Deuteronomium 28
Afrikaans PWL
1Nou sal dit wees, as jy יהוה, jou God, ywerig gehoorsaam, deur versigtig te wees om al Sy opdragte, wat ek jou vandag beveel, te doen, יהוה, jou God, jou sal oplig bo al die nasies van die aarde. 2Al hierdie seëninge sal oor jou kom en jou oorweldig as jy יהוה, jou God, gehoorsaam:

3Geseënd sal jy wees in die stad en geseënd sal jy wees in die platteland.

4Geseënd sal die nakomeling van jou liggaam, die vrugte van jou grond en die nakomeling van jou vee, die vermeerdering van jou beeste en die lammers van jou kleinvee wees.

5Geseënd sal jou mandjie en jou knieskottel wees.

6Geseënd sal jy wees as jy inkom en geseënd sal jy wees as jy uitgaan.

7יהוה sal gee dat jou vyande wat teen jou opstaan, voor jou verslaan word; op een pad sal hulle teen jou uittrek en op sewe paaie voor jou wegvlug. 8יהוה sal die seën oor jou in jou skure en in alles waar jy jou hand aan slaan beveel en Hy sal jou seën in die land wat יהוה, jou God, jou gee. 9יהוה sal jou oprig as ’n afgesonderde volk vir Homself soos Hy vir jou gesweer het, as jy die opdragte van יהוה, jou God, hou en in sy paaie loop. 10So sal al die volke van die aarde sien dat jy genoem word volgens die Naam (Karakter en Outoriteit) van יהוה en hulle sal vir jou bang wees. 11יהוה sal jou oorvloedig maak in voorspoed; in die nakomeling van jou liggaam, in die nakomeling van jou vee en in die lewering van jou grond, in die land wat יהוה aan jou vaders met ’n eed beloof het om vir jou te gee. 12יהוה sal Sy goeie stoorkamer, die hemele, vir jou oopmaak om reën te gee vir jou land in sy seisoen en om al die werk van jou hand te seën en jy sal aan baie nasies uitleen, maar jy sal nie leen nie. 13יהוה sal jou die kop maak en nie die stert nie, jy sal net bo wees en nie onder nie, as jy luister na die opdragte van יהוה, jou God, wat ek jou vandag beveel, om dit versigtig na te kom 14en nie regs of links afdraai van enige van die woorde wat ek julle vandag beveel, om agter ander gode aan te gaan, om hulle te dien nie.

15Dit sal egter gebeur as jy יהוה, jou God, nie gehoorsaam nie, nie al Sy opdragte hou en Sy reëls doen, wat ek jou vandag beveel nie, al hierdie vloeke oor jou sal kom en jou oorweldig:

16vervloek sal jy wees in die stad en vervloek sal jy wees in die platteland.

17Vervloek sal wees jou mandjie en jou knieskottel.

18Vervloek sal wees die nakomeling van jou liggaam en die lewering van jou grond, die vermeerdering van jou beeste en die kleintjies van jou kleinvee.

19Vervloek sal jy wees as jy inkom en vervloek sal jy wees as jy uitgaan.

20יהוה sal vloeke, verwarring en bestraffings oor jou stuur in alles wat jy onderneem om te doen totdat jy vernietig is en totdat jy gou tot niet gaan vanweë die boosheid van jou dade omdat jy My verlaat het. 21יהוה sal maak dat die pes aan jou vasklou totdat Hy jou verteer het uit die land waarheen jy gaan, om dit te besit. 22יהוה sal jou swaar tref met wegvretende siekte, koors, inflammasie, ontsteking, met die swaard, plantsiektes en ryp en hulle sal jou agtervolg totdat jy omkom. 23Die hemel wat oor jou kop is, sal koper wees en die aarde wat onder jou is, yster. 24יהוה sal die reën van jou land poeier en stof maak; van die hemel sal dit op jou afkom totdat jy vernietig is.

25יהוה sal maak dat jy voor jou vyande verslaan word; op een pad sal jy teen hom uittrek en op sewe paaie sal jy voor hom uitvlug en jy sal ’n voorbeeld van angs wees vir al die koninkryke van die aarde. 26Jou lyke sal kos wees vir al die voëls van die hemel en vir die diere van die aarde en daar sal niemand wees om hulle af te skrik nie.

27יהוה sal jou slaan met die swere van Mitzrayim en met gewasse, skurfte en jeuk waarvan jy nie kan gesond word nie. 28יהוה sal jou slaan met kranksinnigheid, blindheid en verstandsverwarring 29en jy sal op die middag rondtas soos die blinde in die donker rondtas en jou paaie sal nie voorspoedig wees nie, maar jy sal altyddeur net onderdruk en beroof wees, met niemand om jou te red nie. 30Jy sal aan ’n vrou verloof raak, maar ’n ander man sal haar onteer. Jy sal ’n huis bou, maar jy sal nie daarin woon nie. Jy sal ’n wingerd plant, maar nie sy vrugte gebruik nie. 31Jou bees sal voor jou oë geslag word, maar jy sal nie daarvan eet nie; jou donkie sal van jou weggeskeur word en nie aan jou terugbesorg word nie; jou kleinvee sal aan jou vyande gegee word en daar sal niemand wees om jou te red nie. 32Jou seuns en jou dogters sal aan ’n ander volk gegee word terwyl jou oë toekyk en voortdurend na hulle verlang, maar daar sal niks wees wat jy kan doen nie. 33’n Volk wat jy nie ken nie, sal die lewering van jou grond en al jou werk opeet en jy sal nooit iets anders wees as onderdruk en gebreek nie 34sodat jy verblind sal word deur die gesig wat jou oë sal sien. 35יהוה sal jou aan die knieë en aan die bene tref met seer swere waarvan jy nie gesond kan word nie, van jou voetsool af tot by die kroon van jou kop. 36יהוה sal jou en jou koning wat jy oor jou aanstel, na ’n nasie laat gaan wat jy en jou vaders nie geken het nie en daar sal jy ander gode, hout en klip, dien. 37Jy sal ’n verskrikking, ’n spreekwoord en ’n spot wees onder al die volke waarheen יהוה jou sal dryf.

38Jy sal baie saad uitvat na die land toe, maar jy sal min inbring, want die sprinkaan sal dit opeet. 39Jy sal wingerde plant en bewerk, maar jy sal nie van die wyn drink of van die druiwe inbring nie, want die wurm sal dit opeet. 40Jy sal olyfbome hê in jou hele grondgebied, maar jy sal jou nie met olie salf nie, want jou olywe sal afval. 41Jy sal seuns en dogters hê, maar hulle sal nie joune wees nie, want hulle sal in gevangeskap gaan. 42Die sprinkaan sal al jou bome en die lewering van jou land besit. 43Die vreemdeling wat by jou is, sal hoër en hoër bo jou opstyg en jy sal laer en laer afsak. 44Hy sal aan jou leen, maar jy sal nie aan hom leen nie; hy sal die kop wees en jy sal die stert wees.

45So sal al hierdie vloeke oor jou kom, jou agtervolg en jou oorweldig totdat jy vernietig is omdat jy יהוה, jou God, nie wou gehoorsaam deur Sy opdragte en Sy reëls na te kom wat Hy jou beveel het nie. 46Hulle sal ’n teken en ’n wonder op jou en jou nageslag word vir ewig.

47Omdat jy יהוה, jou God, nie met vreugde en oorweldigende blydskap van verstand, wil en emosie gedien het, vir die oorvloed van alles nie, 48sal jy daarom jou vyand, wat יהוה teen jou sal stuur, dien in honger, in dors, in naaktheid en in gebrek aan alles en hy sal ’n yster juk op jou nek sit totdat hy jou vernietig het.

49יהוה sal ’n nasie teen jou bring van ver af, van die einde van die aarde af, soos ’n arend wat afduik, ’n nasie wie se taal jy nie sal verstaan nie, 50’n nasie van harde gelaatstrekke, wat geen respek het vir die oues en geen guns wys aan die jonges nie. 51Meer nog, hulle sal die nakomeling van jou vee en die lewering van jou grond opeet totdat jy vernietig is; wat vir jou geen graan, geen nuwe wyn, geen olie, of die vermeerdering van jou beeste of kleintjies van jou kleinvee sal los totdat hulle jou tot niet gemaak het nie. 52Dit sal jou beleër in al jou dorpe totdat jou hoë en versterkte mure, waarop jy in jou hele land vertrou het, val en dit sal jou beleër in al jou dorpe in jou hele land wat יהוה, jou God jou gegee het. 53Dan sal jy die nakomeling van jou eie liggaam eet, die vlees van jou seuns en jou dogters wat יהוה, jou God, vir jou gegee het, tydens die beleëring en in die benoudheid, waarmee jou vyand jou sal onderdruk. 54Die verfynde en delikate man by jou sal vyandig wees teenoor sy broer en die vrou wat hy koester en teenoor sy orige kinders wat oorbly 55sodat hy aan nie een van hulle iets sal gee van die vlees van sy kinders wat hy sal eet nie omdat hy niks anders oor het tydens die beleëring en in die benoudheid waarmee jou vyand jou in al jou dorpe sal onderdruk nie. 56Die verfynde en delikate vrou by jou, wat van verfyndheid en delikaatheid nooit sal waag om haar voetsool op die grond neer te sit nie, sal vyandig wees teenoor haar man wat sy koester en teenoor haar seun en dogter 57en teenoor haar nageboorte wat tussen haar bene uitgaan en haar kinders waaraan sy geboorte sal gee, want sy sal dit stilletjies eet by gebrek aan enige iets anders tydens die beleëring en in die benoudheid waarmee jou vyand jou in jou dorpe sal onderdruk.

58As jy nie versigtig is om al die woorde van hierdie wet, wat in hierdie boek geskryf is, te hou nie, om hierdie vereerde en ontsagwekkende Naam, יהוה, jou God, respekvol te vrees nie, 59dan sal יהוה bonatuurlike plae oor jou en oor jou nageslag bring, selfs groot en aanhoudende plae, ellendige en kroniese siektes, 60Hy sal al die kwale van Mitzrayim weer terugbring op jou, waarvoor jy bang was en hulle sal aan jou vasklou; 61asook elke siekte en elke plaag, wat nie in die boek van hierdie wet geskryf is nie, sal יהוה op jou bring totdat jy vernietig is. 62Dan sal julle min in getal oorbly, alhoewel julle soveel soos die sterre van die hemel, was omdat jy יהוה, jou God, nie gehoorsaam het nie. 63Dit sal wees dat net soos יהוה oor julle bly was om julle voorspoedig te maak en julle te vermenigvuldig, so sal יהוה oor julle bly wees om julle tot niet te maak en julle te vernietig en julle sal uitgeskeur word uit die land waarheen jy gaan, om dit te besit. 64Meer nog, יהוה sal jou verstrooi onder al die volke, van die een einde van die aarde tot by die ander einde van die aarde en daar sal jy ander gode, hout en klip, dien, wat jy en jou vaders nie geken het nie. 65Onder dié nasies sal jy geen rus vind nie en vir jou voetsool sal daar geen rusplek wees nie, maar יהוה sal jou daar ’n bewende verstand, wil en emosie gee, oë wat faal en ’n wanhopige gees. 66So sal jou lewe in twyfel voor jou hang en jy sal nag en dag in angs wees en geen versekering vir jou lewe hê nie. 67In die oggend sal jy sê: ‘As dit maar aand was’ en in die aand sal jy sê: ‘As dit maar oggend was! vanweë die angs van jou verstand, wil en emosie, wat jou beangs maak en vanweë dit wat jou oë sal sien. 68יהוה sal jou op skepe na Mitzrayim terugbring, op die pad waarvan ek vir jou gesê het: ‘Jy sal dit nooit weer sien nie’ en daar sal julle julleself aan jul vyande as slawe en slavinne verkoop, maar daar sal geen koper wees nie.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Deuteronomy 27
Top of Page
Top of Page