Jesaja 63
Afrikaans PWL
1Wie is dit wat kom vanaf Edom, met donker rooi klere vanaf Botzrah? Wie is majestueus in Sy kleredrag en magtig in die grootheid van Sy krag? “Dit is Ek wat in onpartydige opregtheid praat, magtig om te red.”

2Waarom is U kleredrag rooi en U klere soos dié van een wat in die wynpers trap?

3“Ek het die wyn alleen deurgetrap en van die volke was daar niemand by My nie. Ek het hulle ook getrap in My woede en hulle vertrap in My toorn en hulle lewensbloed het op My klere gespat en Ek het al My klere bevlek,

4want die dag van wraak was in My verstand, wil en emosie en My jaar van loskoping het gekom.

5Ek het gekyk en daar was niemand om te help nie en Ek het gewonder omdat daar niemand was om te ondersteun nie; My eie arm het vir My verlossing gebring en My toorn het My ondersteun.

6Ek het volke vertrap in My woede en hulle dronk gemaak in My toorn en Ek het hulle lewensbloed op die aarde uitgegooi.”

7Ek sal die liefdevolle goedheid van יהוה noem, die lofprysinge van יהוה, volgens alles wat יהוה aan ons toegestaan het en die groot goedheid teenoor die huis van Yisra’el, wat Hy aan hulle toegestaan het volgens Sy omgee en volgens die oorvloed van Sy liefdevolle goedheid,

8want Hy het gesê: “Hulle is sekerlik My volk, seuns wat nie vals sal wees nie.” So het Hy hulle Verlosser geword.

9In al hulle pyniging was Hy gepynig en die Engel van Sy Teenwoordigheid het hulle gered; in Sy liefde en in Sy omgee het Hy hulle losgekoop en Hy het hulle opgetel en hulle gedra, al die dae van ouds,

10maar húlle het rebelleer en Sy Gees van Afsondering bedroef; daarom het Hy Homself gedraai om hulle vyand te word; Hy het teen hulle geveg.

11Toe het Sy volk die ou dae van Moshe onthou. Waar is Hy wat hulle uit die see uitgebring het saam met die herders van Sy kudde? Waar is Hy wat Sy Gees van Afsondering in hulle midde geplaas het;

12wat hulle deur Sy wonderlike arm en regterhand gelei het, wat die waters voor hulle verdeel het, om vir Homself ’n ewige Naam te maak;

13wat hulle deur die dieptes gelei het? Soos ’n perd in die wildernis het hulle nie gestruikel nie.

14Soos die beeste wat in die vallei afgaan, het die Gees van יהוה hulle rus gegee. Só het U U volk gelei, om vir Uself ’n eervolle, lofwaardige Naam te maak.

15“Kyk van die hemel af neer en sien uit U afgesonderde en lofwaardige blyplek, waar is U ywer en U magtige dade? Die ontroering van U verstand, wil en emosie en U liefdevolle omgee is ingehou teenoor ons,

16want U is ons Vader, alhoewel Avraham ons nie ken nie en Yisra’el ons nie erken nie. U, O יהוה, is ons Vader en ons Loskoper. U Naam is van ewigheid af.

17יהוה, waarom laat U ons wegdwaal van U paaie en verhard U ons verstand, wil en emosie sodat ons U nie vrees nie? Kom terug ter wille van U diensknegte, die stamme van U erfenis!

18U afgesonderde volk het U Afgesonderde Plek vir ’n kort rukkie besit; ons teëstanders het dit vertrap.

19Ons het geword soos hulle oor wie U nooit geheers het nie, hulle waaroor U Naam (Karakter en Outoriteit) nie uitgeroep is nie. Ag, as U maar die hemele wou skeur en afkom sodat die berge sal bewe voor U Teenwoordigheid

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Isaiah 62
Top of Page
Top of Page