Esegiël 48
Afrikaans PWL
1“Hierdie is die name van die stamme: vanaf die verste noord, langs die pad van Hetlon na die ingang van Hamat, tot by Hatzar-`Einan, op die grens van Dammesek, na die noorde toe langs Hamat, van oos tot wes: Dan, een deel; 2langs die grens van Dan, vanaf die oostekant tot by die westekant: Asher, een deel; 3langs die grens van Asher, vanaf die oostekant tot by die westekant: Naftali, een deel; 4langs die grens van Naftali, vanaf die oostekant tot by die westekant: Manasheh, een deel; 5langs die grens van Manasheh, vanaf die oostekant tot by die westekant: Efrayim, een deel; 6langs die grens van Efrayim, vanaf die oostekant tot by die westekant: Re’uven, een deel; 7langs die grens van Re’uven, vanaf die oostekant tot by die westekant: Y’hudah, een deel;

8langs die grens van Y’hudah, vanaf die oostekant tot by die westekant, moet die toedeling wees wat julle moet afsonder: vyf en twintig duisend el breed en net so lank soos een van die dele, vanaf die oostekant tot by die westekant en die Afgesonderde Plek moet in die middel daarvan wees. 9Die toedeling wat julle tot יהוה moet afsonder, moet vyf en twintig duisend el lank wees en tien duisend breed.

10Die afgesonderde toedeling sal wees vir die priesters: teen die noorde vyf en twintig duisend el in lengte, teen die weste tien duisend in breedte, teen die ooste tien duisend in breedte en teen die suide vyf en twintig duisend in lengte en die Afgesonderde Plek van יהוה moet in die middel daarvan wees. 11Dit moet vir die priesters wat afgesonder is, die seuns van Tzadok, wees, wat My bevele onderhou het, wat nie afgedwaal het toe die seuns van Yisra’el afgedwaal het saam met die Leviete nie. 12Dit moet ’n toedeling aan hulle wees vanuit die toedeling van die land, ’n mees afgesonderde plek, by die grens van die Leviete. 13Langs die grens van die priesters moet die Leviete vyf en twintig duisend el in lengte en tien duisend in breedte kry. Die hele lengte moet vyf en twintig duisend wees en die breedte tien duisend. 14Meer nog, hulle mag niks daarvan verkoop of verruil nie, of hierdie beste van die land vervreem nie, want dit is afgesonderd tot יהוה.

15Die wat oorbly, vyf duisend in die breedte en vyf en twintig duisend in die lengte, sal wees vir algemene gebruik van die stad, vir blyplek en oop spasies en die stad moet in die middel daarvan wees. 16Hierdie is sy afmetings: die noordekant, vier duisend vyf honderd el; die suidekant, vier duisend vyf honderd el; die oostekant, vier duisend vyf honderd el en die westekant, vier duisend vyf honderd el. 17Die stad moet oop areas hê: teen die noorde, twee honderd en vyftig el; teen die suide, twee honderd en vyftig el; teen die ooste, twee honderd en vyftig el en teen die weste, twee honderd en vyftig el. 18Die orige lengte, langs die afgesonderde toedeling moet tien duisend el teen die ooste en tien duisend teen die weste wees; dit moet langs die afgesonderde toedeling wees. Sy opbrengs sal kos wees vir die werkers van die stad. 19Die werkers van die stad, vanuit al die stamme van Yisra’el, moet dit bewerk. 20Die volledige toedeling moet vyf en twintig duisend el by vyf en twintig duisend el wees; jy moet die afgesonderde toedeling afsonder, ’n vierkant, saam met die eiendom van die stad.

21Dit wat oorbly sal vir die prins wees, aan weerskante van die afgesonderde toedeling en van die eiendom van die stad; voor die vyf en twintig duisend el van die toedeling na die oostelike grens en weswaarts voor die vyf en twintig duisend el na die westelike grens, langs die gedeeltes, sal vir die prins wees. Die afgesonderde toedeling en die Afgesonderde Plek van die huis moet in die middel daarvan wees. 22Uitsluitend die eiendom van die Leviete en die eiendom van die stad, wat in die middel lê van dit wat aan die prins behoort, tussen die grens van Y’hudah en die grens van Binyamin, moet alles aan die prins behoort.

23Vir die res van die stamme: vanaf die oostekant tot by die westekant: Binyamin, een deel; 24langs die grens van Binyamin, vanaf die oostekant tot by die westekant: Shim’on, een deel; 25langs die grens van Shim’on, vanaf die oostekant tot by die westekant: Yissakhar, een deel; 26langs die grens van Yissakhar, vanaf die oostekant tot by die westekant: Z’vulun, een deel; 27langs die grens van Z’vulun, vanaf die oostekant tot by die westekant: Gad, een deel; 28langs die grens van Gad, aan die suidekant na die suide toe, moet die grens wees vanaf Tamar na die waters van M’rivat-Kadesh, na die spruit van Mitzrayim tot by die Groot see. 29Hierdie is die land wat julle as erfenis moet verdeel tussen die stamme van Yisra’el en dit is hulle gedeeltes,” verklaar יהוה-God.

30“Hierdie is die uitgange van die stad: aan die noordekant, vier duisend vyf honderd el uitgemeet, 31sal die poorte van die stad wees, genoem volgens die name van die stamme van Yisra’el; drie poorte aan die noorde: die poort van Re’uven, een; die poort van Y’hudah, een; die poort van Levi, een. 32Aan die oostekant, vier duisend vyf honderd el, sal drie poorte wees: die poort van Yosef, een; die poort van Binyamin, een; die poort van Dan, een. 33Aan die suidekant, vier duisend vyf honderd el afgemeet, sal drie poorte wees: die poort van Shim’on, een; die poort van Yissakhar, een; die poort van Z’vulun, een. 34Aan die westekant, vier duisend vyf honderd el, sal drie poorte wees: die poort van Gad, een; die poort van Asher, een; die poort van Naftali, een. 35Agttien duisend el reg rondom en die naam van die stad sal van dié dag af wees: ‘יהוה is daar’ (יהוה-Shamah!).”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Ezekiel 47
Top of Page
Top of Page