Jesaja 62
Afrikaans PWL
1Ter wille van Tziyon sal ek nie stil wees nie en ter wille van Yerushalayim sal ek nie stilbly nie totdat haar onpartydige opregtheid uitbreek soos helderheid en haar verlossing soos ’n fakkel wat brand.

2Die nasies sal jou onpartydige opregtheid sien en al die konings jou lof en eer en jy sal ’n nuwe naam genoem word wat deur die mond van יהוה uitgewys sal word.

3Jy sal ook ’n kroon van skoonheid wees in die hand van יהוה en ’n koninklike tulband in die hand van jou God.

4Dit sal nie langer vir jou gesê word, “In die steek gelaat,” nie en ook nie vir jou land, “Verwaarloos,” nie, maar jy sal genoem word: “My vreugde is in haar” en jou land: “Getroude,” want יהוה is bly oor jou en jou land sal getroud wees,

5want soos ’n jongman ’n maagd trou, so sal jou gekoses met jou trou en soos die bruidegom hom verheug oor die bruid, sal jou God oor jou bly wees.

6O Yerushalayim, Ek het wagte op jou mure aangestel; die hele dag en die hele nag sal hulle nooit stilbly nie. Julle wat יהוה herinner, neem geen rus nie

7en gee Hom geen rus nie totdat Hy Yerushalayim vestig en maak tot ’n lofprysing op die aarde!

8יהוה het gesweer by Sy regterhand en by Sy magtige arm: “Ek sal jou graan nooit weer as kos vir jou vyande gee nie; ook sal buitelanders nie jou nuwe wyn drink waarvoor jy gewerk het nie,

9maar hulle wat dit insamel, sal dit eet en יהוה prys en hulle wat dit oes, sal dit drink in die howe van My Afgesonderde Plek.”

10Gaan deur, gaan deur die poorte, maak die pad oop vir die mense! Bou op, bou op die hoofpad; verwyder die klippe, lig ’n banier op oor die volke!

11Let op, יהוה het tot aan die einde van die aarde aangekondig, sê vir die dogter van Tziyon: “Kyk, jou Verlossing kom; let op, Sy beloning is by Hom en Sy vergoeding voor Hom.”

12Hulle sal genoem word: “Die afgesonderde volk, die vrygekooptes van יהוה” en jy sal genoem word: “Uitgesoekte, ’n stad nie in die steek gelaat nie.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Isaiah 61
Top of Page
Top of Page