2 Samuel 9
Afrikaans PWL
1Toe het Dawid gesê: “Is daar nog enige iemand oor van die huis van Sha’ul dat ek aan hom omgee kan bewys ter wille van Y’honatan? 2Daar was ’n dienskneg van die huis van Sha’ul, met die naam van Tziva en hulle het hom na Dawid geroep en die koning het vir hom gevra: “Is jy Tziva?” Hy antwoord: “U dienskneg!” 3Die koning vra: “Is daar nie nog enige iemand van die huis van Sha’ul dat ek die omgee van God aan hom kan bewys, nie?” Tziva sê vir die koning: “Daar is nog ’n seun van Y’honatan, wie se voete altwee kreupel is.” 4Die koning vra vir hom: “Waar is hy?” Tziva sê vir die koning: “Let op, hy is in die huis van Makhir, die seun van `Ammi’el, in Lo-D’var. 5Toe het koning Dawid gestuur en hom laat haal uit die huis van Makhir, die seun van `Ammi’el, uit Lo-D’var. 6M’fivoshet, die seun van Y’honatan, die seun van Sha’ul, het by Dawid gekom en op sy gesig geval en plat gaan lê. Dawid het gesê: “M’fivoshet!” Hy het geantwoord: “Hier is u dienskneg.” 7Dawid het vir hom gesê: “Moenie bang wees nie, want ek sal sekerlik aan jou omgee bewys ter wille van jou vader Y’honatan en al die grond van jou oupa Sha’ul aan jou teruggee en jy self sal gereeld aan my tafel eet.” 8Weer het hy plat gaan lê en gesê: “Wat is u dienskneg dat u ’n dooie hond soos ek in ag sal neem?”

9Toe het die koning vir Tziva, Sha’ul se dienskneg, geroep en vir hom gesê: “Alles wat aan Sha’ul en sy hele huis behoort het, het ek vir jou meester se kleinseun gegee. 10Jy, jou seuns en jou slawe moet vir hom die grond bewerk en jy moet die opbrengs inbring sodat jou meester se kleinseun kos kan hê; nogtans sal M’fivoshet, jou meester se kleinseun, gereeld aan my tafel eet.” Tziva het vyftien seuns en twintig slawe gehad. 11Toe sê Tziva vir die koning: “Volgens alles wat my meester die koning sy dienskneg beveel, so sal u dienskneg doen.” M’fivoshet het aan die tafel van Dawid geëet soos een van die koning se seuns. 12M’fivoshet het ’n jong seun gehad met die naam van Mikha. Almal wat in die huis van Tziva gebly het, was M’fivoshet se diensknegte. 13M’fivoshet het in Yerushalayim gebly, want hy het gereeld aan die koning se tafel geëet. Hy was kreupel in altwee voete.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
2 Samuel 8
Top of Page
Top of Page