Deuteronomium 25
Afrikaans PWL
1As daar ’n geskil tussen manne is en hulle gaan hof toe en die regters besluit oor hulle saak en die regverdige word onskuldig verklaar en die bose oortreder veroordeel, 2dan sal dit wees as die bose oortreder slae verdien dat die regter hom moet laat lê en hom in sy teenwoordigheid moet laat slaan met ’n aantal houe ooreenkomstig sy skuld. 3Hy mag hom met veertig houe slaan, nie meer nie sodat hy hom nie met baie meer houe as dit slaan en jou broer nie verneder word voor jou oë nie.

4Jy mag ’n os nie muilband terwyl hy graan dors nie.

5Wanneer broers bymekaar woon en een van hulle sterf sonder ’n seun, dan mag die vrou van die oorledene nie na buite ’n vreemde man s’n word nie; haar man se broer moet by haar ingaan en haar as sy vrou vat en die plig van ’n man se broer vir haar uitvoer. 6Dit sal wees dat die eersgeborene waaraan sy geboorte gee, die naam van sy oorlede broer moet aanvaar sodat sy naam nie uit Yisra’el uitgevee word nie, 7maar as die man nie begeer om sy skoonsuster te vat nie, moet sy skoonsuster na die poort opgaan, na die oudstes toe en sê: ‘My swaer weier om sy broer se naam in Yisra’el te vestig; hy is nie gewillig om die plig van ’n man se broer teenoor my na te kom nie.’ 8Dan moet die oudstes van sy stad hom roep en met hom praat en as hy volhard en sê: ‘Ek begeer nie om haar te vat nie,’ 9dan moet sy skoonsuster voor die oë van die oudstes na hom toe kom en sy sandaal van sy voet aftrek, in sy gesig spoeg en verklaar: ‘So word gedoen met die man wat nie die huis van sy broer opbou nie.’ 10Sy naam moet in Yisra’el genoem word: ‘Die huis van hom wie se sandaal verwyder is.’

11As twee landgenote met mekaar baklei en die een se vrou naderkom om haar man te red uit die hand van die een wat hom slaan en haar hand uitsteek en hom aan die skaamdele gryp, 12dan moet jy haar hand afkap; jy mag haar nie jammer kry nie.

13Jy mag nie verskillende weegstene, ’n grote en ’n kleintjie, in jou sak hê nie. 14Jy mag nie verskillende mates, ’n grote en ’n kleintjie, in jou huis hê nie. 15Jy moet ’n vol en korrekte gewig hê; jy moet ’n vol en korrekte maat hê sodat jou dae verleng mag word in die land wat יהוה, jou God, jou gee, 16want elkeen wat hierdie dinge doen, elkeen wat onregverdig optree, is verwerplik vir יהוה, jou God.

17Onthou wat `Amalek op die pad aan jou gedoen het toe jy uitgekom het uit Mitzrayim, 18hoe hy jou ontmoet het op die pad en by jou die agterhoede, al die swakkes agter jou, aangeval het terwyl jy moeg en saf was en hy God nie gevrees het nie. 19Dit sal daarom wees dat wanneer יהוה, jou God, vir jou rus gee van al jou omringende vyande, in die land wat יהוה, jou God, jou as erfenis gee om te besit dat jy die nagedagtenis van `Amalek onder die hemel moet uitwis; jy moenie vergeet nie.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Deuteronomy 24
Top of Page
Top of Page