Galasiërs 5
Afrikaans PWL
1Staan daarom vas in die vryheid waarmee Die Gesalfde Een ons vrygemaak het en moenie weer in die juk van slawerny gejuk word nie.

2Let op, ek, Sha’ul, sê vir julle dat as julle jul laat besny, Die Gesalfde Een vir julle geen voordeel inhou nie 3en ek getuig dit weer aan elke mens wat besny is dat hy verskuldig is om die hele geskrewe wet na te kom. 4As jy onskuldig verklaar wil word deur die wet, is jy afgesny van Die Gesalfde Een. Julle het weggeval van die onverdiende guns af, 5want ons, deur die seëning van die Gees, wat deur vertroue is, bly in die aktiewe verwagting tot onpartydige opregtheid, 6want in eenheid met Die Gesalfde Een, Yeshua, is nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige iets, maar vertroue wat deur liefde volmaak gemaak is.

7Julle het goed gehardloop. Wie het julle verhinder om die waarheid te gehoorsaam? 8Julle oortuiging is nie vanaf Hom wat julle geroep het nie. 9’n Bietjie suurdeeg maak al die deeg suur. 10Ek vertrou dat, in eenheid met die Meester, julle nie ander dinge sal oorweeg nie, maar een wat dit vir julle moeilik maak, wie dit ook al mag wees, sal die oordeel dra. 11Ek, my broers, as ek steeds die besnydenis verkondig, waarom word ek nog vervolg? Dan is die struikelblok van die kruisiging tog vernietig! 12Ek wens dat dié wat julle moeilikheid gee, afgesny sal word,

13want julle is tot vryheid geroep, my broers; moet net nie dat julle vryheid geleentheid vir die vleeslike natuur is nie, maar julle behoort mekaar deur liefde te dien, 14want die hele geskrewe wet word deur een boodskap volledig gemaak: “Jy moet jou medemens liefhê net soos jouself,” 15maar as julle mekaar byt en opeet, pas op dat julle nie mekaar verslind nie.

16Ek sê: “Leef deur die Gees, dan sal julle nooit deur die begeertes van die menslike natuur gevang word nie, 17want die menslike natuur begeer die teenoorgestelde as die Gees en die Gees die teenoorgestelde as die menslike natuur. Hulle staan teenoor mekaar sodat julle nie kan doen wat julle wil doen nie, 18maar as julle deur die Gees gelei word, is julle nie onder die wet nie, 19maar julle ken die dade van die menslike natuur; dit is: seksuele oortredings, onreinheid, wellustigheid, 20aanbidding van afgode, towery, vyandskap, tweedrag, jaloesie, woede, hardkoppigheid, misleiding, valse leringe, 21afguns, moord, dronkenskap, orgies en soortgelyke dinge en dat die wat hierdie dinge doen, soos ek vroeër gesê het en nou weer sê, nie die Koninkryk van God sal erf nie.” 22Die vrugte van die Gees is liefde, blydskap, vrede, geduld, sagte omgee, goedheid, vertroue, 23nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge is geen wet in plek nie, 24maar dié wat aan Die Gesalfde Een behoort, het die menslike natuur met al sy passies en begeertes gekruisig.

25Ons moet daarom in die Gees leef en aan die Gees oorgee 26en laat ons nie sonder lof en eer wees nie; mekaar slegmaak en jaloers wees op mekaar nie.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Galatians 4
Top of Page
Top of Page