Lukas 20
Afrikaans PWL
1Dit was in een van die dae terwyl Hy besig was om die mense in die tempel te leer en om versekerde verwagting te verkondig, dat die leierpriesters en die leraars van die wet saam met die oudstes om Hom staan 2en hulle vir Hom sê: “Sê vir ons met watter outoriteit U hierdie dinge doen en wie dit is wat vir U hierdie outoriteit gegee het?” 3Yeshua antwoord en sê vir hulle: “Ek sal julle ook een ding vra: ‘Sê vir My: 4Die doop van Yoganan; was dit vanuit die hemel of vanuit mense’?” 5Toe het hulle onder mekaar geredeneer en gesê: “As ons sê: ‘Vanuit die hemel,’ sal Hy sê: ‘Waarom het julle hom dan nie vertrou nie?’ 6As ons sê: ‘Vanuit mense,’ sal al die mense ons stenig, want hulle is daarvan oortuig dat Yoganan ’n profeet was.” 7Hulle antwoord Hom: “Ons weet nie van waar dit is nie.” 8Yeshua sê vir hulle: “Dan sê Ek ook nie vir julle deur watter outoriteit Ek hierdie dinge doen nie.”

9Hy begin om vir die mense hierdie gelykenis te vertel: “’n Sekere man het ’n wingerd geplant en dit aan werkers oorhandig en vir ’n lang tyd na ’n ander land gegaan. 10In die seisoen het hy ’n slaaf na die werkers toe gestuur sodat hulle hom van die vrug van die wingerd sou gee, maar die werkers het hom geslaan en kaal gestroop weggestuur. 11Hy het weer ’n ander slaaf gestuur en hulle het hom net so geslaan, onteer en hom kaal weggestuur. 12Hy het weer ’n derde gestuur en hulle het ook hierdie een gewond en uitgegooi. 13Die eienaar van die wingerd sê: ‘Wat sal ek doen? Ek sal my seun stuur vir wie ek lief is; sonder twyfel sal hulle hom sien en skaam wees.’ 14Toe die werkers hom sien, het hulle ondermekaar bespreek en gesê: ‘Dit is die erfgenaam; kom laat ons hom doodmaak sodat die erfporsie ons s’n kan wees.’ 15Hulle het hom buitekant, uit die wingerd gegooi en hom vermoor. Wat sal die eienaar van die wingerd daarom aan hulle doen? 16Hy sal kom en daardie werkers vernietig en die wingerd aan ander gee.” Toe hulle dit hoor, sê hulle: “’n Verwerplike gedagte!”

17Hy het na hulle gekyk en gesê: “Wat beteken dan hierdie woord wat geskryf is: die Steen wat die bouers verwerp het, dit het die Hoof Hoeksteen geword?

18Elkeen wat oor hierdie steen val, sal gebreek word, maar elkeen op wie dit val, dié sal hy uitmekaar laat spat.”

19Die leierpriesters en die leraars van die wet wou op daardie oomblik die hande op Hom kry, want hulle het geweet dat Hy hierdie vergelykende storie op hulle gerig het, maar hulle was bang vir die mense 20en hulle het spioene gestuur wat voorgegee het om onskuldig te wees sodat hulle Hom op ’n woord kon betrap, om Hom oor te lewer aan die regter en aan die outoriteit van die goewerneur. 21Hulle het Hom gevra en gesê: “Leermeester, ons weet dat U reg praat en leer en die persoon nie aanneem nie, maar die ware pad van God leer, 22is dit volgens die wet vir ons om aan die keiser belasting te betaal of nie?” 23Hy het egter deur hulle listigheid gesien en vir hulle gesê: “Waarom toets julle My? 24Wys My ’n denarion. Wie se beeld en naam het dit op?” Hulle antwoord en sê: “Die keiser s’n.” 25Yeshua sê vir hulle: “Gee dan aan die keiser wat die keiser s’n is en aan God wat God s’n is.” 26Hulle kon Hom nie voor die mense op ’n woord betrap nie en verwonderd oor Sy antwoord, het hulle stilgebly.

27Sommige van die Sadduseërs het gekom, hulle wat sê daar is geen opstanding nie en Hom gevra 28en vir Hom gesê: “Leermeester, Moshe het vir ons geskryf: ‘As iemand se broer doodgaan en ’n vrou agterlaat sonder seuns, dan moet sy broer die vrou neem en vir sy broer ’n seun verwek.’ 29Nou, daar was sewe broers en die eerste het die vrou gevat en kinderloos gesterf. 30Die tweede het sy vrou gevat en hy het ook kinderloos gesterf 31en die derde het haar ook gevat en net so het al sewe gesterf en geen kinders nagelaat nie. 32Ten laaste het die vrou ook gesterf. 33In die opstanding dan, wie van hulle se vrou sal sy wees aangesien al sewe met haar getrou het?”

34Yeshua sê vir hulle: “Die seuns van hierdie wêreld vat vrou en vrouens word vir mans gegee, 35maar die wat waardig geag word vir daardie wêreld en vir die opstanding uit die dood, vat nie dan vrou nie en vrouens is nie vir mans nie, 36want hulle kan ook nie meer sterf nie, want omdat hulle kinders van die opstanding is, is hulle soos die engele en ook kinders van God. 37Ook Moshe het by die doringstruik verklaar dat die wat dood is, opstaan toe hy יהוה die God van Avraham, die God van Yitz’gak en die God van Ya’akov Eks 3:6 genoem het. 38Hy is tog nie ’n God van dooies nie, maar van lewendes, want almal van hulle is lewend vir Hom.” 39Sommige van die leraars van die wet antwoord en sê: “Leermeester, U het goed geantwoord.” 40Hulle het nie gewaag om Hom enige iets meer te vra nie.

41Hy sê vir hulle: “Hoe is dit dat die leraars van die wet sê dat Die Gesalfde Een die seun van Dawid is?

42Dawid self sê in die boek van die Psalms: ‘יהוה het vir my Meester gesê: Sit aan My regterhand

43totdat Ek U vyande onder U voete geplaas het.’ 44As Dawid Hom daarvolgens, my Meester noem, hoe is Hy sy seun?”

45Terwyl al die mense luister, sê Hy vir Sy studentevolgelinge: 46“Wees versigtig vir daardie leraars van die wet wat graag in lang klere rondloop en hou van hartlike groete in openbare plekke en van die beste sitplekke in die bymekaarkomplekke en die beste plekke by die feeste. 47Hulle wat die huise van die weduwees onteien as ’n offer om hulle gebede op te sê, sal ’n erger oordeel ontvang.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Luke 19
Top of Page
Top of Page