Daniël 2
Afrikaans PWL
1In die tweede jaar van die regering van N’vukhadnetzar, het N’vukhadnetzar ’n droom gehad, sy gees was omgekrap en sy slaap het gewyk. 2Toe het die koning beveel om die voorspellers, die sterrekundiges, die towenaars en die Kasdeërs te roep, om vir die koning sy droom uit te lê. Hulle het gekom en voor die koning gaan staan 3en die koning sê vir hulle: “Ek het ’n droom gehad en my gees is ontsteld om die droom te verstaan.”

4Toe het die Kasdeërs in Aramees met die koning gepraat en gesê: “Mag die koning vir altyd lewe! Vertel aan u diensknegte die droom en ons sal die betekenis gee.” 5Die koning het geantwoord en vir die Kasdeërs gesê: “Die woord wat ek gepraat het is waar; as julle nie aan my die droom en sy betekenis bekend maak nie, sal julle in stukke gekap en julle huise geplunder word, 6maar as julle vir my die droom en sy betekenis bekendmaak, sal julle geskenke, rykdom en groot eer van my af ontvang; vertel my net die droom en sy betekenis.” 7Hulle het weer geantwoord en gesê: “Laat die koning die droom vir sy diensknegte vertel en ons sal die betekenis gee.” 8Die koning het geantwoord en gesê: “Verseker weet ek dat wat julle wil hê, is tyd omdat julle sien dat my woord vasstaan, 9want as julle nie aan my die droom bekend maak nie, is daar maar een vonnis vir julle, want julle het leuens en valshede voorberei om voor my te praat om tyd te wen; daarom, vertel vir my die droom sodat ek kan weet dat julle vir my sy betekenis kan gee.” 10Die Kasdeërs het voor die koning geantwoord en gesê: “Daar is nie ’n mens op aarde wat kan openbaar wat die koning vra nie en ook het geen groot koning of heerser ooit so iets van enige voorspeller, sterrekundige of Kasdeërs gevra nie, 11want dit wat die koning vra, is baie moeilik en daar is niemand anders wat dit voor die koning kon wys behalwe die gode, wie se woning nie by die mens is wat in vlees gebore is nie.”

12Toe was die koning uitermate woedend en hy het woedend beveel dat al die wyse manne van Bavel vernietig moet word. 13Die bevel het uitgegaan dat die wyse manne doodgemaak moet word en die wagte het vir Dani’el en sy metgeselle gesoek om hulle dood te maak.

14Toe het Dani’el daaroor nagedink en raad verkry en toe vir Aryokh, die bevelvoerder van die koninklike lyfwag wat uitgegaan het om die wyse manne van Bavel dood te maak, gesê: 15“Hoekom is die bevel van die koning so ernstig?” Toe het Aryokh aan Dani’el die saak bekend gemaak. 16Toe het Dani’el van die koning gevra om vir hom tyd te gee en belowe om vir hom die betekenis te gee.

17Dani’el het toe na sy huis toe gegaan dit bekend gemaak aan Hananyah, Misha’el en `Azaryah, sy metgeselle 18dat hulle onverdiende guns kon vra vanaf die God van die hemel aangaande hierdie geheim sodat Dani’el en sy metgeselle nie doodgemaak sou word saam met die res van die wyse manne van Bavel nie.

19Toe is die geheim aan Dani’el openbaar in ’n visioen in die nag en Dani’el het die God van die hemel geseën.

20Dani’el het geantwoord en gesê: “Geseënd is die Karakter en Outoriteit (Naam) van God vir ewig en ewig, want wysheid en krag behoort aan Hom

21en Hy verander seisoene en tye; Hy verwyder konings en stel konings aan; Hy gee wysheid aan die wyse manne en kennis aan die wat insig het;

22Hy openbaar diep en geheime dinge; Hy weet wat is in die duisternis en die lig is by Hom.

23Aan U, o God van my vaders, gee ek dank en ek prys U, wat aan my wysheid en krag gegee het en nou aan my bekend gemaak het wat ons van U gevra het, want U het die koning se saak aan ons bekend gemaak.”

24In daardie selfde uur het Dani’el na Aryokh gegaan, vir wie die koning beveel het om die wyse manne van Bavel dood te maak; hy het gegaan en só vir hom gesê: “Moenie die wyse manne van Bavel vernietig nie, maar bring my in voor die koning en ek sal die betekenis aan die koning bekendmaak.”

25Toe het Aryokh haastig vir Dani’el voor die koning ingebring en só vir hom gesê: “Ek het ’n man onder die ballinge van Y’hudah gevind wat vir die koning die betekenis sal gee.” 26Die koning het geantwoord en vir Dani’el, wie se naam Belt’shatzar was, gesê: “Is jy in staat om vir my die droom wat ek gesien het en sy betekenis bekend te maak?” 27Dani’el het in die teenwoordigheid van die koning geantwoord en gesê: “Die geheim wat die koning vereis het om te weet, kan geen wyse manne, voorspellers, towenaars of sterrekundiges aan die koning openbaar nie, 28maar daar is ’n God in die hemel wat geheime openbaar en Hy het aan koning N’vukhadnetzar bekend gemaak wat in die laaste dae sal gebeur. U droom en die visioen in u kop, op u bed, was dit: 29“Wat u betref, o koning, u gedagtes het in u verstand opgekom oor wat hierna sal gebeur en Hy wat geheime openbaar het aan u bekend gemaak wat sal gebeur, 30maar wat my betref, hierdie geheim is nie aan my openbaar op grond van enige wysheid wat ek het, meer as enige persoon nie, maar ter wille van die betekenis sodat dit aan die koning bekend kan wees en dat u die gedagtes van u verstand kan ken.

31U, o koning, het gekyk en let op, ’n groot beeld, wat se helderheid wonderlik was, het voor u gestaan en sy voorkoms was verskriklik. 32Hierdie beeld se kop was van fyn goud, sy bors en arms van silwer, sy maag en dye van koper, 33sy bene van yster, sy voete gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei. 34Toe het U gesien dat ’n klip losgesny word, sonder mensehande, wat die beeld getref het aan sy voete wat van yster en klei was en dit aan stukke gestamp het. 35Toe is die yster, die klei, die koper, die silwer en die goud almal saam in stukke gebreek en dit het soos die kaf van die dorsvloere in die somer geword en ’n sterk wind het hulle weggevat sodat geen plek vir hulle gevind kon word nie en die klip wat die beeld getref het, het ’n groot berg geword en die hele aarde gevul.

36Hierdie is die droom; nou sal ek sy betekenis voor die koning vertel: 37U, o koning, is ’n koning van die konings, want die God van die hemel het aan u ’n magtige koninkryk en eer gegee 38en elke land waarin mense woon, die voëls van die lug en die diere van die veld, het Hy onder u outoriteit geplaas en u heerser oor hulle almal gemaak. U is die kop van goud.

39Ná u sal daar ’n ander koninkryk, geringer as u, opstaan en ook ’n derde koninkryk, van koper, wat oor die hele aarde sal heers.

40Die vierde koninkryk sal sterk wees soos yster, want net soos yster alles hamer en in stukke breek, so sal dit elke koninkryk breek en oorwin. 41Waar u die voete en tone gesien het as deels van pottebakkersklei en deels van yster, sal die koninkryk verdeeld wees, maar daarin sal sommige van die krag van yster wees, net soos u die yster met kleigrond gemeng gesien het. 42Die tone van die voete wat u gesien het, deels van yster en deels van klei, so sal sommige dele van die koninkryk sterk wees en sommige dele swak. 43Waar u yster gemeng met kleigrond gesien het, so sal hulle hulleself met ’n ander vermeng deur die huwelik, maar hulle sal nie aan mekaar vaskleef nie, net soos yster nie met klei meng nie.

44In die dae van hierdie konings sal die God van die hemel ’n ewige Koninkryk opwek, wat nooit vernietig sal word nie en die Koninkryk sal nie aan ander volke oorgelaat word nie, maar dit sal al daardie koninkryke in stukke breek en ’n einde daaraan maak, maar ditself sal vir ewig staan. 45Soos u gesien het dat die klip uit die berg gekap is sonder toedoen van mensehande en dat dit die yster, die koper, die klei, die silwer en die goud in stukke gebreek het, het die groot God aan die koning bekend gemaak wat in die laaste dae sal gebeur. Die droom is waar en sy betekenis betroubaar.”

46Toe val koning N’vukhadnetzar op sy gesig en betoon eer aan Dani’el en beveel dat hulle wierook en offers vir hom moet bring. 47Die koning antwoord Dani’el en sê: “Waarlik, julle God is die God van die gode en die Meester van konings en ’n Openbaarder van geheime, want jy was in staat om hierdie geheim te openbaar.” 48Toe het die koning Dani’el se rang verhoog en aan hom baie geskenke gegee en hom aangestel as heerser oor die hele provinsie van Bavel en as hoof oor al die generaals en oor die wyse manne van Bavel. 49Toe het Dani’el van die koning versoek en vir Shadrakh, Meishakh en `Aved-N’go aangestel oor die bestuur van die provinsie Bavel, maar Dani’el self het in die poort van die koning gebly.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Daniel 1
Top of Page
Top of Page