2 Samuel 10
Afrikaans PWL
1Daarna het dit gebeur dat die koning van die `Ammoniete gesterf het en sy seun Hanun het in sy plek koning geword. 2Toe het Dawid gesê: “Ek wil omgee bewys aan Hanun, die seun van Nagash, net soos sy vader aan my omgee bewys het.” Dawid het van sy diensknegte gestuur om hom oor sy vader te troos, maar toe Dawid se diensknegte in die land van die `Ammoniete kom, 3het die prinse van die `Ammoniete vir Hanun, hulle meester, gesê: “Dink u dat Dawid u vader eer omdat hy troosters na u toe gestuur het? Het Dawid nie sy diensknegte na u toe gestuur om die stad te deursoek, dit te verken en dit omver te werp nie?” 4Hanun vat Dawid se diensknegte en skeer die helfte van hulle baard af en sny hulle klere in die middel af, tot by hulle heupe en stuur hulle weg. 5Toe hulle dit vir Dawid vertel, het hy gestuur om hulle tegemoet te gaan, want die manne was baie verneder. Die koning het gesê: “Bly in Yerigo totdat julle baarde gegroei het en kom dan terug.

6Toe die seuns van `Ammon sien dat hulle gehaat geword het by Dawid, het die seuns van `Ammon gestuur en die Arameërs van Beit-Regov en die Arameërs van Zobah gehuur, twintig duisend voetsoldate en die koning van Ma’akhah met een duisend man en die manne van Tov met twaalf duisend man. 7Toe Dawid dit hoor, het hy Yo’av met die hele leër, die magtige manne, gestuur. 8Die seuns van `Ammon het uitgekom en in gevegsorde opgestel by die ingang van die poort terwyl die Arameërs van Zobah en Regov en die manne van Tov en Ma’akhah by hulleself in die veld was.

9Toe Yo’av sien dat die geveg opgestel is teen hom van voor sowel as van agter, het hy uit al die uitgesoektes in Yisra’el gekies en hulle opgestel teen die Arameërs, 10maar die oorblewende manskappe het hy onder bevel van sy broer Avishai gesit en dié het hy opgestel teen die seuns van `Ammon. 11Hy het gesê: “As die Arameërs vir my te sterk is, dan moet jy my help, maar as die seuns van `Ammon te sterk is vir jou, sal ek kom om jou te help. 12Wees onveranderlik sterk en laat ons onsself dapper wys aan ons mense en aan die stede van ons God. Mag יהוה dan doen wat goed is in Sy oë!” 13Yo’av en die manne wat by hom was, het nadergegaan aan die geveg met die Arameërs en hulle het voor hom gevlug. 14Toe die seuns van `Ammon sien dat die Arameërs vlug, het hulle ook voor Avishai gevlug en die stad ingegaan. Toe het Yo’av teruggekom van die geveg met die seuns van `Ammon en in Yerushalayim gekom.

15Toe die Arameërs sien dat hulle deur Yisra’el verslaan is, het hulle hulself bymekaar gebring. 16Hadad’ezer het gestuur en die Arameërs van oorkant die Rivier (Eufraat) laat bring en hulle het na Heilam gekom. Shovakh, die bevelvoerder van Hadad’ezer se leër, het hulle gelei. 17Nou toe dit vir Dawid vertel is, het hy die hele Yisra’el bymekaargemaak, deur die Yarden gegaan en by Heilam gekom en die Arameërs het hulleself opgestel om Dawid te ontmoet en teen hom baklei, 18maar die Arameërs het voor Yisra’el gevlug en Dawid het een duisend sewe honderd strydwadrywers en veertig duisend ruiters van die Arameërs gedood en Shovakh, die bevelvoerder van hul leër, neergeslaan en hy het daar gesterf. 19Toe al die konings, onderhorig aan Hadad’ezer, sien dat hulle voor Yisra’el verslaan is, het hulle met Yisra’el vrede gesluit en hulle gedien. Die Arameërs was bang om weer die seuns van `Ammon te help.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
2 Samuel 9
Top of Page
Top of Page