Lukas 21
Afrikaans PWL
1Yeshua het gekyk na die rykes wat hulle offers in die skatkamer gegooi het 2en Hy sien ook ’n arm weduwee wat twee klein geldstukkies (shemonas) ingooi. 3Hy sê: “Die realiteit, sê Ek vir julle, is dat hierdie arm weduwee meer as almal ingegooi het, 4want hulle almal het uit die oorvloed wat hulle het by die offerkamer van God ingegooi, maar sy het uit haar behoefte, alles ingegooi wat sy besit.”

5Toe sommige oor die tempel praat, sy mooi klippe en versierings van geskenke, sê Yeshua vir hulle: 6“Die tyd sal kom dat al hierdie dinge wat julle na kyk afgebreek sal word en daar nie een klip op ’n ander gelaat sal word nie.”

7Hulle vra Hom en sê: “Leermeester, wanneer sal hierdie dinge gebeur en watter teken sal daar wees voor dit gaan gebeur?” 8Hy sê vir hulle: “Pas op dat julle nie mislei word nie, want baie sal in My Outoriteit kom en sê: ‘ אנא אנא - Ek is, was, sal wees Wie Ek is, was, sal wees, Die Gesalfde Een’ en: ‘Die tyd is naby!’ Moenie agter hulle aan gaan nie. 9Wanneer julle hoor van oorloë en onstabiliteit, moenie bang wees nie, want dié dinge moet eers gebeur, maar die einde het nog nie gekom nie.

10Nasie sal opstaan teen nasie en koninkryk teen koninkryk; 11groot aardbewings sal op verskillende plekke wees, hongersnood, epidemies, paniek en angs, daar sal ook groot tekens aan die hemel kom en daar sal groot storms wees,

12maar voor al hierdie dinge sal hulle die hande aan julle slaan en julle vervolg en oorlewer aan vergaderings en tronke en julle voor konings en goewerneurs bring ter wille van My Karakter en Outoriteit (Naam). 13Dit sal met julle gebeur as ’n getuienis. 14Maak dit vas in julle verstand, wil en emosie dat julle nie vooraf geleer sal word oor ’n antwoord nie, 15want Ek sal aan julle ’n mond van wysheid gee waarteen al julle teëstanders nie sal kan staan nie. 16Julle sal egter ook oorgelewer word deur julle ouers, broers, familie en julle vriende en hulle sal sommige van julle doodmaak. 17Julle sal deur almal gehaat word ter wille van My Karakter en Outoriteit (Naam) 18en geen haar van julle kop sal aangeraak word nie. 19Deur julle volharding sal julle jul lewe in besit neem

20en wanneer julle sien dat Yerushalayim omsingel is deur troepe, dan moet julle weet dat sy vernietiging naby is. 21Dan moet die wat in Y’hudah is, na die berge vlug en die wat binne is, ontsnap en die wat in die dorpies is, moenie daar ingaan nie, 22want dit sal die dae van wraak wees sodat alles wat geskrywe is, vervul kan word. 23Wee die vroue wat swanger is en die wat nog borsvoed in daardie dae, want daar sal ’n groot lyding in die land wees en wraak oor hierdie volk. 24Hulle sal deur die punt van die swaard val en as gevangenes weggeneem word na al die streke en Yerushalayim sal vertrap word deur die nasies totdat die vasgestelde tyd van die ander nasies voltooid is.

25Daar sal tekens wees aan die son, aan die maan en aan die sterre en op die aarde: die lyding van nasies en die saamgryp van hande oor die harde dreuning van die see 26en ’n aardbewing wat mense se gees van angs sal uitdryf oor wat oor die aarde gaan kom en die leërmagte van die hemel sal geskud word. 27Dan sal hulle Hom sien; die Seun van die mens wat kom in wolke, met baie kragtige dade en die Gemanifesteerde Teenwoordigheid. 28Wanneer hierdie dinge begin gebeur, wees bemoedig en lig julle koppe op omdat julle verlossing naby is.”

29Hy vertel vir hulle ’n vergelykende storie: “Let op na die vyeboom en al die bome, 30dat, wanneer hulle bot, verstaan julle dadelik van hulle dat die somer naby is, 31net so moet julle ook weet dat die Koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur. 32Dit is waar, Ek sê vir julle, hierdie volksfamilie sal nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie. 33Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar My boodskap sal nooit verbygaan nie,

34maar wees versigtig in julle gees sodat julle verstand, wil en emosie nooit koud word deur brassery, dronkenskap en die bekommernisse van die wêreld en daardie dag julle skielik oorval nie, 35want dit sal soos ’n valstrik kom oor almal wat oral op die aarde woon. 36Wees daarom te alle tye waaksaam en bid sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.”

37Gedurende die dag het Hy lering gegee in die tempel en snags het Hy uitgegaan en oornag op die berg wat die Olyfberg genoem word. 38Al die mense het vroeg in die oggend na die tempel gekom om na Sy boodskap te luister.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Luke 20
Top of Page
Top of Page