Galasiërs 6
Afrikaans PWL
1My broers, as een van julle deur een of ander oortreding oorval word, moet julle wat in die Gees is, só een herstel met die gees van sagtheid en nederigheid en wees versigtig dat jy nie ook getoets word nie. 2Dra mekaar se laste, want so word jy volledig in die wet van Die Gesalfde Een, 3want as iemand dink dat hy iéts is terwyl hy niks is nie, mislei hy homself, 4maar ’n man moet sy eie dade toets en net in homself roem en nie tussen ander nie, 5want elkeen moet sy eie taak dra.

6Hy wat in die boodskap lering ontvang, moet van alles wat goed is, deel met hom wat vir hom lering gee. 7Moenie jouself mislei nie, want God word nie mislei nie, want enige iets wat die mens saai, dit sal hy ook oes. 8Hy wat in sy menslike natuur saai, sal vanuit die menslike natuur vernietiging oes, maar hy wat in die Gees saai, sal vanuit die Gees die ewige lewe oes. 9Wanneer ons doen wat goed is, moenie dat dit moeitevol wees nie, want op die bepaalde tyd sal ons self oes as ons nie moeg word nie. 10Terwyl ons daarom tyd het, laat ons nou aan almal goed doen, maar spesifiek aan hulle wat seuns is van die huis van vertroue.

11Sien die groot letters wat ek met my eie hand vir julle skryf. 12Díé wat in die menslike natuur wil roem, dié dwing julle om julle te laat besny, want net in die besnydenis sal hulle nie vervolg word in Die Gesalfde Een nie, 13want selfs nie hulle wat besny is, gehoorsaam die wet nie, maar hulle wil dat julle besny word sodat hulle in julle liggame kan roem, 14maar wat my betref: ek sal nie roem nie, behalwe in eenheid met die kruisiging van ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een, deur Wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld, 15want nóg die besnydenis nóg die onbesnedenheid het enige waarde, maar ’n nuwe skepping het.

16Vir díé wat hierdie pad loop: vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid en liefdevolle omgee sal oor julle wees en oor die Yisra’el van God!

17Mense pla my dus nie, want ek het die merke van die Meester Yeshua in my liggaam ontvang.

18Die onverdiende guns van ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een, bly met julle gees, my broers! Dit is waar!

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Galatians 5
Top of Page
Top of Page