Rigters 6
Afrikaans PWL
1Toe het die seuns van Yisra’el gedoen wat boos was in die oë van יהוה en יהוה het hulle vir sewe jaar lank in die hand van Midyan oorgegee. 2Die krag van Midyan het die oorhand oor Yisra’el gekry. As gevolg van Midyan het die seuns van Yisra’el vir hulle skuilings, wat in die berge, die grotte en die vestings is, gemaak, 3want dit was wanneer Yisra’el gesaai het dat die Midyaniete, saam met die `Amalekiete en die seuns van die Ooste teen hulle opgetrek het. 4Só het hulle teen hulle gekamp en die opbrengs van die land verwoes so ver as tot by `Azah en geen lewensmiddele, sowel as geen skaap, bees of donkie, in Yisra’el gelos nie, 5want hulle het met hulle vee en hul tente opgetrek en gekom soos sprinkane in getal; beide hulle en hul kamele was ontelbaar en hulle het in die land ingekom om dit te verwoes. 6Yisra’el is verneder as gevolg van Midyan en die seuns van Yisra’el het na יהוה uitgeroep.

7Nou, dit het gebeur toe die seuns van Yisra’el uitgeroep het na יהוה vanweë Midyan 8dat יהוה ’n profeet na die seuns van Yisra’el gestuur het en hy het vir hulle gesê: “So sê יהוה, die God van Yisra’el: ‘Dit was Ek wat julle gebring het vanuit Mitzrayim en julle uit die huis van slawerny uitgebring het. 9Ek het julle bevry uit die hand van die Mitzrayiete en uit die hand van al julle onderdrukkers en hulle voor julle uit onteien en hulle land vir julle gegee 10en Ek het vir julle gesê: ‘Ek is יהוה, julle God; julle mag die gode van die Emoriete, in wie se land julle bly, nie vrees nie, maar julle het My nie gehoorsaam nie.’”

11Toe het die boodskapper van יהוה gekom en gaan sit onder die eikeboom wat by `Ofrah staan, wat aan Yo’ash, die Avi’ezriet, behoort het terwyl sy seun Gid’on koring uitgeslaan het in die parskuip om dit te red van die Midyaniete. 12Die engel van יהוה het aan hom verskyn en vir hom gesê: “יהוה is met jou, dapper soldaat!” 13Toe sê Gid’on vir Hom: “Ag, my meester, as יהוה met ons is, waarom het al hierdie dinge met ons gebeur? Waar is al Sy wonderwerke waarvan ons vaders ons vertel het, deur te sê: ‘Het יהוה ons nie opgebring uit Mitzrayim uit nie?’ Nou het יהוה ons egter alleen gelos en ons oorgegee in die hand van Midyan.” 14יהוה het na hom gekyk en gesê: “Gaan in hierdie krag van jou en bevry Yisra’el uit die hand van Midyan. Het Ek jou nie gestuur nie?” 15Hy sê vir Hom: “Ag, יהוה, hoe sal ek Yisra’el bevry? Let op, my familie is die minste in M’nasheh en ek is die jongste in my vader se huis.” 16יהוה sê egter vir hom: “Ek sal sekerlik by jou wees en jy sal Midyan soos een man verslaan.”

17Gid’on sê vir Hom: “As ek nou guns in U oë gevind het, wys vir my ’n teken dat dit U is wat met my praat. 18Gaan asseblief nie hiervandaan weg voordat ek by U kom en my offer uitbring en voor U neersit nie.” Hy sê: “Ek sal bly totdat jy terugkom.”

19Toe het Gid’on ingegaan en ’n jong bokkie en ongesuurde brood, van ’n efa meel, voorberei; hy het die vleis in ’n mandjie en die sous in ’n pot gesit en hy het dit na Hom toe uitgebring onder die eikeboom en dit aangebied. 20Die engel van God het vir hom gesê: “Vat die vleis en die ongesuurde brood en sit dit op hierdie rots neer en gooi die sous uit.” Hy het so gedoen. 21Toe steek die engel van יהוה die punt van die staf, wat in Sy hand was, uit en raak die vleis en die ongesuurde brood aan en vuur spring op uit die rots en verteer die vleis en die ongesuurde brood. Toe het die engel van יהוה verdwyn voor sy oë. 22Toe Gid’on sien dat Hy die engel van יהוה was, sê hy: “Helaas, Meester יהוה, want nou het ek die engel van יהוה gesien van gesig tot gesig!” 23יהוה sê vir hom: “Vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid vir jou! Moenie vrees nie! Jy sal nie sterf nie.”

24Toe bou Gid’on daar ’n altaar vir יהוה en noem dit: “יהוה is (Shalom) Vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid!” Dit is vandag nog daar by `Ofrah van die Avi’ezriete.

25In dieselfde nag het יהוה vir hom gesê: “Vat jou vader se jong bul en ’n tweede bul van sewe jaar oud en trek die altaar van Ba’al om wat aan jou vader behoort en kap die Asherah (afgesonderde paal) af wat langs dit is 26en bou vir יהוה, jou God, ’n altaar bo-op die top van hierdie vesting op ’n ordelike wyse en vat die tweede bul en offer ’n brandoffer met die hout van die Asherah wat jy moet afkap.” 27Toe het Gid’on tien man van sy diensknegte gevat en gedoen soos יהוה vir hom gesê het en omdat hy te bang was vir sy vader se huishouding en vir die manne van die stad, om dit in die dag te doen, het hy dit in die nag gedoen.

28Toe die manne van die stad die oggend vroeg opstaan, let op, die altaar van Ba’al is omgegooi en die Asherah wat langs dit was, is afgekap en die tweede bul is geoffer op die altaar wat daar gebou is! 29Hulle het vir mekaar gesê: “Wie het hierdie ding gedoen?” Toe hulle ondersoek doen en uitvra, sê hulle: “Gid’on, die seun van Yo’ash het hierdie ding gedoen!” 30Toe sê die manne van die stad vir Yo’ash: “Bring jou seun uit, hy moet sterf omdat hy die altaar van Ba’al omgegooi het en inderdaad omdat hy die afgesonderde boomstam wat langs dit was, afgekap het.” 31Yo’ash sê egter vir almal wat teenoor hom staan: “Wil júlle vir Ba’al veg, of wil julle hom bevry? Wie ook al vir hom pleit, sal teen die oggend doodgemaak word. As hy ’n god is, laat hy vir homself veg omdat iemand sy altaar afgebreek het.” 32Hy het hom daarom op daardie dag Yeruba’al genoem, dit is te sê: “Laat Ba’al teen hom veg” omdat hy sy altaar afgebreek het.

33Toe het al die Midyaniete, die `Amalekiete en die seuns van die Ooste hulleself bymekaargebring en oorgetrek en in die vallei van Yizre’el gekamp. 34Die Gees van יהוה het op Gid’on gekom en hy het op die ramshoring geblaas en Yizre’el het sy goedkeuring uitgeskreeu. 35Hy het boodskappers regdeur M’nasheh gestuur en hulle is ook bymekaar geroep om hom te volg; hy het ook boodskappers na Asher, Z’vulun en Naftali gestuur en hulle het opgekom om hom te ontmoet.

36Toe sê Gid’on vir God: “As U Yisra’el deur my sal bevry, soos U gesê het, 37let op, ek sal ’n wolvlies op die dorsvloer neerlê. As daar net op die vlies dou is en al die grond droog is, dan sal ek weet dat U Yisra’el deur my sal bevry, soos U gesê het.” 38Dit was so. Toe hy vroeg die volgende oggend opstaan en die vlies uitwring het hy ’n kom vol water van die dou uit die vlies uitgedruk. 39Toe sê Gid’on vir God: “Laat U woede nie teen my ontvlam nie dat ek nog ’n keer mag praat; laat my asseblief nog ’n toets doen met die vlies; laat dit nou op die vlies alleen droog wees en laat daar oral op al die grond dou wees.” 40יהוה het so gedoen daardie nag: dit was droog op die vlies alleen en oral op die grond was daar dou.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Judges 5
Top of Page
Top of Page