Efesiërs 1
Afrikaans PWL
1Sha’ul, ’n afgevaardigde van Yeshua, Die Gesalfde Een, deur die wil van God, aan hulle wat in Efesos is; afgesonder en getrou in Yeshua, Die Gesalfde Een: 2vrede, vergenoegdheid, gesondheid en voorspoed vir julle en onverdiende guns vanaf God, ons Vader en vanaf ons Meester Yeshua, Die Gesalfde Een!

3Geseënd is God, die Vader van ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een, wat ons geseën het met al die seëninge van die Gees in die hemel, in eenheid met Die Gesalfde Een 4net soos Hy ons vroeër, in eenheid met Hom, gekies het van voor die ontstaan van die wêreld af, om afgesonderd en sonder vlek in Sy Teenwoordigheid te wees en ons vroeër in liefde vir Homself aangestel 5en ons as kinders gevestig het deur Yeshua, Die Gesalfde Een, want dit stel Sy wil tevrede 6sodat die eer en lof van Sy onverdiende guns geprys kan word, wat oorvloei op ons deur die Een wat Hy liefhet, 7want in Hom is daar vir ons vryspraak en deur Sy bloed die vergifnis van sondes volgens die rykdom van Sy onverdiende guns, 8wat oorvloedig in ons is in alle wysheid en verstandelike insig. 9Hy het ook aan ons die geheime van Sy wil geleer, dit wat Hy vroeër besluit het om in Homself te doen 10vir die uitvoering van die einde van tye; alle dinge word in die hemel en op die aarde deur Die Gesalfde Een van voor af nuut gemaak. 11In eenheid met Hom is ons gekies soos Hy ons vroeër aangestel het en het Hy gewil dat Hy alles sal doen volgens die doel van Sy wil 12sodat ons, wat eerste ’n versekerde verwagting in Die Gesalfde Een gehad het, kan wees tot eer en lof van Sy Gemanifesteerde Teenwoordigheid 13sodat julle ook, die boodskap van die waarheid, die goeie boodskap van julle redding deur Hom, gehoor het, in Wie julle vertrou het en julle geseël is in die Gees van Afsondering wat belowe is, 14wat die waarborg is van ons erfenis, tot die losprys van hulle wat gered is en vir die eer en lof van Sy Gemanifesteerde Teenwoordigheid.

15Om hierdie rede, let op, vandat ek gehoor het van julle vertroue wat in ons Meester Yeshua is en julle liefde tot die afgesonderdes, 16hou ek nie op om dankie te sê vir julle en om julle te onthou in my gebede nie 17sodat die God van ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een, die Vader van eer, lof en aanbidding, aan julle die Gees van wysheid en openbaring mag gee saam met kennis van Hom 18en dat die oë van julle verstand, wil en emosie verhelder sal word sodat julle kan weet wat die versekerde verwagting van Sy roeping en wat die rykdom van Sy erfdeel van eer en lof is onder die afgesonderdes 19en wat die oorvloedige grootheid van Sy wonderwerkende krag is, in ons wat vertrou, volgens die effektiewe aksie van Sy krag 20wat Hy gewerk het in Die Gesalfde Een toe Hy Hom uit die dood uit opgewek het en Hom laat sit het aan Sy regterhand in die hemel, 21ver bo alle heersers, outoriteite, wonderwerkende kragte, meesters en elke karakter en outoriteit (naam) wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in dié een wat kom. 22Hy het alles in gehoorsaamheid onder Sy voete gesit en Hom wat hoër as alles is as Hoof oor die gemeente, 23wat Sy liggaam is, gegee; die volledigheid van Hom wat alles in almal volledig maak;

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Galatians 6
Top of Page
Top of Page