Rigters 7
Afrikaans PWL
1Toe het Yeruba’al, (dit is Gid’on) en al die manne wat by hom was, vroeg opgestaan en langs `Ein-Harod gekamp en die kamp van Midyan was aan hulle noordekant by die heuwel Moreh, in die vallei.

2יהוה sê vir Gid’on: “Die manne wat by jou is, is te veel vir My om Midyan in hulle hand te gee, want Yisra’el sal roem deur te sê: ‘My eie krag het my bevry.’ 3Kom daarom, verklaar ten aanhore van die manne en sê: ‘Wie ook al bang is en bewe, laat hulle teruggaan en wegdraai van die berg Gil’ad af.’” Twee en twintig duisend manne het teruggegaan, maar tien duisend het oorgebly.

4Toe sê יהוה vir Gid’on: “Die manne is nog te veel; bring hulle af na die water en Ek sal hulle daar vir jou toets. Dit sal daarom wees dat hy van wie Ek vir jou sê: ‘Hierdie een moet saam met jou gaan,’ hy moet saam met jou gaan, maar elkeen van wie Ek vir jou sê: ‘Hierdie een moenie saam met jou gaan nie,’ hy moenie gaan nie.” 5Hy bring toe die manne af na die water en יהוה sê vir Gid’on: “Elkeen wat met sy tong die water oplek soos wat ’n hond lek, moet jy bymekaar laat staan; sowel as elkeen wat kniel om te drink, moet bymekaar staan.” 6Nou, die aantal van die wat opgelek het deur hulle hand na hulle mond toe te bring, was drie honderd man, maar al die res van die manne het gekniel om te drink. 7יהוה sê vir Gid’on: “Deur die drie honderd man wat gelek het, sal Ek julle bevry en die Midyaniete in julle hande gee; laat dus al die ander manne gaan, elkeen na sy huis toe.” 8Die 300 man vat die manne se kosvoorraad en hulle ramshorings in hul hand en Gid’on het al die ander manne van Yisra’el weggestuur, elkeen na sy tent, maar die drie honderd man het hy behou en die kamp van Midyan was onder hom in die vallei.

9Nou dieselfde nag het dit gebeur dat יהוה vir hom gesê het: “Staan op, gaan af teen die kamp, want Ek het dit in jou hand gegee, 10maar as jy bang is om af te gaan, gaan saam met jou dienskneg Purah af na die kamp toe 11en jy sal hoor wat hulle sê en daarna sal jou hande sterk gemaak word sodat jy teen die kamp kan aftrek.” Hy gaan toe af saam met Purah, sy dienskneg, tot by die buiteposte van die leër wat in die kamp was. 12Nou die Midyaniete, `Amalekiete en al die seuns van die Ooste het in die laagte gelê, soveel soos sprinkane en hulle kamele was ontelbaar soos die sand aan die seestrand. 13Toe Gid’on aankom, let op, ’n man het sy droom vir ’n ander vertel en hy het gesê: “Let op, ek het ’n droom gehad: ’n garsbrood het in die kamp van Midyan ingetuimel en gekom tot by die tent en dit geslaan sodat dit omval en onderstebo draai en die tent plat lê!” 14Sy vriend het geantwoord: “Dit is niks minder as die swaard van Gid’on, die seun van Yo’ash, die Yisra’eliet, nie; God het Midyan en die hele kamp in sy hand gegee.”

15Toe Gid’on die verhaal van die droom en sy uitleg hoor, het hy neergebuig in aanbidding. Hy het teruggegaan na die kamp van Yisra’el en gesê: “Staan op, want יהוה het die kamp van Midyan in julle hand gegee.” 16Hy het die drie honderd man verdeel in drie afdelings en ramshorings en leë kruike in almal se hande gesit, met fakkels binne-in die kruike. 17Hy het vir hulle gesê: “Kyk na my en maak net so en let op, wanneer ek by die buitelyn van die kamp kom, moet julle maak net soos ek maak. 18Wanneer ek en almal wat by my is, op die ramshoring blaas, moet julle ook op die ramshorings blaas reg rondom die kamp en sê: “Vir יהוה en vir Gid’on!”

19Gid’on en die honderd man wat by hom was, het by die buitelyn van die kamp gekom, aan die begin van die middelste nagwaak, toe hulle net die wagte uitgesit het. Hulle het die ramshorings geblaas en die kruike stukkend geslaan wat in hul hande was. 20Toe die drie afdelings op die ramshorings blaas en die kruike breek, hou hulle die fakkels in hul linkerhand en die ramshorings in hulle regterhand om te blaas terwyl hulle uitroep: “’n Swaard vir יהוה en vir Gid’on!” 21Elkeen het op sy plek bly staan rondom die kamp terwyl die hele leër al skreeuend hardloop in hulle vlug. 22Toe hulle drie honderd ramshorings blaas, het יהוה die swaard van die een teen die ander gerig, deur die hele leër en die leër het gevlug sover as Beit-Sheetah, in die rigting van Tz’rerah, so ver as tot by die grens van Avel-M’golah by Tabbat. 23Die manne van Yisra’el uit Naftali, Asher en uit die hele M’nasheh is opgeroep en hulle het Midyan agtervolg.

24Gid’on het boodskappers deur die hele Bergland van Efrayim gestuur en gesê: “Kom af teen Midyan en beset die waterpunte voor hulle, so ver as tot by Beit-Barah en die Yarden.” So is al die manne van Efrayim bymekaargeroep en hulle het die waterpunte beset tot by Beit-Barah en die Yarden. 25Hulle het die twee leiers van Midyan gevang, `Orev en Ze’ev en hulle het `Orev by die rots van `Orev doodgemaak en Ze’ev by die parskuip van Ze’ev terwyl hulle Midyan agtervolg het en hulle het die koppe van `Orev en Ze’ev van oorkant die Yarden af, na Gid’on toe gebring.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Judges 6
Top of Page
Top of Page