Deuteronomium 27
Afrikaans PWL
1Toe het Moshe saam met die oudstes van Yisra’el die volk beveel en gesê: “Onderhou al die opdragte wat ek julle vandag beveel. 2Op die dag as julle deur die Yarden gaan in die land wat יהוה, jou God, jou gee, sal dit so so wees dat jy vir jou groot klippe moet oprig en dit met kalk bedek 3en wanneer jy oortrek moet jy al die woorde van hierdie wet daarop skryf sodat jy kan ingaan in die land wat יהוה, jou God, jou gee, ’n land wat vloei met melk en heuning, soos יהוה, die God van jou vaders, jou beloof het. 4So sal dit wees wanneer jy deur die Yarden trek dat julle hierdie klippe op die berg `Eival moet oprig, soos ek julle vandag beveel en jy moet dit met kalk bedek. 5Meer nog, jy moet daar vir יהוה, jou God, ’n altaar bou, ’n altaar van klippe; jy mag geen yster daaroor swaai nie. 6Jy moet die altaar van יהוה, jou God, bou van ongekapte klippe en jy moet brandoffers daarop bring aan יהוה, jou God 7en jy moet vredesoffers offer en daar eet en jou verheug voor יהוה, jou God. 8Jy moet al die woorde van hierdie wet baie duidelik op die klippe skryf.”

9Toe het Moshe en die Levitiese priesters met die hele Yisra’el gepraat en gesê: “Wees stil en luister, O Yisra’el! Vandag het jy ’n volk vir יהוה, jou God, geword; 10daarom moet jy יהוה, jou God, gehoorsaam en Sy opdragte en Sy reëls, wat ek jou vandag beveel, doen.”

11Moshe het op dié dag ook aan die volk opdrag gegee en gesê: 12“Wanneer jy oor die Yarden trek moet hierdie staan op die berg G’rizim om die volk te seën: Shim’on, Levi, Y’hudah, Yissakhar, Yosef en Binyamin. 13Vir die vervloeking moet hierdie op die berg `Eival staan: Re’uven, Gad, Asher, Z’vulun, Dan en Naftali. 14Die Leviete moet dan verklaar en aan al die manne van Yisra’el met ’n harde stem sê:

15‘Vervloek is die man wat ’n gekerfde of gegote beeld maak, die werk van die hande van ’n ambagsman en dit in die geheim oprig, wat verwerplik is vir יהוה.’ Al die mense moet antwoord en sê: ‘Dit is waar.’

16‘Vervloek is hy wat sy vader of sy moeder onteer.’ Al die mense moet sê: ‘Dit is waar.’

17‘Vervloek is hy wat sy naaste se grenslyn verskuif.’ Al die mense moet sê: ‘Dit is waar.’

18‘Vervloek is hy wat ’n blinde verkeerd lei op die pad.’ Al die mense moet sê: ‘Dit is waar.’

19‘Vervloek is hy wat die reg van die vreemdeling, wees en weduwee wat hom toekom, verdraai.’ Al die mense moet sê: ‘Dit is waar.’

20‘Vervloek is hy wat by die vrou van sy vader lê, want hy het die kleed van sy vader opgelig.’ Al die mense moet sê: ‘Dit is waar.’

21‘Vervloek is hy wat by enige dier lê.’ Al die mense moet sê: ‘Dit is waar.’

22‘Vervloek is hy wat by sy suster, die dogter van sy vader of die dogter van sy moeder, lê.’ Al die mense moet sê: ‘Dit is waar.’

23‘Vervloek is hy wat by sy skoonmoeder lê.’ Al die mense moet sê: ‘Dit is waar.’

24‘Vervloek is hy wat sy naaste in die geheim doodslaan.’ Al die mense moet sê: ‘Dit is waar.’

25‘Vervloek is hy wat ’n omkoopgeskenk aanvaar om ’n onskuldige persoon dood te slaan.’ Al die mense moet sê: ‘Dit is waar.’

26‘Vervloek is hy wat nie die woorde van hierdie wet bevestig deur dit te doen nie.’ Al die mense moet sê: ‘Dit is waar.’

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Deuteronomy 26
Top of Page
Top of Page