Jeremia 43
Afrikaans PWL
1Sodra Yirmeyahu, vir wie יהוה, hulle God, gestuur het, klaar was om al die woorde van יהוה, hulle God, aan hulle oor te dra; naamlik al hierdie woorde; 2het `Uziyah, die seun van Hosha’yah, Yoganan, die seun van Kareag en al die arrogante manne vir Yirmeyahu gesê: “U vertel ’n leuen! יהוה, ons God, het u nie gestuur om te sê: ‘Julle mag Mitzrayim nie binnegaan om daar te bly nie.’ 3Barukh, die seun van Neriyah, hits u egter teen ons op om ons oor te gee in die hand van die Kasdeërs sodat hulle ons kan doodmaak of ons in ballingskap na Bavel kan vat.” 4Yoganan, die seun van Kareag, al die bevelvoerders van die leërs en die hele volk het nie die stem van יהוה gehoorsaam om in die land van Y’hudah te bly nie, 5maar Yoganan, die seun van Kareag en al die bevelvoerders van die leërs het almal wat oorgebly het van Y’hudah gevat, wat vanuit al die nasies waarheen hulle verdryf was, teruggekom het om in die land van Y’hudah te bly, 6die manne, die vroue, die kinders, die dogters van die koning en al die mense wat N’vuzar’adan, die bevelvoerder van die lyfwag, by G’dalyah, die seun van Agikam, die kleinseun van Shafan, gelos het saam met Yirmeyahu, die profeet en Barukh, die seun van Neriyah 7en hulle het die land van Mitzrayim binne gegaan, want hulle het nie die stem van יהוה gehoorsaam nie en ingegaan so ver as Tagpanges.

8Toe het die woord van יהוה tot Yirmeyahu gekom in Tagpanges en gesê: 9“Vat groot klippe in jou hand en begrawe hulle in die klei in die steen vierkant wat by die ingang van Farao se paleis in Tagpanges is, voor die oë van sommige van die Y’hudahiete 10en sê vir hulle: ‘So sê יהוה-Tzva’ot, die God van Yisra’el: “Let op, Ek stuur en laat N’vukhadnetzar, koning van Bavel, My kneg, haal en Ek sal sy troon opstel bo-op hierdie klippe wat Ek begrawe het en hy sal sy skadutent daaroor uitspan. 11Hy sal ook kom en die land van Mitzrayim slaan; die wat vir die dood bedoel is, sal oorgegee word aan die dood en wie vir gevangeskap, aan die gevangeskap en wie vir die swaard, aan die swaard! 12Ek sal ’n vuur aansteek in die tempels van die gode van Mitzrayim en hy sal hulle verbrand en hulle gevange neem. So sal hy hom toevou in die land van Mitzrayim soos ’n herder hom toevou in sy kleed en hy sal daarvandaan veilig wegtrek. 13Hy sal ook die klippilare van die huis van die son (Heliopolis), wat in Mitzrayim is, vergruis en die tempels van die gode van Mitzrayim sal hy met vuur verbrand.”’”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Jeremiah 42
Top of Page
Top of Page