Jeremia 42
Afrikaans PWL
1Toe het al die bevelvoerders van die leërs nader gekom: Yoganan, die seun van Kareag, Y’zanyah, die seun van Hosha’yah en al die mense, klein en groot 2en vir Yirmeyahu, die profeet, gesê: “Laat asseblief ons versoek voor u kom en bid tot יהוה, u God, vir ons, dit is, vir almal wat oorgebly het, want ons is maar ’n klein klompie oor uit baie, soos u eie oë ons nou sien, 3dat יהוה, u God, ons mag vertel watter pad ons moet volg en wat ons moet doen.” 4Toe het Yirmeyahu, die profeet, hulle geantwoord: “Ek het julle gehoor. Let op, ek sal tot יהוה, julle God, bid volgens julle woorde en ek sal יהוה se volledige boodskap aan julle bekend maak; ek sal nie ’n woord van julle terughou nie.” 5Toe antwoord hulle vir Yirmeyahu: “Mag יהוה ’n waar en geloofwaardige getuie teen ons wees as ons nie handel volgens die hele boodskap waarmee יהוה, u God, u na ons toe sal stuur nie. 6Of dit aangenaam of onaangenaam is, ons sal luister na die stem van יהוה, ons God, na Wie toe ons u stuur sodat dit met ons goed mag gaan wanneer ons luister na die stem van יהוה, ons God.”

7Aan die einde van tien dae het die woord van יהוה tot Yirmeyahu gekom. 8Hy het toe vir Yoganan, die seun van Kareag en al die bevelvoerders van die leërs wat by hom was en al die mense, klein en groot, laat roep 9en vir hulle gesê: “So sê יהוה, die God van Yisra’el, na Wie julle my gestuur het om julle versoek voor Hom te bring: 10as julle inderdaad in hierdie land sal bly, dan sal Ek julle opbou en nie afbreek nie en julle plant en nie uitruk nie, want Ek sal bedaar oor die katastrofe wat Ek julle mee getref het. 11Moenie bang wees vir die koning van Bavel vir wie julle vrees nie; moenie bang wees vir hom nie,’ verklaar יהוה, ‘want Ek is by julle om julle te red en julle te bevry uit sy hand. 12Ek sal ook vir julle sagte goedheid bewys sodat hy sagte goedheid aan julle sal wys en julle tot julle eie land herstel. 13As julle egter gaan sê: “Ons sal nie in hierdie land bly nie” en só nie luister na die stem van יהוה, julle God, nie 14en sê: “Nee, maar ons sal na die land van Mitzrayim gaan waar ons geen oorlog sal sien of die geluid van ’n ramshoring sal hoor of honger na brood sal hê nie en ons sal daar bly;” 15dan, in daardie geval, luister na die woord van יהוה, o wat oorbly van Y’hudah! So sê יהוה-Tzva’ot, die God van Yisra’el: “As julle werklik julle gedagtes daarop sit om Mitzrayim binne te gaan om daar te gaan bly, 16dan sal die swaard, waarvoor julle bang is, julle daar in die land van Mitzrayim inhaal en die hongersnood waarvoor julle bang is, sal kort na julle in Mitzrayim aankom en julle sal daar sterf. 17Al die manne wat gedagtes gerig het om na Mitzrayim te gaan om daar te bly, sal deur die swaard, die hongersnood en die pes sterf en daar sal vir hulle niemand wees wat oorleef of ontvlug van die katastrofe wat Ek oor hulle sal bring nie,”’”

18want so sê יהוה-Tzva’ot, die God van Yisra’el: “Soos My woede en My toorn uitgestort is oor die inwoners van Yerushalayim, so sal My toorn oor julle uitgestort word as julle Mitzrayim binnegaan en julle sal ’n vloek word, ’n voorwerp van verskrikking, van verwensing en van smaad en julle sal hierdie plek nie weer sien nie.” 19יהוה het met julle, wat oorbly van Y’hudah, gepraat: “Moenie na Mitzrayim gaan nie!” Julle moet duidelik verstaan dat ek vandag teen julle getuig het, 20want julle het julleself mislei, want dit is júlle wat my na יהוה, julle God, gestuur en gesê het: “Bid tot יהוה, ons God, vir ons en wat ook al יהוה, ons God, sê, vertel dit vir ons en ons sal dit doen.” 21So het ek dit vandag vir julle vertel, maar julle het יהוה, julle God, nie gehoorsaam, volgens wat Hy my ook al gestuur het om aan julle te vertel, nie; 22daarom moet julle nou duidelik verstaan dat julle deur die swaard, die hongersnood en die pes sal sterf in die plek waar julle verkies om te gaan bly.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Jeremiah 41
Top of Page
Top of Page