Daniël 1
Afrikaans PWL
1In die derde jaar van die regering van Y’hoyakim, koning van Y’hudah, het N’vukhadnetzar, koning van Bavel, na Yerushalayim gekom en dit beleër. 2יהוה het dit, saam met Y’hoyakim, koning van Y’hudah, in sy hand gegee, saam met die voorwerpe van die huis van יהוה, wat hy weggedra het na die land van Shin’ar en gebring het na die huis van sy afgod en die voorwerpe het hy in die skathuis van sy afgod gebring.

3Die koning het met Ashp’naz, hoof van die lyfknegte, gepraat en gesê hy moet sommige van die seuns van Yisra’el, uit die koninklike families, sowel as uit die edeles, bring: 4seuns met geen gebrek nie, wat aantreklik was in voorkoms, vernuftig in wysheid en in besit van kennis en insig in wetenskap, hulle wat bekwaam is om in die paleis van die koning te staan en hom te dien en vir wie hulle die opvoeding en die taal van die Kasdeërs kan leer. 5Die koning het vir hulle ’n daaglikse porsie uit die kos van die koning en van die wyn wat hy gedrink het bestem, om hulle vir drie jaar te voed sodat hulle daarna voor die koning kan dien. 6Tussen hulle was vanuit die seuns van Y’hudah: Dani’el, Hananyah, Misha’el en `Azaryah. 7Die hoof van die lyfknegte het vir hulle name gegee: Dani’el het hy Belt’shatzar genoem, vir Hananyah: Shadrakh, vir Misha’el: Meishakh en vir `Azaryah: `AvedN’go.

8Dani’el het in sy binneste besluit om nie van die koning se kos te eet, of van sy wyn te drink, nie; daarom het hy die hoof van die lyfknegte gevra om hom nie te dwing om te eet nie. 9God het vir Dani’el guns en omgee voor die hoof van die lyfknegte gegee. 10Die hoof van die lyfknegte het vir Dani’el gesê: “Ek vrees my meester, die koning, wat opdragte gegee het aangaande julle kos en julle drank. As hy sien julle voorkoms lyk slegter as dié van die jong seuns van julle ouderdom, sal die koning my laat onthoof.” 11Toe sê Dani’el vir Menezar, wat die hoof van die lyfknegte oor Dani’el, Hananyah, Misha’el en `Azaryah aangestel het: 12“Toets u diensknegte vir tien dae en laat hulle vir ons groente gee om te eet en water om te drink; 13laat dan ons voorkoms en die voorkoms van die jong seuns, wat die kos van die koning eet, ondersoek en handel met u diensknegte volgens wat u sien.”

14Hy het na hulle geluister in hierdie saak en hulle tien dae lank getoets 15en aan die einde van die tien dae het hy gesien dat hulle voorkoms beter en voller is as al die jong seuns wat die kos van die koning geëet het. 16Menezar het die deel van hulle kos en die wyn wat hulle moes drink, weggevat en vir hulle groente gegee om te eet en water om te drink.

17Wat hierdie vier jong seuns betref, God het aan hulle insig, kennis in elke boek en wysheid gegee en Dani’el het begrip in visioene en drome gehad.

18Toe die dae verby was wat die koning vasgestel het, het die hoof van die lyfknegte hulle voor N’vukhadnetzar gebring 19en die koning het met hulle gepraat en niemand onder hulle gevind soos Dani’el, Hananyah, Misha’el en `Azaryah nie; daarom het hulle voor die koning gedien 20en in enige saak van wysheid en insig wat die koning van hulle gevra het, het hy hulle tien maal beter gevind as al die towenaars en sterrekundiges wat in sy hele koninkryk was. 21Dani’el het aangehou selfs tot die eerste jaar van koning Koresh.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Ezekiel 48
Top of Page
Top of Page