Handelinge 9
Afrikaans PWL
1Sha’ul, wat steeds dreigemente en moord geblaas het teen die studentevolgelinge van ons Meester, 2het van die hoofpriester briewe gevra aan die bymekaarkomplekke in Dammesek sodat, as hy mense sou kry wat van die Weg was, manne, sowel as vroue, hy hulle vasgebind na Yerushalayim kon bring. 3Op die pad, naby Dammesek, is hy skielik omring met ’n helder lig vanuit die hemel. 4Hy val op die grond neer en hoor ’n stem vir hom sê: “Sha’ul, Sha’ul, waarom vervolg jy My? Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop.” 5Hy sê: “Wie is U, my Meester?” Ons Meester antwoord: “ אנא אנא - Ek is, was, sal wees Wie Ek is, was, sal wees, Yeshua van Natzeret, wat jy vervolg.” 6“Staan op en gaan in die stad in en daar sal vir jou gesê word wat jy moet doen.” 7Die manne wat saam met hom gereis het, het sprakeloos gestaan terwyl hulle wel die stem hoor, maar niemand sien nie. 8Toe staan Sha’ul van die grond af op en maak sy oë oop, maar hy kon niks sien nie en hulle het hom aan die hand gelei en in Dammesek ingebring. 9Vir drie dae het hy niks gesien en niks geëet of gedrink nie.

10Daar was ’n sekere studentevolgeling in Dammesek met die naam van Gananyah en יהוה het vir hom in ’n visioen gesê: “Gananyah!” Hy antwoord: “Dit is ek, my Meester.” 11Ons Meester sê vir hom: “Staan op en gaan na die straat wat genoem word Reguitstraat en doen navraag in die huis van Y’hudah, na ’n man van Tarsus met die naam van Sha’ul, want let op, hy bid. 12Hy sien in ’n visioen ’n man met die naam van Gananyah inkom, wat hom die hande oplê sodat hy weer kan sien.” 13Gananyah antwoord: “My Meester, ek het van baie mense aangaande hierdie man gehoor, hoeveel boosheid hy aan die afgesonderdes in Yerushalayim gedoen het 14en let op, ook hier het hy outoriteit van die leierpriesters om almal te vang wat hulle beroep op U Outoriteit en Karakter.” 15יהוה sê vir hom: “Staan op en gaan, want hy is vir My ’n gekose instrument om My Outoriteit en Karakter te neem voor nasies, konings, asook die kinders van Yisra’el, 16want Ek sal hom wys hoeveel hy vir My Karakter en Outoriteit moet ly.” 17Toe het Gananyah gegaan en in die huis gekom en hom die hande opgelê en gesê: “Sha’ul, my broer, ons Meester, Yeshua, Hy wat aan jou verskyn het op die pad toe jy gekom het, het my gestuur sodat jou oë oopgemaak kan word en jy met die Gees van Afsondering gevul kan word.” 18Dadelik het daar iets soos skubbe van sy oë afgeval en hy kon onmiddellik sien en hy het opgestaan en is gedoop. 19Nadat hy geëet het, het hy weer sterk geword en Sha’ul was ’n paar dae saam met die studentevolgelinge in Dammesek.

20Hy het dadelik in die bymekaarkomplekke van die Jode verkondig aangaande Yeshua, dat Hy die Seun van God is 21en almal wat hom gehoor het, was verstom en het gesê: “Is hy nie die man wat in Yerushalayim dié wat hierdie Outoriteit en Karakter aanroep vervolg het en hierheen gekom het met die doel om hulle vasgebind na die leierpriesters te bring nie?” 22het al kragtiger geword en die Jode wat in Dammesek bly, verontrus deur te bewys dat hierdie Een Die Gesalfde Een is,

23maar ná ’n geruime tyd het die Jode beraadslaag om hom dood te maak. 24Hulle plan wat hulle aan hom wou doen is aan Sha’ul gewys. Hulle het die poorte dag en nag opgepas sodat hulle hom kon doodmaak. 25Toe het die studentevolgelinge hom gevat en in die nag in ’n mandjie vanaf die muur laat afsak.

26Hy het aangegaan na Yerushalayim en by die studentevolgelinge probeer aansluit, maar almal was bang vir hom en het nie vertrou dat hy ’n studentevolgeling was nie. 27Bar-Nabba het hom gevat en na die afgevaardigdes gebring en aan hulle vertel presies hoe Die Meester op die pad aan hom verskyn en met hom gepraat het en hoe hy in Dammesek vrymoediglik in die Outoriteit en Karakter van Yeshua gepraat het. 28Hy het saam met hulle in en uit Yerushalayim gegaan 29en vrymoediglik in die Outoriteit en Karakter van Yeshua gepraat en ook met die Griekssprekende Jode gedebatteer, maar hulle het probeer om hom dood te maak. 30Toe die broers dit agterkom, het hulle hom in die nag na Kaisareia gevat en hom weggestuur na Tarsus toe.

31Hierna het die gemeentes deur die hele Y’hudah, die Galil en Shomron vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid gehad en is opgebou. Hulle het voortgegaan in die respekvolle vrees van יהוה en het gegroei in die ondersteuning van die Gees van Afsondering.

32Toe Shim’on oral rondgegaan het, het hy ook gekom by die afgesonderdes wat in Lud bly 33en het ’n sekere man daar gekry met die naam van Aeneas, wat verlam en reeds agt jaar lank bedlêend was. 34Shim’on sê vir hom: “Aeneas (geteisterde), Yeshua, Die Gesalfde Een, maak jou gesond; staan op en maak jou bed reg!” Hy het onmiddellik opgestaan 35en al die inwoners van Lud en die Sharon het gesien en hulle het omgedraai na God toe.

36In Yafo was daar ’n studentevolgeling met die naam van Tavita, wat ryk was in omgee vir ander en van goeie dade wat sy gedoen het, 37maar in dié dae het sy siek geword en is dood en hulle het haar gewas en in ’n boonste vertrek neergelê. 38Lud is langs Yafo en die studentevolgelinge het gehoor dat Shim’on daar was en het twee manne na hom toe gestuur wat hom moes smeek om sonder uitstel na hulle toe te kom. 39Shim’on het opgestaan en saam met hulle gegaan. Toe hy daar kom, bring hulle hom in die boonste vertrek en al die weduwees kom by hom staan en huil en wys hom die jasse en klere wat Tavita vir hulle gemaak het toe sy nog by hulle was. 40Shim’on het almal buitentoe gestuur, gekniel en gebid en hy het hom na die liggaam gedraai en gesê: “Tavita, staan op!” Sy het haar oë oopgemaak, vir Shim’on gesien en regop gesit. 41Hy gee haar sy hand en laat haar opstaan. Daarop roep hy die afgesonderdes en die weduwees en gee haar lewendig vir hulle 42en dit het bekend geword in die hele stad en baie het in ons Meester vertrou. 43Hy het ’n geruime tyd by ’n sekere Shim’on, ’n leerlooier, in Yafo gebly.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Acts 8
Top of Page
Top of Page