Jeremia 23
Afrikaans PWL
1“Wee die herders wat die skape van My weiding vernietig en verstrooi,” verklaar יהוה; 2daarom, sê יהוה, God van Yisra’el, aangaande die herders wat Sy volk oppas: “Júlle het My skape verstrooi en hulle weggedryf en nie aandag aan hulle gegee nie; let op, Ek is op die punt om aandag aan julle te gee vir die boosheid van julle dade,” verklaar יהוה. 3“Dan sal Ek self die wat oorbly van My skape versamel vanuit al die lande waarheen Ek hulle verdryf het en hulle terugbring na hulle weiveld en hulle sal vrugbaar wees en vermenigvuldig. 4Ek sal ook herders oor hulle opwek wat hulle sal versorg en hulle sal nie meer bang of beangs wees en geen een sal vermis word nie,” verklaar יהוה.

5“Let op, daar kom dae,” verklaar יהוה, “wanneer Ek vir Dawid ’n Onpartydige en Opregte Spruit sal opwek en Hy sal as Koning regeer en wys optree en regverdig oordeel en onpartydige opregtheid doen in die land.

6In Sy dae sal Y’hudah gered word en Yisra’el veilig woon en dít is Sy Naam (Karakter en Outoriteit) waarmee Hy genoem sal word: ‘יהוה-Tzidkenu’ [יהוה, ons Onpartydige opregtheid.]

7Let daarom op, daar kom dae,” verklaar יהוה, “wanneer hulle nie langer sal sê: ‘So waar as יהוה leef wat die seuns van Yisra’el uit Mitzrayim uitgebring het,’ nie, 8maar: ‘So waar as יהוה leef wat die nageslag van die huis van Yisra’el van die land in die noorde gebring en terug gelei het en uit al die lande waarheen Ek hulle verdryf het.’ Dan sal hulle op hul eie grond leef.”

9Wat die profete betref: my binneste is gebreek, al my bene bewe binne my; ek het soos ’n dronk man geword, soos ’n man deur wyn oorweldig, vanweë יהוה en Sy afgesonderde woorde,

10want die land is vol owerspelers, want die land treur weens die vloek. Die weivelde van die wildernis het opgedroog en hulle het swak voortgebring en hulle was nie voorspoedig nie,

11want beide profeet en priester is besoedel. “Selfs in My huis het Ek hulle boosheid gevind,” verklaar יהוה.

12“Hulle pad sal daarom vir hulle soos glibberige plekke wees in die duisternis; hulle sal weggedryf word en daarin neerval, want Ek sal katastrofes oor hulle bring, die jaar van hulle straf,” verklaar יהוה.

13“Meer nog, Ek het onder die profete van Shomron ’n afstootlike ding gesien: hulle profeteer deur Ba’al en lei My volk Yisra’el op ’n dwaalspoor.

14Ek het ook onder die profete van Yerushalayim ’n verskriklike ding gesien: die pleeg van owerspel en loop in valsheid en hulle versterk die hande van boosdoeners sodat niemand terugdraai van sy boosheid af nie. Hulle het almal vir My geword soos S’dom en haar inwoners soos `Amora;”

15daarom, so sê יהוה-Tzva’ot aangaande die profete: “Let op, Ek gaan vir hulle wildeals voer en hulle giftige water laat drink, want van die profete van Yerushalayim af het besoedeling uitgegaan in die hele land in.”

16So sê יהוה-Tzva’ot: “Moenie luister na die woorde van die profete wat vir julle profeteer nie. Hulle lei julle in nutteloosheid in; hulle praat visioene vanuit hulle eie verbeelding, nie uit die mond van יהוה nie.

17Hulle sê gedurig aan dié wat My verag: ‘יהוה het gesê: “Julle sal vrede hê.’” Vir elkeen wat in die hardkoppigheid van sy eie verstand, wil en emosie loop, sê hulle: ‘Katastrofes sal nie oor julle kom nie.’”

18Wie het in die raad van יהוה gestaan sodat hy Sy woord sou sien en hoor? Wie het aandag gegee aan Sy woord en geluister?

19Let op, die storm van יהוה het in toorn uitgegaan, ’n draaikolk! Dit sal afswaai op die kop van die bose oortreders.

20Die woede van יהוה sal nie terugdraai totdat Hy Sy doel en die planne van Sy wil uitgevoer het nie; in die laaste dae sal julle dit duidelik verstaan.

21“Ek het die profete nie gestuur nie, maar hulle hardloop; Ek het nie met hulle gepraat nie, maar hulle het profeteer,

22maar as hulle in My raad gestaan het, sou hulle My woorde aan My volk aangekondig het en hulle teruggedraai het van hul bose pad en van die boosheid van hulle dade.

23Ek is ’n God wat naby is,” verklaar יהוה, “en nie ’n God wat ver is nie.

24Kan ’n man homself in wegsteekplekke wegsteek dat Ek hom nie sien nie?” verklaar יהוה. “Maak Ek nie die hemel en die aarde vol nie?” verklaar יהוה.

25“Ek het gehoor wat die profete gesê het wat valslik in My Naam (Karakter en Outoriteit) profeteer en sê: ‘Ek het ’n droom gehad, ek het ’n droom gehad!’ 26Hoe lank al is daar iets in die verstand, wil en emosie van die profete wat valsheid profeteer, profete van die misleiding van hulle eie verstand, wil en emosie, 27wat beplan om My volk My Naam (Karakter en Outoriteit) te laat vergeet deur hulle drome wat hulle vir mekaar vertel, net soos hulle vaders My Naam (Karakter en Outoriteit) vergeet het as gevolg van Ba’al? 28Die profeet wat ’n droom het, kan sy droom vertel, maar laat hom wat My woord het, My woord in waarheid praat. Hoekom meng jy kaf met die koring?” verklaar יהוה. 29“Is My woord nie soos vuur en soos ’n hamer wat ’n rots vergruis nie?” verklaar יהוה. 30“Let daarom op, Ek is teen die profete,” verklaar יהוה, “wat My woorde by mekaar steel. 31Let op, Ek is teen die profete,” verklaar יהוה, “wat hulle eie tong gebruik en sê: ‘יהוה verklaar!’ 32Let op, Ek is teen hulle wat valse drome profeteer,” verklaar יהוה, “en dit vertel en My volk verlei deur hulle valshede en hulle waaghalsige grootpratery; tog het Ek hulle nie gestuur of beveel nie en ook het hulle vir hierdie volk nie die minste voordeel gebring nie,” verklaar יהוה.

33“Wanneer hierdie volk, of die profeet, of ’n priester jou vra en sê: ‘Wat is die geestesopenbaring van יהוה?’ Dan moet jy vir hulle sê: ‘Watter geestesopenbaring?’ יהוהverklaar: ‘Ek sal julle alleen los.’ 34Wat die profeet of die priester betref of die volk wat sê: ‘Die geestesopenbaring van יהוה,’ Ek sal straf bring oor daardie man en oor sy huishouding. 35So moet elkeen van julle vir sy naaste en elkeen vir sy broer sê: ‘Wat het יהוה geantwoord?’ of ‘wat het יהוה gepraat?’,” 36want julle sal nie meer die geestesopenbaring van יהוה onthou nie omdat elke man se woord geestesopenbaring sal word en julle die boodskappe van die lewende God, van יהוה-Tzva’ot, ons God, verdraai het. 37So moet jy vir daardie profeet sê: ‘Wat het יהוה jou geantwoord?’ en ‘wat het יהוה gesê?’ 38As julle sê: ‘Die geestesopenbaring van יהוה!’ Sekerlik, so sê יהוה: ‘Omdat julle hierdie woord gesê het: “Die geestesopenbaring van יהוה!” het Ek ook na julle gestuur met die woorde: ‘Julle mag nie sê: “Die geestesopenbaring van יהוה” nie;’ 39daarom, let op, Ek sal julle sekerlik vergeet en julle wegstamp van My Teenwoordigheid af, saam met die stad wat Ek vir julle en julle vaders gegee het. 40Ek sal ’n ewige smaad op julle lê en ’n ewige vernedering wat nie vergeet sal word nie.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Jeremiah 22
Top of Page
Top of Page