Mattheus 12
Afrikaans PWL
1In daardie tyd het Yeshua op die Shabbat deur die graanland geloop en Sy studentevolgelinge was honger en het are begin pluk en geëet, 2maar toe die Fariseërs dit sien, sê hulle vir Hom: “Let op, U studentevolgelinge doen wat nie toegelaat is om op die Shabbat te doen nie.” 3Hy sê egter vir hulle: “Het julle nie gelees wat Dawid gedoen het toe hy honger was nie; hy en die wat saam met hom was; 4hoe hy in die huis van God ingegaan het en die brode van die tafel van יהוה geëet het, wat nie vir hom, of die wat saam met hom was, toegelaat was om te eet nie, maar slegs vir die priesters? 5Of het julle nie in die wet gelees dat, op die Shabbat, die priesters in die tempel die Shabbat nie afsonder en tog onskuldig is nie? 6Ek sê egter vir julle: ‘Een groter as die tempel, is hier,’ 7maar as julle verstaan het wat dit beteken: ‘Ek wil liefdevolle omgee hê en nie offerandes nie,’ sou julle nie die onskuldiges veroordeel het nie,

8want die Seun van die mens is Meester van die Shabbat.”

9Yeshua het daarvandaan weggegaan na hulle bymekaarkomplek toe. 10Daar was ’n persoon met ’n verdroogde hand en hulle het Hom gevra sodat hulle Hom kon aankla en gesê: “Is dit toelaatbaar om op die Shabbat gesond te maak?” 11Hy sê vir hulle: “Wie is daar onder julle wat een skaap het en as dit op die Shabbat in ’n gat val, dit nie sal gryp en dit uithaal nie? 12Hoeveel meer werd is ’n mens dan nie as ’n skaap nie; daarom is dit toelaatbaar om op die Shabbat goed te doen.” 13Toe sê Hy vir daardie man: “Steek jou hand uit!” Hy het dit uitgesteek en dit is genees, net soos die ander een. 14Die Fariseërs het uitgegaan en vergader teen Hom, om Hom te vernietig,

15maar Yeshua het dit geweet en Hy het daarvandaan onttrek en ’n groot klomp mense het saam met Hom gegaan en Hy het hulle almal gesond gemaak 16en hulle gewaarsku om Hom nie bekend te maak nie 17sodat dit wat Yesha’yahu die profeet gesê het, vervul sou word toe hy gesê het:

18“Let op, My Dienskneg in Wie Ek vreugde vind, die Een wat Ek liefhet, waarna My Gees verlang het! Ek sal My Gees op Hom sit en Hy sal oordeel aan die nasies verkondig.

19Hy sal nie stry of uitroep nie en niemand sal Sy stem op die strate hoor nie.

20’n Gekneusde riet sal Hy nie afbreek nie en ’n flikkerende lamp sal Hy nie uitblus nie; Hy sal getrou regverdige oordeel bring en

21in Sy Outoriteit en Karakter (Naam) sal die nasies versekerde verwagting hê.”

22Toe het hulle ’n demoonbesetene wat blind en stom was, na Hom toe gebring en Hy het hom gesond gemaak sodat die blinde en stomme kon sien en praat 23en al die mense was verwonderd en het gesê: “Is Hy nie die Seun van Dawid nie?” 24Toe die Fariseërs dit egter hoor, sê hulle: “Díe Een dryf nie demone uit nie, behalwe deur Ba’al-Z’vuv, die prins van die demone.”

25Yeshua het egter hulle denke geken en vir hulle gesê: “Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, word vernietig en elke stad of huis wat teen homself verdeeld is, sal nie bly staan nie 26en as die teëstander die teëstander uitdryf, dan is hy teen homself verdeeld en hoe kan sy koninkryk dan bly staan? 27As Ek deur Ba’al-Z’vuv die demone uitdryf, deur wie dryf julle seuns hulle uit? Hieroor sal hulle julle regters wees 28en as Ek deur die Gees van God die demone uitdryf, dan het die Koninkryk van God naby julle gekom. 29Of hoe kan iemand in die huis van ’n magtige man ingaan en sy goed plunder, as hy nie eers die magtige man vasgebind het nie? Dán kan hy sy huis plunder.

30Wie ook al nie saam met My is nie, is teen My en hy wat nie saam met My bymekaarmaak nie, jaag uitmekaar.

31As gevolg hiervan sê Ek vir julle: ‘Elke sonde en kwaadpraat sal die mense vergewe word, maar die kwaadpraat teen die Gees sal die mense nie vergewe word nie 32en elkeen wat ’n woord praat teen die Seun van die mens, dit sal hom vergewe word, maar elkeen wat praat teen die Gees van Afsondering, dit sal hom nie vergewe word nie; nie in hierdie wêreld nie en ook nie in die wêreld wat voorberei word nie.’

33Produseer òf soos ’n goeie boom met goeie vrugte, òf soos ’n slegte boom met slegte vrugte, want die boom word aan sy vrugte geken. 34Kinders van adders, hoe is dit moontlik dat julle voordelige dinge kan praat terwyl julle waardeloos is? Want uit die volheid van die verstand, wil en emosie praat die mond. 35Die bruikbare mens bring uit die goeie skat bruikbare dinge te voorskyn en die bose mens bring uit die bose skat bose dinge te voorskyn, 36want Ek sê vir julle dat van elke waardelose woord wat mense praat, sal hulle ’n antwoord moet gee in die oordeelsdag, 37want deur jou woorde sal jy onskuldig beskou word en deur jou woorde sal jy skuldig bevind word.”

38Toe antwoord sommige van die leraars van die wet en Fariseërs en sê vir Hom: “Leermeester, ons wil ’n teken van U sien.” 39Hy antwoord hulle egter en sê: “’n Slegte en hoererende geslag soek na ’n teken en geen teken sal aan dié gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Yonah, 40want net soos Yonah drie nagte en drie dae in die maag van die vis was, net só sal die Seun van die mens drie nagte en drie dae in die middel van die aarde wees. 41Die manne van Ninveh sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel, want hulle het erken en weggedraai van sonde na God toe met die verkondiging van Yonah en meer as Yonah is hier! 42Die koningin van die suide sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel, want sy het gekom van die eindes van die aarde af om die wysheid van Shlomo te hoor en meer as Shlomo is hier!

43Wanneer ’n vuil gees uit die mens uitgegaan het, dwaal hy rond in plekke waar nie water is nie en begeer rus en vind dit nie. 44Dan sê hy: ‘Ek sal teruggaan na my huis vanwaar ek uitgegaan het’ en hy gaan en vind dit leeg, uitgevee en versier. 45Dan gaan hy en bring sewe ander geeste, slegter as hyself, saam met hom en hulle gaan in en woon daar en die einde van daardie mens word erger as die begin. Só sal dit ook met hierdie bose geslag gedoen word.”

46Terwyl Hy nog met die mense praat, staan Sy moeder en broers buite en wou graag met Hom praat 47en iemand sê vir Hom: “Let op, U moeder en U broers is buite en wil graag met U praat,” 48maar Hy antwoord en sê vir die een wat dit vir Hom gesê het: “Wie is My moeder en wie is My broers?” 49Hy steek sy hand na Sy studentevolgelinge uit en sê: “Let op, My moeder en My broers, 50want elkeen wat die wil doen van My Vader wat in die hemel is, dié is My broer en suster en moeder.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Matthew 11
Top of Page
Top of Page