Lukas 22
Afrikaans PWL
1Die Fees van Ongesuurde Brode, wat ook Pesag genoem word, was naby 2en die leierpriesters en die leraars van die wet het ’n manier gesoek om Hom dood te maak, maar hulle was bang vir die mense.

3Die teëstander het in Y’hudah, wat K’riot genoem word en een van die twaalf was, ingegaan 4en hy het gegaan en met die leierpriesters, die leraars van die wet en kapteins van die tempelwag gepraat om Hom aan hulle oor te lewer. 5Hulle was verheug en het met hom ooreengekom om vir hom geld te gee 6en hy het ’n ooreenkoms met hulle aangegaan en na ’n geleentheid gesoek, sonder ’n skare, om Hom oor te lewer.

7Die Dag van die ‘Verwydering van Suurdeeg’ het aangebreek waarop dit gebruik was om die Pesaglam te slag 8en Yeshua stuur vir Kefa en Yoganan en sê: “Gaan berei die Pesagete vir ons voor dat ons dit kan eet.” 9Hulle sê vir Hom: “Waar wil U hê moet ons dit voorberei?” 10Hy antwoord hulle: “Let op, wanneer julle die stad ingaan, sal ’n man julle ontmoet wat ’n erdekruik water dra, volg hom 11en waar hy ook al ingaan, sê vir die eienaar van die huis: ‘Ons Leermeester vra: “Is daar ’n kamer waar Ek die Pesagete saam met My studentevolgelinge kan eet”?’ 12Let op, hy sal julle ’n groot bokamer wys wat gemeubeleerd is. Daar moet julle dit voorberei.” 13Hulle het gegaan en dit gevind net soos Hy vir hulle gesê het en die Pesagete voorberei.

14Toe dit tyd was, het Yeshua gekom en aan tafel gaan skuinslê en die twaalf afgevaardigdes saam met Hom 15en Hy sê vir hulle: “Ek het met ’n groot begeerte begeer om hierdie Pesagete, voor My lyding, saam met julle te eet, 16want Ek sê vir julle: ‘Ek sal nie weer daarvan eet voordat dit in die Koninkryk van God volledige betekenis kry nie’.” 17Hy vat ’n beker, dank en sê: “Vat dit en verdeel dit onder julle, 18want Ek sê vir julle: Ek sal nie weer drink van die vrug van die wingerd totdat die Koninkryk van God gekom het nie.” 19Hy neem brood en nadat Hy die dankgebed daaroor gebid het, breek Hy dit, gee dit aan hulle en sê: “Dít is My liggaam, wat in die plek van julle lewens gegee word; hierdie moet julle doen tot My gedagtenis.” 20Net so ook vir die beker ná die ete sê Hy: “Hierdie beker is die nuwe verbond in My bloed, wat om julle onthalwe gestort sal word. 21Nogtans, let op, die hand van hom wat My uitlewer, is aan tafel. 22Die Seun van die mens gaan wél, soos wat bepaal is, oorgelewer word; tóg, wee daardie man deur wie Hy oorgelewer word!” 23Toe begin hulle onder mekaar vra; wie van hulle kon tog beplan om dit te doen,

24maar daar het ook ’n bakleiery onder hulle ontstaan oor wie van hulle as groot beskou word. 25Yeshua sê vir hulle: “Die konings van die nasies is baas oor hulle en die wat hulle beheer, word weldoeners genoem, 26maar so moet julle nie wees nie. Die grootste onder julle moet word soos die kleinste en wie ’n leier is, soos een wat bedien, 27want wie is groter: die een wat aan tafel is, of die een wat bedien? Is dit nie hy wat aan tafel is nie? Ek self is egter onder julle soos Een wat bedien.

28Dit is julle wat volhardend by My gebly het deur My toetsinge 29en Ek belowe julle ’n Koninkryk, net soos My Vader My belowe het 30sodat julle kan eet en drink aan My tafel in My Koninkryk en op trone sit om die twaalf stamme van Yisra’el te oordeel.”

31Yeshua sê vir Shim’on: “Shim’on, let op, die teëstander het gevra om julle soos graan te sif, 32maar Ek het vir jou gebid dat jou vertroue nie sal faal nie en as jy die dag herstel is, moet jy jou broers versterk.” 33Shim’on sê vir Hom: “My Meester, ek is gereed om saam met U in die tronk en in die dood in te gaan.” 34Yeshua sê vir hom: “Ek sê vir jou, Shim’on, die haan sal vandag nie kraai voordat jy drie maal ontken het dat jy My ken nie.”

35Hy sê vir hulle: “Toe Ek julle uitgestuur het sonder beursie, reissak of skoene, het julle enige tekort gehad?” Hulle antwoord: “Niks nie.” 36Toe sê Hy vir hulle: “Van nou af, wie ’n beursie het, laat hom dit vat en so ook ’n reissak en wie nie ’n swaard het nie, moet sy baadjie verkoop en ’n swaard koop, 37want Ek sê vir julle dat ook dit wat geskrywe is in My vervul moet word: ‘En Hy is saam met wetsoortreders gereken,’ want alles aangaande My, sal gebeur.” 38Hulle sê vir Hom: “Ons Meester, let op, hier is twee swaarde.” Hy antwoord hulle: “Dis nou genoeg!”

39Hy het uitgegaan en volgens gewoonte na die Olyfberg gegaan. Sy studentevolgelinge het Hom ook gevolg. 40Toe Hy aankom op die plek, sê Hy vir hulle: “Bid dat julle nie getoets word nie.” 41Hy het Hom ’n klipgooi ver van hulle af onttrek, neergekniel, gebid 42en gesê: “Vader, as U so wil, neem hierdie beker van My af weg! Laat dit nogtans wees volgens U wil en nie Myne nie!” 43’n Engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk 44en in spanningsangs het Hy meer intens gebid en Sy sweet was soos bloeddruppels en Hy het op die grond neergeval. 45Hy het opgestaan van Sy gebed af en by Sy studentevolgelinge gekom en hulle aan die slaap gevind van angs 46en Hy sê vir hulle: “Hoekom slaap julle? Staan op en bid dat julle nie getoets word nie.”

47Terwyl Hy nog praat, let op, kom daar ’n groep mense en hy wat Y’hudah genoem word, een van die twaalf, het voor hulle uitgeloop na Yeshua toe en Hom gesoen, as ’n teken wat hy vir hulle gegee het: “Wie ek ook al soen, dit is Hy.” 48Yeshua sê vir hom: “Y’hudah, verraai jy die Seun van die mens met ’n soen?” 49Toe die wat by Hom was, sien wat gaan gebeur, sê hulle vir Hom: “Ons Meester, moet ons hulle met swaarde neerslaan?” 50Een van hulle het die slaaf van die hoofpriester geslaan en sy regteroor afgesny, 51maar Yeshua het geantwoord en gesê: “Genoeg vir nou!” Hy het die oor van die een wat gewond is, aangeraak en hom gesond gemaak. 52Yeshua sê vir hulle wat na Hom toe gekom het, die leierpriesters, oudstes en kaptein van die tempelwagte: “Het julle opgetrek teen My soos teen ’n rower met swaarde en knopkieries om My te vang? 53Elke dag was Ek saam met julle in die tempel en julle het nie die hande aan My geslaan nie, maar hierdie is julle en die prins van die duisternis se uur.”

54Hulle het Hom gevang en Hom gebring in die huis van die hoofpriester, maar Shim’on het op ’n afstand gevolg. 55Hulle het ’n vuur in die middel van die binneplaas aangesteek en om dit gaan sit en Shim’on het saam met hulle gesit. 56’n Sekere slavin het hom by die vuur sien sit en nadat sy hom stip aangekyk het, sê sy: “Hierdie man was ook saam met Hom.” 57Hy het dit ontken en gesê: “Vrou, ek ken Hom nie.” 58Kort daarna sien ’n ander een hom en sê: “Jy is ook een van hulle.” Kefa antwoord egter: “Ek is nie.” 59Ná ongeveer ’n uur het ’n ander een daaroor gestry en gesê: “Sekerlik, hierdie man was ook saam met Hom, want hy is ook van die Galil.” 60Kefa antwoord: “Man, ek weet nie wat jy sê nie.” Onmiddellik toe hy praat, het ’n haan gekraai. 61Yeshua het omgedraai en na Kefa gekyk en Shim’on het die woord van ons Meester onthou wat Hy vir hom gesê het: “Voordat die haan kraai, sal jy My drie maal ontken.” 62Shim’on het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil.

63Die manne wat Yeshua gevange gehou het, het Hom gespot, toegegooi, 64in Sy gesig geslaan en gesê: “Profeteer wie dit is wat U geslaan het.” 65Hulle het ook baie ander bose dinge teen Hom gesê.

66Toe die dag breek, het die oudstes van die volk, die leierpriesters en die leraars van die wet vergader en Hom na die plek van hulle Raad gebring 67en vir Hom gevra: “As U Die Gesalfde Een is, sê vir ons.” Hy antwoord hulle: “As Ek julle antwoord, sal julle My nie glo nie 68en ook as Ek vra, sal julle My nie antwoord of loslaat nie. 69Van nou af aan sal die Seun van die mens sit aan die regterhand van Die Krag (HaG’vurah) van God,” 70Hulle vra almal: “Is U daarom die Seun van God?” Yeshua sê vir hulle: “Julle sê self אנא אנא - Ek is, was, sal wees Wie Ek is, was, sal wees.” 71Hulle het gesê: “Hoekom het ons nog getuies nodig, want ons het dit self uit Sy mond gehoor.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Luke 21
Top of Page
Top of Page