Jeremia 41
Afrikaans PWL
1In die sewende maand het Yishma’el, die seun van N’tanyahu, die seun van Elishama, uit die koninklike familie en die bevelvoerende offisiere van die koning en tien man saam met hom in Mitzpah, by G’dalyahu, die seun van Agikam, gekom. Terwyl hulle daar in Mitzpah saam brood geëet het, 2het Yishma’el, die seun van N’tanyahu en die tien manne wat by hom was, opgestaan en vir G’dalyahu, die seun van Agikam, die seun van Shafan, met die swaard neergeslaan en die een doodgemaak wat die koning van Bavel oor die land aangestel het. 3Yishma’el het ook almal van Y’hudah wat by hom, by G’dalyahu, in Mitzpah was en die Kasdeërs, die krygsmanne, wat daar te vinde was, doodgeslaan.

4Dit het gebeur op die volgende dag nadat hy G’dalyahu doodgemaak het terwyl niemand dit geweet het nie, 5dat daar tagtig manne vanaf Sh’khem, Shiloh en Shomron gekom het met afgeskeerde baard, geskeurde klere en gekerfde liggame, met graanoffers en wierook in hulle hande om dit na die huis van יהוה te bring. 6Toe het Yishma’el, die seun van N’tanyahu, al huilende uit Mitzpah uitgegaan om hulle te ontmoet en toe hy hulle ontmoet, sê hy vir hulle: “Kom na G’dalyahu, die seun van Agikam!” 7Tog het dit gebeur dat pas nadat hulle die stad ingekom het, Yishma’el, die seun van N’tanyahu en die manne wat by hom was, hulle doodgemaak en in die put gegooi het. 8Onder hulle was daar egter tien man wat vir Yishma’el gesê het: “Moet ons nie doodmaak nie, want ons het gestoorde graan, koring, olie en heuning weggesteek in die veld.” Hy het daarvan afgesien en hulle nie saam met hulle metgeselle doodgemaak nie.

9Nou die put, waar Yishma’el al die lyke van die manne wat deur hom doodgemaak is, saam met G’dalyahu, ingegooi het, was dié een wat koning Asa gemaak het as gevolg van Ba’asha, koning van Yisra’el. Yishma’el, die seun van N’tanyahu, het dit volgemaak met die wat doodgeslaan is. 10Toe het Yishma’el al die wat van die volk oorgebly het wat in Mitzpah was, as gevangenes weggevoer; die dogters van die koning en al die mense wat in Mitzpah oorgebly het, wat N’vuzar’adan, die bevelvoerder van die lyfwag, onder G’dalyahu, die seun van Agikam, se bevel geplaas het; so het Yishma’el, die seun van N’tanyahu, hulle as gevangenes weggevoer en hy het aangegaan om oor te gaan na die seuns van `Ammon.

11Yoganan, die seun van Kareag en al die bevelvoerders van die leërs wat by hom was, het egter gehoor van al die boosheid wat Yishma’el, die seun van N’tanyahu, gedoen het. 12Hulle het al die manne gevat en gegaan om teen Yishma’el, die seun van N’tanyahu, te veg en hulle het hom by die groot poel gekry wat by Giv’on is. 13Nou, sodra al die mense wat by Yishma’el was, vir Yoganan, die seun van Kareag, gesien het saam met al die bevelvoerders van die leërs, was hulle bly. 14Al die mense wat Yishma’el uit Mitzpah gevange geneem het, het omgedraai en teruggekom na Yoganan, die seun van Kareag. 15Yishma’el, die seun van N’tanyahu, het egter van Yoganan af ontsnap saam met agt man en na die seuns van `Ammon gegaan. 16Toe het Yoganan, die seun van Kareag en al die bevelvoerders van die leërs wat by hom was, al die mense uitgehaal wat oorgebly het uit Mitzpah, wat hulle teruggevat het van Yishma’el, die seun van N’tanyahu, nadat hy G’dalyahu, die seun van Agikam, doodgemaak het, die krygsmanne, vroue, kinders en hofdienaars, wat hy van Giv’on af teruggebring het. 17Hulle het gegaan en in die blyplek van Kimham, wat naby Beit-Legem lê, gebly, om aan te gaan na Mitzrayim toe, 18as gevolg van die Kasdeërs, want hulle was bang vir hulle omdat Yishma’el, die seun van N’tanyahu, vir G’dalyahu, die seun van Agikam, wat deur die koning van Bavel oor die land aangestel is, doodgemaak het.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Jeremiah 40
Top of Page
Top of Page