Handelinge 8
Afrikaans PWL
1Sha’ul het ook saamgestem en deelgeneem aan sy moord en daar was in dié tyd ’n groot vervolging teen die gemeente in Yerushalayim en almal, behalwe die afgevaardigdes, is verstrooi oor die dorpies van Y’hudah en Shomron. 2Manne wat vertrou, het Stefanos gevat en begrawe en baie oor hom gerou, 3maar Sha’ul het die gemeente vervolg en in huise ingegaan en manne en vroue uitgesleep en aan die tronk oorgegee.

4Díe wat verstrooi is, het reisende die boodskap van God verkondig, 5maar Filippos het afgegaan na ’n stad van Shomron en aangaande Die Gesalfde Een aan hulle verkondig. 6Die mense het, soos hulle sy boodskap hoor, geluister en was oortuig van wat hy sê omdat hulle die wondertekens gesien het wat hy doen, 7want uit baie van die wat onrein geeste gehad het, het die geeste uitgegaan terwyl hulle met ’n harde stem geskree het en baie wat lam en kreupel was, het gesond geword 8en daar was groot blydskap in daardie stad.

9’n Sekere man, met die naam van Shim’on, het vóór dit, in die stad die mense van Shomron mislei met towery en beweer dat hy ‘Die groot god’ is. 10Almal, van klein tot groot, het tot hom gebid en gesê: “Hy is die groot krag van God.” 11Almal was deur hom oortuig omdat hy hulle vir ’n lang tyd deur sy towerye verstom het, 12maar toe hulle vertrou wat Filippos verkondig het aangaande die Koninkryk van God in die Outoriteit en Karakter van ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een, is hulle gedoop, manne sowel as vroue. 13Shim’on self het ook vertrou en nadat hy gedoop is, het hy gedurig by Filippos gebly en hy was verstom en verslae toe hy die tekens en wonderwerke sien wat deur sy hand gebeur.

14Toe die afgevaardigdes in Yerushalayim hoor dat Shomron die boodskap van God aanvaar het, het hulle Shim’on Kefa en Yoganan na hulle toe gestuur. 15Húlle het afgegaan en vir hulle gebid sodat hulle die Gees van Afsondering kan ontvang, 16want Hy het toe nog op niemand van hulle geval nie, maar hulle was net gedoop in die Outoriteit en Karakter van ons Meester, Yeshua. 17Hulle het toe die hande op hulle gelê en hulle het die Gees van Afsondering ontvang. 18Toe Shim’on sien dat, deur die handoplegging van die afgevaardigdes, die Gees van Afsondering gegee word, het hy vir hulle geld gebring 19en gesê: “Gee vir my ook hierdie outoriteit sodat as ek iemand die hande oplê, hulle die Gees van Afsondering kan ontvang.” 20Shim’on Kefa sê vir hom: “Jou geld sal saam met jou na die vernietiging gaan omdat jy gedink het dat jy die geskenk van God met wêreldse besittings kan verkry. 21Jy het geen deel of breukdeel aan hierdie vertroue nie, want jou verstand, wil en emosie is nie opreg voor God nie. 22Draai weg van hierdie boosheid van jou en vra van God en miskien sal Hy jou die valsheid van jou verstand, wil en emosie vergewe, 23want ek sien dat jy in ’n woede van bitterheid en bande van boosheid is.” 24Shim’on het geantwoord en gesê: “Bid julle tot God vir my sodat niks van wat julle gesê het, oor my mag kom nie.”

25Nadat Shim’on Kefa en Yoganan getuig en die boodskap van God verkondig het, het hulle na Yerushalayim teruggegaan en die goeie boodskap in baie dorpe van Shomron verkondig.

26’n Boodskapperengel van יהוה het met Filippos gepraat en gesê: “Staan op en gaan na die suide, op die stil pad wat afloop van Yerushalayim na `Azah.” 27Hy het opgestaan, gegaan en ’n gelowige van Kush, ’n staatsamptenaar met baie outoriteit, wat oor al Khandakh, die koningin van die Kushiete, se skatte was en wat na Yerushalayim gekom het om te aanbid, ontmoet. 28Hy was op pad terug en het op sy wa gesit en die profeet Yesha’yahu gelees. 29Toe sê die Gees vir Filippos: “Gaan na die wa toe en bly by hom.” 30Toe hy naderkom hoor hy wat hy in die profeet Yesha’yahu lees en hy sê vir hom: “Verstaan u dit wat u lees?” 31Hy antwoord: “Hoe kan ek verstaan as iemand my nie leer nie?” Toe nooi hy Filippos om op te klim en by hom te kom sit.

32Die gedeelte van die Skrif wat hy besig was om te lees, was dít: ‘Hy is soos ’n skaap wat gelei word om geslag te word en soos ’n lam wat stom is voor die een wat hom skeer, so maak Hy Sy mond nie oop nie.

33In Sy vernedering in gevangenis is Hy regverdige oordeel ontneem en wie sal vertel van Sy tyd, want Sy lewe word van die aarde af weggevat?’

34Die gelowige antwoord en sê vir Filippos: “Ek smeek u, van wie sê die profeet dit, van homself of van iemand anders?” 35Filippos het sy mond oopgemaak en van hierdie Skrif af begin en aangaande ons Meester, Yeshua, aan hom verkondig. 36Terwyl hulle op pad is, kom hulle by water en die staatsamptenaar sê vir hom: “Let op, daar is water, wat verhinder my om gedoop te word?” 37Filippos sê: “As u vertrou met u hele verstand, wil en emosie, is dit geoorloof.” Hy antwoord en sê: “Ek vertrou dat Yeshua, Die Gesalfde Een, die Seun van God is.” 38Hy het beveel dat die wa moes stilhou en hulle altwee, Filippos en die staatsamptenaar, het in die water afgeklim en hy is gedoop. 39Toe hulle uit die water opklim, het die Gees van יהוה Filippos weggevat en die staatsamptenaar het hom nie meer gesien nie, maar hy het met blydskap verder gereis. 40Filippos is egter in Ashdod gekry en hy het van daar af gereis en in al die stede verkondig totdat hy in Kaisareia gekom het.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Acts 7
Top of Page
Top of Page