Mattheus 11
Afrikaans PWL
1Dit was nadat Yeshua Sy bevele aan Sy twaalf studentevolgelinge voltooi het dat Hy daarvandaan weggegaan het om in húlle stede te leer en te verkondig.

2Toe Yoganan in die gevangenis gehoor het van die dade van Die Gesalfde Een, het hy deur middel van sy studentevolgelinge gestuur 3en vir Hom gevra: “Is U Hy wat kom, of moet ons ’n ander verwag?” 4Yeshua antwoord en sê vir hulle: “Gaan vertel aan Yoganan daardie dinge wat julle hoor en sien: 5die blindes sien, die kreupeles loop, die melaatses word rein, die dowes hoor, die dooies staan op, die armes hoor die goeie boodskap 6en geseënd is elkeen wat nie deur My sal struikel nie.”

7Toe hulle weg is, begin Yeshua vir die skare aangaande Yoganan te sê: “Wat het julle uitgegaan om in die wildernis te sien? ’n Riet wat deur die wind geskud word? 8Indien nie, wat het julle uitgegaan om te sien? ’n Man wat ’n lang sagte kleed dra? Let op, die wat sagte klere dra, is tussen konings. 9Wat anders het julle uitgegaan om te sien? ’n Profeet? Ja, Ek sê vir julle, meer as ’n profeet.

10Dit is hy van wie daar geskrywe is: ‘Let op, Ek stuur My boodskapper voor U Teenwoordigheid uit, om U pad voor U uit voor te berei.’

11Ek sê vir julle die waarheid: ‘Onder die wat uit vroue gebore is, het daar nie een opgestaan wat groter is as Yoganan, die Doper, nie, maar die kleinste in die Koninkryk van die hemel, is groter as hy.’ 12Vanaf die dae van Yoganan die Doper af tot nou toe word die Koninkryk van die hemel met geweld uitgevoer en geweldenaars gryp dit, 13want al die profete en die wet het tot by Yoganan geprofeteer 14en as julle bereid is om dit te aanvaar: hy is Eliyahu wat sou kom. 15Wie ook al ’n oor het wat wil hoor, laat hom hoor,

16maar waarmee sal Ek hierdie geslag vergelyk? Dit is net soos kinders wat in die strate sit en na hulle maats roep 17en sê: ‘Ons het vir julle gesing en julle het nie gedans nie; ons het vir julle gehuil en julle het nie getreur nie,’ 18Yoganan het gekom en niks geëet of gedrink nie en hulle sê: ‘Hy het ’n demoon in hom.’ 19Die Seun van die mens het gekom al etende en drinkende en hulle sê: ‘Let op, ’n vraat en ’n wynsuiper, ’n vriend van belastinggaarders en sondaars.’ Wysheid word geregverdig deur die dade wat dit voortbring.”

20Toe begin Yeshua die stede waarin die meeste van Sy kragtige dade plaasgevind het, aanspreek omdat hulle nie erken en omgedraai het van hulle sonde na God toe nie 21en Hy sê: “Wee jou, Kórasin; wee jou, Beit-Tzaidah, want as in Tzor en Tzidon die kragtige dade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle lankal in sak en as erken en omgedraai het van hulle sonde na God toe, 22maar Ek sê vir julle, dit sal vir Tzor en Tzidon meer uithoudbaar wees in die oordeelsdag as vir julle 23en jy, K’far-Nagum, wat tot die hemel toe opgelig is, jy sal tot Sh’ol toe neergedruk word, want as in S’dom die kragtige dade plaasgevind het wat in jou plaasgevind het, sou hy bly bestaan het tot vandag toe, 24maar Ek sê vir julle dat dit vir die land van S’dom kalm en rustig sal wees in die oordeelsdag in vergelyking met jou.”

25By daardie geleentheid het Yeshua geantwoord en gesê: “Ek dank U, My Vader, Meester van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge weggesteek het vir die wyse en intelligente en dit aan eenvoudiges openbaar het. 26Ja, My Vader, want so was dit U begeerte om te doen. 27Alles is aan My oorgegee deur My Vader en niemand ken die Seun ten volle nie, behalwe die Vader; ook ken niemand die Vader ten volle nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun dit wil openbaar.

28Kom na My toe, almal wat moeg gewerk is en gedwing word om laste te dra en Ek sal julle rus gee. 29Neem My juk op julle en leer van My, want Ek is vredevol en nederig van verstand, wil en emosie en julle sal rus vind vir julle gees, 30want My juk is aangenaam en My las is lig.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Matthew 10
Top of Page
Top of Page