Numeri 32
Afrikaans PWL
1Die seuns van Re’uven en die seuns van Gad het ’n baie groot aantal vee gehad en toe hulle gesien het dat die land van Ya’zer en die land Gil’ad ’n plek vir vee is, 2het die seuns van Gad en die seuns van Re’uven gekom en met Moshe, El’azar, die priester en met die leiers van die vergadering gepraat en gesê: 3“ `Atarot, Divon, Ya’zer, Nimrah, Heshbon, El’aleh, S’vam, N’vo en Be’on; 4die land wat יהוה voor die vergadering van Yisra’el uit verslaan het; is ’n land vir vee en u diensknegte het vee;” 5daarom het hulle gesê: “As ons guns in u oë gevind het, laat hierdie land aan u diensknegte as ’n besitting gegee word; moet ons nie oor die Yarden laat gaan nie.”

6Moshe het vir die seuns van Gad en die seuns van Re’uven gesê: “Sal julle broers oorlog toe gaan terwyl júlle hier sit? 7Waarom wil julle nou die seuns van Yisra’el ontmoedig om oor te gaan in die land wat יהוה aan hulle gegee het? 8Net so het julle vaders gedoen, toe ek hulle van Kadesh-Barnea af gestuur het om na die land te kyk, 9want toe hulle tot by die Eshkolvallei opgetrek het en na die land gekyk het, het hulle die wil, verstand en emosie van die seuns van Yisra’el ontmoedig sodat hulle nie ingegaan het in die land wat יהוה aan hulle gegee het nie 10en die woede van יהוה het die dag opgevlam en Hy het gesweer en gesê: 11‘Waarlik, nie een van die manne wat uit Mitzrayim opgetrek het, van twintig jaar oud en ouer, sal die land sien wat Ek aan Avraham, Yitz’gak en Ya’akov met ’n eed beloof het nie, want hulle het My nie volkome gevolg nie, 12behalwe Kalev, die seun van Y’funneh, die K’niziet en Y’hoshua, die seun van Nun, want hulle het יהוהvolkome gevolg.’ 13Die woede van יהוה het teen Yisra’el ontbrand en Hy het hulle veertig jaar lank in die wildernis laat rondswerf totdat die hele geslag, wat boos gedoen het in die oë van יהוה, vernietig is. 14Let op, julle het opgestaan in die plek van julle vaders, ’n voortplanting van sondige mense, om by die brandende woede van יהוה teen Yisra’el by te voeg. 15As julle wegdraai daarvan om Hom te volg, sal Hy hulle nog langer in die wildernis laat bly en julle sal al hierdie mense vernietig.”

16Hulle het na hom toe gekom en gesê: “Ons sal hier skaapkrale bou vir ons vee en stede vir ons kinders, 17maar ons self sal gewapen wees, gereed om te gaan voor die seuns van Yisra’el totdat ons hulle op hul plekke gebring het en ons kinders sal in die versterkte stede bly vanweë die inwoners van die land. 18Ons sal nie na ons huise teruggaan voordat elkeen van die seuns van Yisra’el sy erfenis ontvang het nie, 19want ons sal nie saam met hulle anderkant die Yarden en verder erf nie omdat ons erfdeel aan dié kant, oos van die Yarden, ons toegeval het.”

20Moshe sê vir hulle: “As julle dit doen, as julle jul voor יהוה vir die oorlog bewapen 21en julle almal bewapend voor יהוה deur die Yarden trek totdat Hy Sy vyande voor Hom uit verdrywe het 22en die land voor יהוה onderwerp is, dan mag julle teruggaan, dan sal julle onskuldig wees voor יהוה en voor Yisra’el en hierdie land sal vir julle ’n besitting word voor יהוה, 23maar as julle dit nie so doen nie, let op, julle het teen יהוה gesondig en weet dat julle sonde julle sal uitvind. 24Bou stede vir jul kinders en krale vir jul kleinvee en doen wat julle belowe het.”

25Die seuns van Gad en die seuns van Re’uven het met Moshe gepraat en gesê: “U diensknegte sal doen soos my meester beveel het. 26Ons kinders, ons vroue, ons kleinvee en al ons vee sal daar wees, in die stede van Gil’ad, 27maar u diensknegte sal oorgaan na die geveg, almal vir die oorlog bewapen voor יהוה, net soos my meester gesê het.”

28Moshe het aangaande hulle aan El’azar, die priester, aan Y’hoshua, die seun van Nun en aan die hoof vaders van die stamme van die seuns van Yisra’el bevel gegee 29en Moshe het vir hulle gesê: “As die seuns van Gad en die seuns van Re’uven saam met julle oor die Yarden trek, elke man bewapen vir die oorlog voor יהוה en die land voor julle uit onderwerp is, moet julle die land Gil’ad vir hulle as ’n besitting gee, 30maar as hulle nie gewapend saam met julle oortrek nie, moet hulle tussen julle in die land Kena’an besittings verkry.” 31Die seuns van Gad en die seuns van Re’uven het geantwoord en gesê: “Wat יהוה aan u diensknegte gesê het, so sal ons doen. 32Ons sal gewapend oortrek voor יהוה na die land Kena’an, maar die besitting van ons erfenis sal by ons bly aan dié kant van die Yarden.”

33Moshe het vir die seuns van Gad, die seuns van Re’uven en die halwe stam van M’nasheh, die seun van Yosef, die koninkryk van Sigon, koning van die Emoriete en die koninkryk van ‘Og, koning van Bashan, die land, met sy stede binne die grondgebied en die stede van die omliggende land, gegee. 34Die kinders van Gad het gebou: Divon, `Atarot, `Aro’er, 35Atrot-Shofan, Ya’zer, Yogbehah, 36Beit-Nimrah en Beit-Haran, versterkte stede en skaapkrale. 37Die seuns van Re’uven het gebou: Heshbon, El’aleh, Kiryatayim, 38N’vo en Ba’al-M’on, hulle name is verander, en Sivmah; hulle het ander name gegee aan die stede wat hulle gebou het. 39Die seuns van Makhir, die seun van M’nasheh, het na Gil’ad gegaan en dit oorgevat en die Emoriete onteien wat daarin was. 40Moshe het Gil’ad vir Makhir, die seun van M’nasheh, gegee en hy het daarin gewoon. 41Ya’ir, die seun van M’nasheh, het gegaan en hulle klein dorpies ingeneem en dit Havot-Ya’ir genoem. 42Novag het gegaan en K’nat en sy klein dorpies ingeneem en dit na sy eie naam, Novag, vernoem.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Numbers 31
Top of Page
Top of Page