Mattheus 10
Afrikaans PWL
1Hy het Sy twaalf studentevolgelinge na Hom toe geroep en aan hulle outoriteit gegee oor vuil geeste, om hulle uit te dryf en om elke siekte en elke pyn te genees.

2Hierdie was die name van die twaalf afgevaardigdes: eerstens, Shim’on wat genoem word Kefa en Andréas, sy broer; Ya’akov, die seun van Zavdai en Yoganan, sy broer; 3Filippos en die seun van (Bar)-Talmai; T’oma en Mattityahu, die belastinggaarder; Ya’akov, die seun van (Bar)-Halfai en Labi wat genoem word Taddai; 4Shim’on die Yweraar en Y’hudah van K’riot, wat Hom oorgegee het.

5Yeshua het hierdie twaalf gestuur en hulle opdrag gegee en gesê: “Moenie, op pad, na die ander volke toe gaan nie en moenie in die stede van Shomron ingaan nie, 6maar gaan spesifiek na die verlore skape van die huis van Yisra’el 7en wanneer julle gaan, kondig aan en sê: ‘Die Koninkryk van die hemel het naby gekom.’ 8Genees siekes, reinig melaatses, dryf demone uit. Sonder betaling is dit ontvang, sonder betaling moet dit gegee word. 9Moenie goud of silwer of koper in julle beurse hou nie, 10geen sak vir die pad of twee kledingstukke of sandale of ’n wandelstok nie, want die arbeider is sy versorging waardig, 11maar in watter stad of dorp julle ook al ingaan, onderskei wie waardig is en bly dan dáár totdat julle vertrek. 12Wanneer julle in ’n huis ingaan, spreek vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid oor die huishouding 13en as die huis dit waardig is, sal julle seëning (vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid) daarop rus, maar as dit nie waardig is nie, sal julle seëning na julle toe terugkom. 14Wanneer iemand julle nie ontvang en nie na julle boodskap luister nie, gaan uit daardie huis of daardie stad uit en skud die stof van julle voete af. 15Dit is waar wat Ek vir julle sê: ‘In die oordeelsdag sal dit vir die land van S’dom en `Amorra meer uithoudbaar wees as vir daardie stad.’

16Let op, Ek stuur julle soos skape tussen die wolwe in. Wees daarom uitgeslape soos slange en onskuldig soos duiwe, 17maar wees versigtig vir die mense, want hulle sal jul oorlewer aan die howe en in hulle bymekaarkomplekke sal hulle julle gésel. 18Hulle sal julle ook voor streeksleiers en konings bring, om My ontwil, tot ’n getuienis vir hulle en vir die ander nasies, 19maar wanneer hulle julle arresteer, moenie bekommerd wees oor hoe, of wat, julle sal sê nie, want wat julle moet sê sal op daardie oomblik vir julle gegee word, 20want dit sal nie julle wees wat praat nie, maar die Gees van julle Vader wat in julle praat.

21’n Broer sal sy broer tot die dood oorlewer en die vader sy kind en die kinders sal teen hulle ouers opstaan en hulle doodmaak 22en almal sal julle haat ter wille van My Outoriteit en Karakter (Naam), maar wie ook al uithou tot die einde toe, hy sal gered word.

23Wanneer hulle julle vervolg in hierdie stad, vlug na ’n ander toe, want dit is waar wat Ek vir julle sê: ‘Julle sal nie die stede van die huis van Yisra’el voltooi voordat die Seun van die mens sal kom nie.’

24Daar is nie ’n leerling groter as sy leermeester nie en net so ook nie ’n dienskneg groter as sy meester nie. 25Dit is vir die studentevolgeling genoeg dat hy soos sy leermeester sal wees en die dienskneg soos sy meester. As hulle die meester van die huis Ba’al-Z’vuv genoem het; hoeveel te meer sy huisgenote!

26Wees daarom nie bang vir hulle nie, want daar is niks bedek wat nie openbaar sal word nie en geheim wat nie bekend sal word nie. 27Wat Ek ook al vir julle in die donker vertel, sê dit in die lig en enige iets wat julle in julle oor hoor, verkondig dit op die dakke. 28Moenie bang wees vir hulle wat die liggaam doodmaak, maar die gees nie kan doodmaak nie, maar wees eerder bang vir Hom wat die gees sowel as die liggaam kan vernietig in die hel. 29Word twee mossies nie vir ’n assarion verkoop nie? Nie een van hulle sal op die grond val sonder julle Vader se wil nie, 30maar julle, al die hare van julle kop, is ook almal getel. 31Wees daarom nie bang nie, want julle is belangriker as baie mossies.

32Elkeen dan wat My sal erken voor die mense, hom sal Ek ook erken voor My Vader wat in die hemel is, 33maar elkeen wat My ontken voor die mense, hom sal Ek ook ontken voor My Vader wat in die hemel is.

34Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar ’n swaard, 35want Ek het gekom om tweedrag te verwek tussen ’n man en sy vader en tussen ’n dogter en haar moeder en tussen ’n skoondogter en haar skoonmoeder; 36’n mens se vyande sal die kinders van sy huishouding wees.

37Wie ’n vader of moeder meer liefhet as vir My, is My nie waardig nie en wie ’n seun of dogter meer liefhet as vir My, is My nie waardig nie 38en elkeen wat nie sy kruis optel en My volg nie, is My nie waardig nie. 39Wie ook al sy lewe self verloor om My ontwil, sal dit vind. Wie ook al sy lewe self vind, sal dit verloor.

40Wie ook al vir julle ontvang, ontvang My en wie ook al vir My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het. 41Wie ook al ’n profeet ontvang in die Outoriteit en Karakter (Naam) van die Profeet, sal ’n beloning van die Profeet ontvang en wie ’n onskuldige ontvang in die Outoriteit en Karakter van die Onskuldige, sal ’n beloning van die Onskuldige Een ontvang 42en elkeen wat vir een van hierdie kleintjies net ’n koppie koue water gee om te drink, volgens die karakter en outoriteit van ’n studentevolgeling, dit is waar, Ek sê vir julle, hy sal nie sy beloning verloor nie.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Matthew 9
Top of Page
Top of Page