Deuteronomium 26
Afrikaans PWL
1Dan sal dit wees, wanneer jy in die land kom wat יהוה, jou God, jou as erfenis gee en jy dit besit en daarin bly 2dat jy van die eerstelinge van al die vrugte van die grond wat jy inbring uit jou land wat יהוה, jou God, jou gee, moet vat en dit in ’n mandjie sit en jy moet gaan na die plek wat יהוה, jou God, sal kies om Sy Naam (Karakter en Outoriteit) daar te vestig. 3Jy sal na die priester toe gaan wat aan diens is in dié dae en jy moet vir hom sê: ‘Ek verklaar vandag teenoor יהוה, my God, dat ek in die land ingekom het wat יהוה aan ons vaders met ’n eed beloof het om aan ons te gee.’ 4Dan moet die priester die mandjie uit jou hand vat en dit voor die altaar van יהוה, jou God, neersit. 5Jy moet antwoord en voor יהוה, jou God, sê: ‘My vader is na Aram gelei en het na Mitzrayim afgetrek en daar as besoeker gebly met min mense, maar daar het hy ’n groot, magtige en talryke nasie geword. 6Die Mitzrayiete het ons hard behandel, ons onderdruk en harde werk op ons afgedwing. 7Toe het ons uitgeroep na יהוה, die God van ons vaders en יהוה het ons stem gehoor en ons moeilikheid, ons harde werk en ons onderdrukking gesien 8en יהוה het ons uit Mitzrayim uitgelei deur ’n magtige hand en ’n uitgestrekte arm, deur groot angswekkende dade en deur tekens en wonders 9en Hy het ons na hierdie plek gebring en ons hierdie land gegee, ’n land wat vloei met melk en heuning. 10Nou, let op, ek het die eerstelinge van die vrugte van die land wat U, יהוה, my gegee het, gebring.’ Dan moet jy dit neersit voor יהוה, jou God en jou neerbuig voor יהוה, jou God 11en jy, die Leviet en die vreemdeling wat tussen jou is, moet julle verheug oor al die goeie wat יהוה, jou God, jou en jou huis gegee het.

12Wanneer jy klaar al die tiendes van jou vermeerdering afgesonder het in die derde jaar, die jaar van die tiendes, dan moet jy dit aan die Leviet, die vreemdeling, die wees en die weduwee gee dat hulle in jou dorpe kan eet en tevrede wees. 13Jy moet voor יהוה, jou God, sê: ‘Ek het die afgesonderde gedeelte uit my huis verwyder en dit ook aan die Leviet, die vreemdeling, die wees en die weduwee gegee, volgens al U opdragte wat U my beveel het; ek het geeneen van U opdragte oortree of vergeet nie. 14Ek het nie daarvan geëet terwyl ek rou nie of enige daarvan verwyder terwyl ek onrein was nie of enige daarvan aan ’n dooie geoffer nie. Ek het na die stem van יהוה, my God, geluister; ek het gedoen volgens alles wat U my beveel het. 15Kyk af uit U afgesonderde blyplek, uit die hemel en seën U volk Yisra’el en die grond wat U ons gegee het, soos U aan ons vaders met ’n eed beloof het, ’n land wat vloei met melk en heuning.’

16Vandag beveel יהוה, jou God, jou om hierdie reëls en wette na te kom. Jy moet daarom versigtig wees om hulle met jou hele verstand, wil en emosie en jou hele gees en lewe te doen. 17Jy het vandag verklaar dat יהוה jou God is en dat jy in Sy paaie sal loop en Sy reëls, opdragte en wette sal gehoorsaam en na Sy stem sal luister en dit doen. 18יהוה het jou vandag as Sy volk verklaar, ’n waardevolle besitting, soos Hy jou beloof het dat jy al Sy opdragte moet uitvoer 19en dat Hy jou hoog bo al die nasies wat Hy gemaak het sal stel, tot lofprysing, roem en eer en dat jy ’n afgesonderde volk tot יהוה, jou God, sal wees soos Hy gesê het.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Deuteronomy 25
Top of Page
Top of Page