Johannes 18
Afrikaans PWL
1Nadat Yeshua hierdie dinge gesê het, het Hy en Sy studentevolgelinge na ’n tuin oorkant die Kidronspruit gegaan en Hy en Sy studentevolgelinge het saam daar ingegaan, 2maar Y’hudah, die een wat Hom sou oorgee, het ook die plek geken omdat Yeshua en Sy studentevolgelinge gereeld daar bymekaargekom het; 3daarom het Y’hudah die afdeling soldate, die tempelwagte vanaf die leierpriesters en die Fariseërs gelei en daarheen gegaan met lanterns, fakkels en wapens. 4Omdat Yeshua alles geweet het wat met Hom sou gebeur, het Hy uitgegaan en vir hulle gevra: “Wie soek julle?” 5Hulle antwoord Hom: “Yeshua, van Natzeret.” Yeshua sê vir hulle: “ אנא אנא - Ek is, was, sal wees Wie Ek is, was, sal wees.” Y’hudah, die een wat Hom sou oorgee, het by hulle gestaan. 6Toe Yeshua vir hulle sê: “ אנא אנא - Ek is, was, sal wees Wie Ek is, was, sal wees,” het hulle agteruit beweeg en op die grond neergeval. 7Yeshua vra hulle toe weer: “Wie soek julle?” Hulle sê: “Yeshua, van Natzeret.” 8Yeshua sê vir hulle: “Ek het vir julle gesê אנא אנא - Ek is, was, sal wees Wie Ek is, was, sal wees. As julle My dan soek, laat hierdie ander weggaan” 9sodat die woord vervul sou word wat Hy gesê het: “Uit die wat U My gegee het, het Ek nie een verloor nie.” 10Shim’on Kefa het ’n swaard gehad, dit uitgetrek en die slaaf van die hoofpriester geslaan en sy regteroor afgekap. Die naam van die slaaf was Melekh (Ar. Malka). 11Hierop sê Yeshua vir Kefa: “Steek jou swaard in die skede. Sal Ek dan nie die beker, wat die Vader My gegee het, drink nie?”

12Toe het die afdeling soldate, hulle bevelvoerder en die tempelwagte van die Jode Yeshua gegryp, Hom vasgebind 13en Hom weggelei, eers na Hanan, want Hy was die skoonvader van Kayafa, wat daardie jaar hoofpriester was. 14Dit was Kayafa wat aan die Jode die raad gegee het dat dit voordelig is dat een man in die plek van die volk doodgemaak word.

15Shim’on Kefa en ’n ander studentevolgeling het Yeshua gevolg. Die ander studentevolgeling was bekend by die hoofpriester en het saam met Yeshua ingegaan in die binneplaas van die hoofpriester, 16maar Shim’on het buitekant naby die deur bly staan. Die ander studentevolgeling, wat bekend was met die hoofpriester, het uitgegaan en met die deurwagster gepraat en Kefa ingebring. 17Toe vra die slavin, die deurwagster, vir Kefa: “Is jy nie ook een van die studentevolgelinge van hierdie man nie?” Hy sê: “Ek is nie.” 18Die slavinne en die tempelwagte het by ’n vuur gestaan wat hulle gemaak het, want dit was koud en hulle het hulle warm gemaak. Kefa het by hulle gestaan en hom warm gemaak.

19Die hoofpriester het vir Yeshua ondervra oor Sy studentevolgelinge en oor Sy leer. 20Yeshua antwoord hom: “Ek het openlik met die mense gepraat. Ek het altyd in die bymekaarkomplekke geleer en in die tempel waar die Jode altyd bymekaarkom en in die geheim het Ek niks gesê nie. 21Hoekom vra u My? Vra vir hulle wat gehoor het wat Ek vir hulle gesê het. Let op, hulle weet alles wat Ek gesê het.” 22Toe Hy dit sê, het een van die wagte wat daar staan, Yeshua op die wang geklap en gesê: “Antwoord U die hoofpriester so?” 23Yeshua antwoord hom: “As Ek boos gepraat het, getuig wat boos was, maar as Ek reg gepraat het, waarom slaan jy My?” 24Hierna het Hanan Hom, steeds vasgebind, na Kayafa, die hoofpriester, gestuur.

25Shim’on Kefa het gestaan en hom warm gemaak en hulle vra vir hom: “Is jy nie ook een van Sy studentevolgelinge nie?” Hy ontken dit toe en sê: “Ek is nie.” 26Een van die hoofpriester se slawe, wat familie was van die man wie se oor Kefa afgekap het, vra: “Het ek jou nie in die tuin by Hom gesien nie?” 27Weer het Kefa dit ontken en dadelik het ’n haan gekraai.

28Toe neem hulle Yeshua vanaf Kayafa na die goewerneur se kantore. Dit was reeds skemeroggend en hulle het self nie in die kantore ingegaan nie sodat hulle nie onrein sou wees voordat hulle die Pesagmaal geëet het nie. 29Pilatos het na hulle toe uitgekom en gevra: “Watter aanklag bring julle teen hierdie Man in?” 30Hulle antwoord en sê vir hom: “As Hy geen boosdoener was nie, sou ons Hom nie aan u oorgelewer het nie.” 31Pilatos sê vir hulle: “Vat julle Hom en oordeel Hom volgens julle wet.” Waarop die Jode vir hom sê: “Dit is nie wettig vir ons om iemand dood te maak nie” 32sodat dit wat Yeshua gesê het om aan te dui watter dood Hy sou sterf vervul sou word.

33Pilatos gaan toe weer in die goewerneur se kantore in en roep Yeshua en vra vir Hom: “Is U die Koning van die Jode?” 34Yeshua antwoord hom: “Sê u dit uit uself, of het ander dit van My vir u gesê?” 35Pilatos antwoord: “Is ek dan ’n Jood? U eie volk en die leierpriesters het U aan my oorgegee. Wat het U gedoen?” 36Yeshua antwoord: “My Koninkryk is nie van hierdie wêreld nie. As My Koninkryk van hierdie wêreld was, sou My dienaars geveg het sodat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie, maar My Koninkryk is nie nou van hier nie.” 37Pilatos sê toe vir Hom: “Dan is U tog ’n Koning?” Yeshua antwoord: “U sê dat Ek ’n Koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om van die waarheid te getuig. Elkeen wat uit die waarheid is, luister na My stem.” 38Pilatos vra vir Hom: “Wat is waarheid?” Toe hy dit gesê het, gaan hy weer uit na die Jode toe en sê vir hulle: “Ek vind geen skuld in Hom nie, 39maar julle het ’n gewoonte dat ek vir julle op die Pesag iemand moet vrylaat. Wil julle daarom hê dat ek vir julle die Koning van die Jode moet vrylaat?” 40Almal het uitgeskree en gesê: “Nie vir Hom nie, maar vir Bar-Abba!” Bar-Abba was ’n rower.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
John 17
Top of Page
Top of Page