Johannes 19
Afrikaans PWL
1Toe laat Pilatos vir Yeshua gésel. 2Die soldate het ’n kroon van dorings gevleg, dit op Sy kop gesit en vir Hom ’n pers kleed aangetrek 3en gesê: “Wees gegroet, Koning van die Jode.” Hulle het Hom in die gesig geklap. 4Pilatos gaan toe weer na buite en sê vir hulle: “Let op, ek bring Hom vir julle uit na buite sodat julle kan weet dat ek in Hom geen skuld vind nie, niks nie.” 5Yeshua het uitgekom na buite toe en die doringkroon en die pers kleed gedra en Pilatos sê vir hulle: “Let op, hier is die Man!” 6Toe die leierpriesters en die wagte Hom sien, skree hulle en sê: “Kruisig Hom, kruisig Hom!” Pilatos sê vir hulle: “Vat julle Hom en maak Hom dood aan ’n kruis, want ek vind geen skuld in Hom nie.” 7Die Jode antwoord hom: “Ons het ’n wet en volgens ons wet moet Hy doodgemaak word omdat Hy Homself die Seun van God gemaak het.”

8Toe Pilatos dit hoor, het hy nog banger geword 9en weer in die kantore ingegaan en vir Yeshua gevra: “Van waar is U?” Yeshua het hom egter geen antwoord gegee nie. 10Hierop sê Pilatos vir Hom: “Praat U nie met my nie? Weet U nie dat ek outoriteit het om U dood te maak aan die kruis en outoriteit het om U los te laat nie?” 11Yeshua antwoord: “U sou geen outoriteit oor My hê as dit nie van bo vir u gegee is nie; daarom het hy wat My aan u oorgee, groter sonde as u.” 12Hierop het Pilatos probeer om Hom los te laat, maar die Jode het geskree en gesê: “As u Hom loslaat, is u nie die keiser se vriend nie. Elkeen wat homself koning maak, is in opstand teen die keiser.”

13Toe Pilatos dit hoor, het hy Yeshua buitentoe gebring en op die regterstoel gaan sit in die plek wat Plaveisel genoem word, maar in Hebreeus ‘Gabta.’ 14Dit was omtrent sesuur (dagbreek) en die voorbereiding vir die Pesag en hy sê vir die Jode: “Let op, hier is julle Koning!” 15Hulle roep egter uit: “Vat Hom weg, vat Hom weg, kruisig Hom, kruisig Hom!” Pilatos vra vir hulle: “Moet ek julle Koning kruisig?” Die leierpriesters antwoord: “Ons het geen koning behalwe die keiser nie.”

16Toe het hy Hom aan hulle oorgegee om aan ’n kruis doodgemaak te word. Hulle het Yeshua gevat en Hom weggelei.

17Hy het Sy kruishout gedra en uitgegaan na die plek wat Skedel (Ar. Qaraqpatha) genoem word; in Hebreeus: Gagulta, 18waar hulle Hom doodgemaak het aan ’n kruis en saam met Hom twee ander; een aan elke kant en Yeshua in die middel. 19Pilatos het ook ’n opskrif geskryf en dit op die paal gesit. Daar is geskryf: YESHUA, VAN NATZERET, DIE KONING VAN DIE JODE. 20Baie van die Jode het hierdie opskrif gelees omdat die plek waar Yeshua aan die kruis gehang het, naby die stad was. Dit is in Hebreeus, Grieks en Latyns geskryf 21en die leierpriesters van die Jode het vir Pilatos gesê: “Moenie skryf: ‘Die Koning van die Jode’ nie, maar, ‘dat Hy gesê het: Ek is die Koning van die Jode’.” 22Pilatos het geantwoord: “Wat ek geskryf het, het ek geskryf.”

23Nadat die soldate Yeshua gekruisig het, vat hulle Sy klere en deel dit in vier; vir elke soldaat ’n deel, maar die onderkleed was oor. Die onderkleed was sonder ’n naat, van bo af in een stuk geweef. 24Hieroor het hulle vir mekaar gesê: “Laat ons dit nie skeur nie, maar laat ons die lot daaroor werp, wie s’n dit sal wees” sodat die Skrif vervul sou word wat sê: “Hulle het My klere onder mekaar verdeel en oor My gewaad het hulle die lot gewerp.” Hierdie dinge het die soldate gedoen. 25Naby Yeshua se kruis het Sy moeder, Sy moeder se suster, Miryam - die vrou van K’lofah en Miryam van Migdala gestaan. 26Yeshua het Sy moeder en die studentevolgeling wat Hy liefgehad het, by haar sien staan en Hy sê vir sy moeder: “Vrou, let op, hy is U seun!” 27Daarop sê Hy vir die studentevolgeling: “Let op, sy is jou moeder!” Van daardie oomblik af het die studentevolgeling haar by homself ontvang (ingeneem).

28Hierna, omdat Hy geweet het dat alles reeds tot sy doel gebring is sodat die Skrif vervul sou word, het Yeshua gesê: “Ek is dors!” 29Daar het ’n houer vol suurwyn gestaan en hulle het ’n spons vol suurwyn gemaak en hisop omgebind en na Sy mond toe gebring. 30Toe Yeshua die suurwyn ontvang het, sê Hy: “Dit is afgehandel!” Hy het Sy kop afgebuig en Sy Gees oorgegee.

31Sodat die liggame nie op die Shabbat aan die kruis sou bly nie, aangesien dit die voorbereidingsdag was, want die komende dag was ’n spesiale Shabbat, het die Jode Pilatos gevra dat hulle bene gebreek en hulle weggevat moes word. 32Die soldate het toe gekom en die bene van die eerste een gebreek en van die ander een wat saam met Hom aan die kruis doodgemaak is, 33maar toe hulle by Yeshua kom en sien dat Hy reeds dood is, het hulle nie Sy bene gebreek nie, 34maar een van die soldate het met ’n spies in Sy sy ingesteek en dadelik het daar bloed en water uitgekom. 35Die een wat dit gesien het, het daarvan getuig en sy getuienis is waar en hy weet dat hy die waarheid praat sodat julle kan vertrou, 36want hierdie dinge het gebeur sodat die Skrif vervul sou word wat sê: “Nie een van Sy bene sal gebreek word nie.” 37’n Ander Skrif sê weer: “Hulle sal na Hom kyk in Wie hulle gesteek het.”

38Na hierdie dinge het Yosef van Ramatayim, wat in die geheim ’n studentevolgeling van Yeshua was omdat hy bang was vir die Jode, vir Pilatos gevra of hy die liggaam van Yeshua mag wegvat en Pilatos het toestemming gegee. Hy het toe gegaan en die liggaam van Yeshua weggevat. 39Nakdimon, wat eers in die nag na Yeshua gegaan het, het ook gekom met ’n mengsel van mirre en aalwyn van omtrent vyftig kilogram. 40Hulle het toe die liggaam van Yeshua gevat en dit in linne doeke toegedraai saam met die soet speserye, volgens die begrafnis tradisie van die Jode. 41Daar was op die plek waar Hy aan die kruis doodgemaak is, ’n tuin en in die tuin ’n nuwe graf, waar nog nooit iemand in neergelê was nie. 42Daar het hulle Yeshua toe neergelê omdat die Shabbat nadergekom het en omdat die graf naby was.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
John 18
Top of Page
Top of Page