Lukas 19
Afrikaans PWL
1Toe Yeshua Yerigo ingegaan het en besig was om deur te loop, 2het ’n sekere man met die naam van Zakkai, ’n ryk man en hoof van die belastinggaarders, 3begeer om te sien wie Yeshua was, maar as gevolg van die mense kon hy nie, want Zakkai was kort. 4Hy het vooruit gehardloop en in ’n wildevyeboom geklim sodat hy Yeshua kon sien, want Hy sou daar verbygaan. 5Toe Hy op daardie plek kom, sien Yeshua hom en sê vir hom: “Zakkai, maak gou en klim af, want Ek moet vandag in jou huis bly.” 6Hy het haastig afgeklim en Hom ontvang terwyl hy hom verheug 7en almal wat dit gesien het, het gemurmureer en gesê: “Hy het by ’n sondige man ingegaan en gebly.” 8Zakkai het opgestaan en vir Yeshua gesê: “My Meester, let op, die helfte van my besittings gee ek vir die armes en aan elkeen van wie ek iets gevat het, gee ek dit vierdubbel terug.” 9Yeshua sê vir hom: “Vandag het daar lewe na hierdie huis toe gekom omdat hierdie man ook ’n seun van Avraham is, 10want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore is.”

11Terwyl hulle na hierdie dinge luister, het Hy ook ’n vergelykende storie bygevoeg omdat Hy Yerushalayim genader het en hulle verwag het dat die Koninkryk van God op die punt was om openbaar te word. 12Hy het gesê: “’n Man van hoë stand het na ’n ver land gereis om ’n koningskap te ontvang en dan terug te kom 13en hy roep tien van sy slawe, gee vir hulle tien manim en sê vir hulle: ‘Dryf handel totdat ek kom.’ 14Die mense van sy stad het hom egter gehaat en afgevaardigdes agter hom aangestuur om te sê: ‘Ons wil nie hê dat hierdie man koning oor ons moet wees nie.’ 15Toe hy terugkom nadat hy die koningskap ontvang het, sê hy dat daardie slawe aan wie hy die geld gegee het, na hom toe moes kom sodat hy kon weet watter wins elkeen deur handel verdien het. 16Die eerste het nadergekom en gesê: ‘My meester, u maneh het tien manim wins gemaak.’ 17Hy sê vir hom: ‘Uitstekend, goeie slaaf. Omdat jy in die kleinste ding betroubaar was, ontvang jy outoriteit oor tien stede.’ 18Die tweede kom en sê: ‘My meester, u maneh het vyf manim bygevoeg.’ 19Hy sê ook vir hierdie een: ‘Jy sal heerser wees oor vyf stede.’ 20’n Ander een kom en sê: ‘My meester, let op, u maneh wat ek gehad het, het ek in fyn linne bewaar, 21want ek was bang vir u aangesien u ’n strawwe man is. U vat wat u nie gegee het nie en oes wat u nie gesaai het nie.’ 22Hy sê vir hom: ‘Uit jou mond sal ek jou oordeel, bose slaaf! Jy het geweet dat ek ’n strawwe man is wat vat wat ek nie gegee het nie en oes wat ek nie gesaai het nie. 23Waarom het jy dan nie my geld in die bank gesit nie? Dan kon ek dit by my koms met rente ingevorder het.’ 24Aan die wat by hom staan, sê hy: ‘Neem die maneh van hom af weg en gee dit aan hom wat tien manim het.’ 25Hulle sê vir hom: ‘Ons meester, hy het tien manim!’ 26Hy sê vir hulle: ‘Aan elkeen wat het, sal gegee word, maar van hom wat nie het nie, sal weggeneem word, ook wat hy het.’ 27‘Meer nog, bring daardie teëstanders van my, wat nie wou hê dat ek oor hulle moes heers nie, hier en maak hulle voor my dood.’”

28Toe Yeshua dit gesê het, gaan Hy uit na hulle wat voor Hom uitgaan na Yerushalayim

29en toe Hy naby Beit-Pagei en Beit-Anyah kom, langs die berg wat D’Beit-Tzaida (Olyfberg) genoem word, het Hy twee van Sy studentevolgelinge uitgestuur 30en Hy sê vir hulle: “Gaan na die dorp wat reg oorkant ons is en as julle inkom, let op, julle sal ’n vul vind wat vasgemaak is, waarop geen mens nog ooit gery het nie. Maak hom los en bring hom. 31As iemand julle vra: ‘Waarom maak julle hom los?’ moet julle sê dat hy nodig is vir ons Meester.” 32Die wat gestuur was, gaan toe en vind dit net soos Hy vir hulle gesê het. 33Toe hulle die vul losmaak, sê die eienaars vir hulle: “Waarom maak julle die vul los?” 34Hulle sê vir hulle: “Ons Meester het hom nodig.” 35Hulle bring hom na Yeshua toe, lê hulle klere op die vul en laat Yeshua daarop sit. 36Soos Hy ry, strooi hulle hul klere op die pad. 37Toe Hy reeds naby die afdraend van die Olyfberg is, begin die groot groep studentevolgelinge God luidkeels met blydskap prys oor al die wonderdade wat hulle gesien het,

38terwyl hulle sê: “Geseënd is die Koning wat kom in die Karakter en Outoriteit van יהוה, vrede in die hemel en eer, lof en aanbidding in die hoogste hemel!”

39Sommige van die Fariseërs tussen die mense sê vir Hom: “Leermeester, bestraf U studentevolgelinge!” 40Hy antwoord en sê vir hulle: “Ek sê vir julle, as hulle stilbly, sal die klippe hardop uitroep.”

41Toe Hy naby kom en die stad sien, het Hy daaroor gehuil 42en gesê: “As jy tog maar dit wat nodig is vir jou vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid geken het, ook in hierdie dag van jou, maar nou is dit vir jou oë weggesteek, 43want daar sal dae oor jou kom dat jou vyande jou sal omsingel en jou sal indruk van alle kante af. 44Hulle sal jou en jou kinders in jou, vernietig en hulle sal in jou nie een klip op ’n ander laat bly nie omdat jy die gekose tyd van jou besoek, nie geken het nie.”

45Toe Hy in die tempel ingegaan het, het Hy begin om die verkopers en kopers uit te jaag. 46Hy sê vir hulle: “Daar is geskrywe: ‘My huis is ’n huis van gebed, maar julle het dit ’n grot vir rowers gemaak’.”

47Hy was elke dag besig om in die tempel te leer en die leierpriesters en die leraars van die wet het saam met die oudstes van die volk geleentheid gesoek om Hom dood te maak 48en hulle het geen manier gevind om dit te doen nie, want al die mense het Hom aangehang en na Hom geluister.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Luke 18
Top of Page
Top of Page