Jeremia 22
Afrikaans PWL
1So sê יהוה: “Gaan af na die huis van die koning van Y’hudah, praat hierdie woord daar 2en sê: ‘Luister en hoor die woord van יהוה, o koning van Y’hudah, wat sit op die troon van Dawid; jy en jou diensknegte en jou volk wat deur hierdie poorte ingaan; 3so sê יהוה: “Gee regverdige oordeel en doen onpartydige opregtheid en red die wat beroof is uit die hand van sy onderdrukker; moet ook nie die vreemdeling, die wees en die weduwee verkeerd, of met geweld behandel nie en moenie onskuldige bloed in hierdie plek vergiet nie, 4want as julle hierdie ding werklik sal doen, sal konings deur die poorte van hierdie huis ingaan wat op die troon van Dawid sal sit, wat op strydwaens en op perde sal ry, hyself en sy diensknegte en sy volk, 5maar as julle nie hierdie woorde gehoorsaam nie, dan sweer Ek by Myself,” verklaar יהוה, “dat hierdie huis ’n verlatenheid sal word,”’”

6want so sê יהוה aangaande die huis van die koning van Y’hudah: “Jy is soos Gil’ad vir My, soos die top van L’vanon. Tog sal Ek jou sekerlik maak soos ’n wildernis, stede wat nie bewoon word nie!

7Ek sal verwoesters teen jou afsonder, elkeen met sy wapens en hulle sal jou keur seders afkap en in die vuur gooi.

8Baie nasies sal by hierdie stad verbygaan en die een aan die ander vra: ‘Waarom het יהוה so gedoen aan hierdie groot stad?’ 9Dan sal hulle antwoord: ‘Omdat hulle die verbond van יהוה, hulle God, verlaat het en voor ander gode neergebuig en dié gedien het.’”

10Moenie huil of rou oor die wat dood is nie, maar huil aanhoudend vir die een wat weggaan, want hy sal nie weer terugkom of die land van sy geboorte sien nie,

11want so sê יהוה aangaande Shallum, die seun van Yoshiyahu, koning van Y’hudah, wat in die plek van sy vader Yoshiyahu koning geword het, wat uit hierdie plek uitgegaan het: “Hy sal nooit hierheen terugkom nie, 12maar in die plek waarheen hulle hom as gevangene weggevoer het, daar sal hy sterf en nie hierdie land weer sien nie.

13Wee hom wat sy huis bou sonder onpartydige opregtheid en sy boonste kamers sonder regverdige oordeel; wat sy naaste se dienste gebruik sonder betaling en nie vir hom sy loon gee nie;

14wat sê: ‘Ek sal vir my ’n groot huis bou met ruim bokamers en sy vensters uitsny; dit met sederhout panele bedek en helder rooi verf.’

15Word jy ’n koning omdat jy wedywer in sederhout? Het jou vader nie geëet en gedrink en regverdig geoordeel en onpartydig opreg gehandel nie? Toe het dit goed met hom gegaan.

16Hy het die saak van die geteisterde en behoeftige regverdig hanteer; toe het dit goed gegaan. Is dit nie wat dit beteken om My te ken nie?” verklaar יהוה.

17“Jou oë en jou verstand, wil en emosie is egter net op jou eie onregverdige wins en op die vergieting van onskuldige bloed en op die praktisering van onderdrukking en afpersing.”

18יהוה sê daarom aangaande Y’hoyakim, die seun van Yoshiyahu, koning van Y’hudah: “Hulle sal nie oor hom rou nie: ‘Ag, my broer!’ of ‘ag, suster!’ nie. Hulle sal nie oor hom rou nie: ‘Ag, vir die meester!’ of ‘ag, vir sy majesteit!’ nie.

19Hy sal met ’n donkiebegrafnis begrawe word, weggesleep en uitgegooi anderkant die poorte van Yerushalayim.

20Gaan op na L’vanon en roep uit, lig jou stem op in Bashan; roep ook uit vanaf `Avarim, want al jou minnaars is vergruis.

21Ek het met jou gepraat in jou voorspoed, maar jy het gesê: ‘Ek sal nie luister nie.’ Dit is wat jy gedoen het van jou jeug af dat jy nie My stem gehoorsaam het nie.

22Die wind sal al jou herders wegwaai en jou minnaars sal in gevangeskap gaan; dan sal jy beskaamd en vernederd staan weens al jou boosheid.

23Jy wat bly in L’vanon, nes gemaak het in die seders; hoe sal jy kreun as steekpyne oor jou kom, pyn soos ’n vrou wat geboorte gee!

24So waar as wat Ek leef,” verklaar יהוה, “alhoewel Y’koniyahu, die seun van Y’hoyakim, koning van Y’hudah, ’n seëlring aan My regterhand was, nogtans sal Ek jou afruk 25en Ek sal jou oorgee in die hand van hulle wat jou lewe soek en in die hand van hulle vir wie jy bang is, in die hand van N’vukhadnetzar, koning van Bavel en in die hand van die Kasdeërs. 26Ek sal jou en jou moeder wat aan jou geboorte gegee het, wegslinger na ’n ander land waar julle nie gebore is nie en daar sal julle sterf, 27maar na die land waarheen hulle begeer om terug te kom, daarheen sal hulle nie terugkeer nie.

28Is hierdie man, Koniyahu, ’n veragte, verbrokkelde houer, of is hy ’n onbegeerlike voorwerp? Waarom is hy en sy geslag weggeslinger en weggegooi na ’n land wat hulle nie geken het nie?”

29O Land, land, land, hoor, luister en doen die woord van יהוה!

30So sê יהוה: “Skryf hierdie man op as kinderloos, ’n man wat nie voorspoedig sal wees in sy dae nie, want niemand van sy nageslag sal voorspoedig wees en sit op die troon van Dawid of heers oor Y’hudah nie.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Jeremiah 21
Top of Page
Top of Page