Johannes 20
Afrikaans PWL
1Op die eerste dag van die week kom Miryam van Migdala baie vroeg in die oggend terwyl dit nog donker was, by die graf en sien dat die steen van die graf verwyder is. 2Sy hardloop en kom by Shim’on Kefa en by díe ander studentevolgeling vir wie Yeshua lief was en sê vir hulle: “Hulle het ons Meester uit die graf uit weggevat en ek weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.” 3Kefa en die ander studentevolgeling het uitgegaan en by die graf gekom. 4Die twee het saam gehardloop, maar die ander studentevolgeling het voor Shim’on gehardloop en eerste by die graf gekom 5en hy het gekyk en die linne doeke sien lê, maar hy het nie ingegaan nie. 6Shim’on Kefa het ná hom aangekom en in die graf ingegaan en die linne doeke gesien waar dit lê 7en die grafkleed, wat oor Sy kop was, sien hy nie by die linne doeke lê nie, maar opgerol op ’n plek eenkant. 8Toe het ook die ander studentevolgeling, wat eerste by die graf gekom het, ingegaan en hy het gesien en vertrou. 9Die studentevolgelinge het weer huis toe gegaan,

10want hulle het nog nie vanuit die Skrifte verstaan dat Hy uit die dood uit moes opstaan nie,

11maar Miryam het by die graf gestaan, hardop gehuil en al huilende, ingekyk in die graf in 12en twee engele daar gesien sit met wit klere aan, een by die kussing en een by die voete waar die liggaam van Yeshua gelê het 13en hulle vra vir haar: “Vrou, waarom huil jy?” Sy antwoord hulle: “Omdat hulle my Meester weggevat het en ek weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.” 14Toe sy dit gesê het, draai sy om agtertoe en sien Yeshua staan en sy het nie geweet dat dit Yeshua was nie. 15Yeshua vra vir haar: “Vrou, waarom huil jy? Wie soek jy?” Sy het gedink dat dit die tuinier was en antwoord hom: “Meneer, as u Hom weggevat het, sê vir my waar u Hom neergesit het en ek sal Hom wegvat.” 16Yeshua sê vir haar: “Miryam!” Sy draai om en sê vir Hom in Aramees: “Rabbuli!” wat beteken ‘my Leermeester.’ 17Yeshua sê vir haar: “Moenie My vashou nie, want Ek het nog nie opgegaan om by My Vader te wees nie, maar gaan na My broers toe en sê vir hulle: ‘Ek gaan op na My Vader en julle Vader en My God en julle God’.” 18Miryam van Migdala het aan die studentevolgelinge gaan vertel dat sy die Meester gesien het en dat Hy dit vir haar gesê het.

19Toe dit aand was op daardie eerste dag van die week en die deure, waar die studentevolgelinge gebly het, uit vrees vir die Jode gesluit was, het Yeshua gekom, tussen hulle gestaan en vir hulle gesê: “Vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid vir julle!” 20Nadat Hy dit gesê het, wys Hy vir hulle Sy hande en Sy sy en die studentevolgelinge was bly omdat hulle ons Meester gesien het. 21Yeshua sê weer vir hulle: “Vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid vir julle! Net soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” 22Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy op hulle en sê vir hulle: “Ontvang die Gees van Afsondering. 23As julle iemand hulle sondes vergewe, dan is dit hulle vergewe. As julle iemand hulle sondes laat behou, dan is dit gehou.”

24T’oma, wat genoem is ‘Tweeling,’ een van die twaalf, was nie saam met hulle toe Yeshua gekom het nie. 25Die studentevolgelinge het vir hom gesê: “Ons het ons Meester gesien,” maar hy het hulle geantwoord: “As ek nie in Sy hande die spykerwonde sien en my vinger in die spykerwonde steek en my hand in Sy sy steek nie, dan sal ek nie vertrou nie.”

26Na agt dae was Sy studentevolgelinge weer binne en T’oma was saam met hulle en terwyl die deure gesluit was, het Yeshua gekom en tussen hulle gestaan en gesê: “Vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid vir julle!” 27Hy sê vir T’oma: “Sit jou vinger hier en let op, My hande en bring jou hand en steek dit in My sy en moenie ongelowig wees nie, maar vertrou.” 28T’oma antwoord en sê vir Hom: “My Meester en my God!” 29Yeshua sê vir hom: “Noudat jy My gesien het, het jy vertrou. Geseënd is díe wat nie gesien het nie en tog vertrou.”

30Nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek opgeskryf is nie, het Yeshua in die teenwoordigheid van Sy studentevolgelinge gedoen, 31maar hierdie is opgeskryf sodat julle kan vertrou dat Yeshua Die Gesalfde Een, die Seun van God is en wanneer julle vertrou, daar vir julle ewige lewe sal wees in Sý Outoriteit en Karakter.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
John 19
Top of Page
Top of Page