Handelinge 10
Afrikaans PWL
1Daar was in Kaisareia ’n sekere man met die naam van Kornelios, ’n kaptein oor honderd van die leërafdeling wat ‘Italiaans’ genoem is. 2Saam met sy hele huis was hy onpartydig opreg en het God aanbid en het baie deur omgee gesorg vir die mense en het altyddeur leiding van God gevra. 3Hy het in ’n gesig omtrent drie-uur die middag duidelik ’n boodskapper van God na hom toe sien kom wat vir hom sê: “Kornelios!” 4Hy het die oë baie bang op hom gehou en gesê: “Wat is dit, my meester?” Toe antwoord hy hom: “Jou gebede en jou dade van omgee het voor God in herinnering gekom. 5Stuur dan nou manne na Yafo en laat vir Shim’on haal, wat ook Kefa genoem word. 6Let op, hy bly by ’n sekere Shim’on, ’n leerlooier, wie se huis by die see is. Hy sal jou sê wat jy moet doen.” 7Toe die boodskapper wat met Kornelios gepraat het, weg is, roep hy twee van sy huisbediendes en ’n toegewyde soldaat wat met hom saamgestem het 8en vertel hulle alles wat hy gesien het en stuur hulle na Yafo.

9Die volgende dag terwyl hulle op pad was, naby die stad, het Shim’on omtrent twaalfuur die middag op die dak geklim om te bid 10en hy het honger geword en wou eet en terwyl dit vir hom voorberei is, het daar ’n geesvervoering oor hom gekom: 11hy sien die hemel oopgemaak en ’n voorwerp soos ’n groot laken na hom toe afkom, wat aan die vier hoeke vasgebind is en op die aarde laat sak word. 12Daarin was al die viervoetige diere van die aarde, kruipende diere en die voëls van die hemel 13en daar kom ’n stem na hom toe: “Staan op, Shim’on, slag en eet!” 14Shim’on sê: “Nooit nie, my Meester, want ek het nog nooit iets vuils of onreins geëet nie.” 15Weer het die stem vir die tweede keer na hom gekom: “Wat God rein gemaak het, mag jy nie vuil ag nie.” 16Dit het drie maal gebeur en die voorwerp is weer in die hemel in opgevat.

17Terwyl Shim’on nog by homself gewonder het oor wat die visioen, wat hy gesien het, kon beteken, het die manne wat deur Kornelios gestuur is, gearriveer, verneem na die huis van Shim’on en by die hek gaan staan. 18Hulle het geroep en gevra of Shim’on, wat ook Kefa genoem word, daar bly. 19Terwyl Kefa nadink oor die visioen, sê die Gees vir hom: “Let op, daar is drie manne wat jou soek. 20Staan op, klim af en gaan saam met hulle sonder om te twyfel, want dit is Ek wat hulle gestuur het.” 21Toe het Shim’on na die manne toe afgeklim en gesê: “Dit is ek wat julle soek. Hoekom het julle gekom?” 22Hulle sê vir hom: “Kornelios, ’n kaptein oor honderd, ’n goeie en Godvresende man, wat ’n goeie naam het by al die Jode, het ’n openbaring ontvang deur ’n afgesonderde boodskapper, om u te laat haal na sy huis toe, om te hoor wat u sal sê.” 23Shim’on het hulle ingenooi en onthaal waar hy gebly het en die volgende dag het Kefa saam met hulle gegaan en sekere van die broers uit Yafo het saam met hom gegaan.

24Die dag daarna het hulle in Kaisareia aangekom waar Kornelios hulle verwag het terwyl sy familie en goeie vriende by hom bymekaar was. 25Toe Shim’on inkom, het Kornelios hom tegemoetgegaan en aan sy voete neergeval uit eerbetoning, 26maar Shim’on het hom opgetel en gesê: “Staan op, ek is self ook net ’n mens.” 27Terwyl hy met hom praat, gaan hy in en kry baie wat bymekaargekom het 28en hy sê vir hulle: “Julle weet dat dit nie toegelaat word vir ’n Joodse man om met iemand van ’n ander volk te assosieer of om hom te besoek nie, maar God het my gewys dat ek geen mens vuil of onrein mag noem nie, 29ek het daarom, toe ek geroep is, dadelik gekom. Ek vra dan om watter rede julle my laat roep het.”

30Kornelios sê: “Vier dae gelede, omtrent hierdie uur, was ek besig om te vas en drie-uur die middag het ek in my huis gebid en skielik staan daar ’n man voor my in wit klere 31en sê: ‘Kornelios, jou gebed is gehoor en jou dade van omgee is voor God in herinnering gebring. 32Stuur dan na Yafo en laat Shim’on, wat ook Kefa genoem word, haal. Hy bly in die huis van Shim’on, ’n leerlooier, naby die see; as hy kom, sal hy met jou praat.’ 33Ek het onmiddellik na u gestuur en u het goed gedoen om te kom. Let op, ons is almal voor u om alles te hoor wat van die Teenwoordigheid van God aan u beveel is.”

34Shim’on het sy mond oopgemaak en gesê: “In waarheid verstaan ek dat God geen aannemer van die persoon is nie, 35maar dat in elke nasie dié een wat Hom vrees en onpartydig opreg is, aanvaarbaar is vir Hom. 36Dít is die boodskap wat Hy gestuur het aan die kinders van Yisra’el toe Hy die goeie nuus van vrede, gesondheid, voorspoed, vergenoegdheid en rus verkondig het deur Yeshua, Die Gesalfde Een; Hy wat יהוה van almal is. 37Julle ken die boodskap wat in die hele Y’hudah was, wat vanuit die Galil begin het, ná die doop wat Yoganan verkondig het, 38aangaande Yeshua van Natzeret, wat God gesalf het met die Gees van Afsondering en met krag. Hy het rondgegaan en almal genees wat onderdruk was deur die Bose een omdat God in Hom was. 39Ons is getuies van alles wat Hy gedoen het in die gebied van Y’hudah en in Yerushalayim; hulle het Hom vermoor deur Hom aan ’n hout op te hang. 40God het Hom op die derde dag laat opstaan en gegee dat Hy openlik verskyn, 41nie aan al die mense nie, maar aan ons wat vooraf deur God as Sy getuies gekies is, aan ons wat saam met Hom geëet en gedrink het nadat Hy uit die dood uit opgestaan het. 42Hy het ons beveel om aan die mense te verkondig en te getuig dat dit Hy is wat deur God aangestel is as Regter van wat lewe en wat dood is. 43Van Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom vertrou, vergifnis van sondes deur Sy Karakter en Outoriteit sal ontvang.”

44Terwyl Shim’on besig was om te praat, het die Gees van Afsondering op almal wat die boodskap gehoor het, gekom 45en die broers vanuit die besnydenis, wat saam met Shim’on gekom het, was verstom en verbaas dat die geskenk van die Gees van Afsondering ook oor die ander nasies uitgestort is, 46want hulle het gehoor hoe hulle in verskillende tale praat en God grootmaak en Shim’on sê: 47“Niemand kan die water keer dat hierdie mense, wat net soos ons die Gees van Afsondering ontvang het, gedoop word nie.” 48Toe het hy beveel dat hulle gedoop moet word in die Karakter en Outoriteit van ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een. Hulle het hom toe gevra om nog ’n paar dae te bly.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Acts 9
Top of Page
Top of Page