle eersgeborenes te begrawe, wat יהוה onder hulle getref het. יהוה het ook oordele oor hulle gode uitgevoer.

5Die seuns van Yisra’el het van Ram’ses af weggetrek en het by Sukkot kamp opgeslaan. 6Hulle het van Sukkot af weggetrek en kamp opgeslaan in Etam wat aan die kant van die wildernis lê. 7Hulle het van Etam af weggetrek en teruggedraai na Pi-Hagirot wat voor Ba’alTz’fon lê en hulle het voor Migdol gekamp. 8Hulle het van Pi-Hagirot af weggetrek en regdeur die see gegaan na die wildernis, drie dagreise ver die wildernis van Etam in en by Marah gekamp. 9Hulle het van Marah af weggetrek en by Eilim gekom. In Eilim was twaalf waterfonteine en sewentig palmbome en hulle het daar gekamp. 10Hulle het van Eilim af weggetrek en by die Sufsee gekamp. 11Hulle het van die Sufsee af weggetrek en in die wildernis van Sien gekamp. 12Hulle het uit die wildernis van Sien weggetrek en in Dofkah gekamp. 13Hulle het van Dofkah af weggetrek en in Alush gekamp. 14Hulle het van Alush af weggetrek en in Refidim gekamp, waar daar geen water vir die volk was om te drink nie. 15Hulle het van Refidim af weggetrek en in die wildernis van Sinai gekamp. 16Hulle het uit die wildernis van Sinai weggetrek en in Kivrot-HaTa’avah gekamp.

17Hulle het van Kivrot-HaTa’avah af weggetrek en in Hatzerot gekamp. 18Hulle het van Hatzerot af weggetrek en in Ritmah gekamp. 19Hulle het van Ritmah af weggetrek en in Rimmon-Peretz gekamp. 20Hulle het van Rimmon-Peretz af weggetrek en in Livnah gekamp. 21Hulle het van Livnah af weggetrek en in Rissah gekamp. 22Hulle het van Rissah af weggetrek en in K’helah gekamp. 23Hulle het van K’helah af weggetrek en by die berg Shefer gekamp. 24Hulle het van die berg Shefer af weggetrek en in Haradah gekamp. 25Hulle het van Haradah af weggetrek en in Mak’helot gekamp. 26Hulle het van Mak’helot af weggetrek en in Tagat gekamp. 27Hulle het van Tagat af weggetrek en in Terag gekamp. 28Hulle het van Terag af weggetrek en in Mitkah gekamp. 29Hulle het van Mitkah af weggetrek en in HaShmonah gekamp. 30Hulle het van HaShmonah af weggetrek en in Moserot gekamp. 31Hulle het van Moserot af weggetrek en in B’nei-Ya’akan gekamp. 32Hulle het van B’nei-Ya’akan af weggetrek en in Hor-HaGidgad gekamp. 33Hulle het van Hor-HaGidgad af weggetrek en in Yotvatah gekamp. 34Hulle het van Yotvatah af weggetrek en in Avronah gekamp. 35Hulle het van Avronah af weggetrek en in `Etzyon-Gever gekamp. 36Hulle het van `Etzyon-Gever af weggetrek en in die wildernis van Tzin, dit is Kadesh, gekamp. 37Hulle het van Kadesh af weggetrek en by die berg Hor, aan die kant van die land van Edom, gekamp.

38Aharon, die priester, het volgens die opdrag van יהוה op die berg Hor geklim en daar gesterf, in die veertigste jaar nadat die seuns van Yisra’el uit die land van Mitzrayim uitgekom het, in die vyfde maand, op die eerste van die maand. 39Aharon was honderd drie en twintig jaar oud toe hy op die berg Hor gesterf het.

40Die Kena’anitiese koning van `Arad, wat in die Negev, in die land Kena’an gebly het, het gehoor dat die seuns van Yisra’el kom.

41Hulle het van die berg Hor af weggetrek en in Tzalmonah gekamp. 42Hulle het van Tzalmonah af weggetrek en in Punon gekamp. 43Hulle het van Punon af weggetrek en in Ovot gekamp. 44Hulle het van Ovot af weggetrek en in `Iyei-Ha`Avarim, by die grens van Mo’av gekamp. 45Hulle het van `Iyei-Ha`Avarim af weggetrek en in Divon-Gad gekamp. 46Hulle het van Divon-Gad af weggetrek en in `Almon-Divlatayim gekamp. 47Hulle het van `Almon-Divlatayim af weggetrek en in die `Avarimgebergte, voor N’vo gekamp. 48Hulle het van die `Avarimgebergte af weggetrek en in die vlaktes van Mo’av, by die Yarden oorkant Yerigo gekamp. 49Hulle het by die Yarden, van Beit-Yeshimot af tot by Avel-HaSheetim, in die vlaktes van Mo’av gekamp.

50יהוה het met Moshe gepraat in die vlaktes van Mo’av, by die Yarden oorkant Yerigo, en gesê: 51“Praat met die seuns van Yisra’el en sê vir hulle: ‘Wanneer julle oor die Yarden in die land Kena’an ingetrek het, 52moet julle al die inwoners van die land voor julle uit verdrywe en al hulle gekerfde klippe vernietig; vernietig ook al hulle gegote beelde en verwoes al hulle hoë plekke. 53Julle moet die inwoners van die land onteien en daarin bly, want Ek het die land vir julle gegee om dit te besit. 54Julle moet die land deur die lot as erfenis verdeel tussen julle families; vir die wat baie is, moet julle ’n groot erfenis gee en vir die wat min is, moet jy ’n klein erfenis gee. Elkeen se erfenis sal wees waar die lot vir hom val. Julle sal erf volgens die stamme van julle vaders. 55As julle die bewoners van die land egter nie voor julle uit verdrywe nie, sal die wat julle van hulle laat oorbly, soos dorings in julle oë wees en soos steke in julle sye en hulle sal julle teëstaan in die land waar julle in bly. 56Meer nog, soos Ek gedink het om aan hulle te doen, sal Ek aan julle doen.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Numbers 32
Top of Page
Top of Page