2 Konings 21
Afrikaans PWL
1M’nasheh was twaalf jaar oud toe hy koning geword het en hy het vir vyf en vyftig jaar in Yerushalayim regeer en sy moeder se naam was Heftzibah. 2Hy het boos gedoen in die oë van יהוה, volgens die gruwels van die nasies wat יהוה voor die seuns van Yisra’el onteien het, 3want hy het die hoë plekke weer herbou wat sy vader Hizkiyahu vernietig het en altare opgerig vir Ba’al en ’n Asherah gemaak, soos Ag’av, koning van Yisra’el, gedoen het en die hele leër van die hemel aanbid en hulle gedien. 4Hy het altare gebou in die huis van יהוה, waarvan יהוה gesê het: “In Yerushalayim sal Ek My Karakter en Outoriteit plaas.” 5Hy het altare gebou vir die hele leër van die hemel in die twee voorhowe van die huis van יהוה. 6Hy het sy seun deur die vuur laat gaan, heksery, waarsêery en voortekens gepraktiseer en mediums en spiritiste gebruik. Hy het baie boosheid gedoen in die oë van יהוה om Hom te tart. 7Toe het hy ’n gesnede beeld van Asherah, wat hy gemaak het, in die huis gesit waarvan יהוה vir Dawid en sy seun Shlomo gesê het: “In hierdie huis en in Yerushalayim, wat Ek verkies het uit al die stamme van Yisra’el, sal Ek vir ewig My Karakter en Outoriteit plaas. 8Ek sal die voet van Yisra’el nie meer laat rondswerf uit die land wat Ek aan hulle vaders gegee het nie, as hulle net sal oplet om alles te doen, volgens wat Ek hulle beveel het en volgens die hele wet wat My dienskneg Moshe hulle beveel het.” 9Hulle het egter nie geluister nie en M’nasheh het hulle verlei om meer boosheid te doen as die nasies wat יהוה voor die seuns van Yisra’el vernietig het.

10Nou het יהוה deur Sy diensknegte, die profete, gepraat en gesê: 11“Omdat M’nasheh, koning van Y’hudah, hierdie gruwels gedoen het, boser as wat al die Emoriete gedoen het wat voor hom was en ook vir Y’hudah laat sondig het deur sy afgode; 12daarom, so sê יהוה, die God van Yisra’el: ‘Let op, Ek bring sulke katastrofes oor Yerushalayim en Y’hudah, wat, as enige iemand daarvan hoor, beide sy ore sal tuit. 13Ek sal die meetsnoer van Shomron en die skietlood van die huis van Ag’av oor Yerushalayim span en Ek sal Yerushalayim skoonvee soos ’n mens ’n bord skoonvee: dit skoonvee en onderstebo draai. 14Ek sal die oorblyfsels van My erfenis verwerp en hulle in die hand van hul vyande oorgee en hulle sal soos buit en plunder word vir al hul vyande 15omdat hulle boos gedoen het in My oë en My gedurig getart het tot woede sedert die dag dat hulle vaders uit Mitzrayim uitgekom het, tot vandag toe.’”

16Meer nog, M’nasheh het vreeslik baie onskuldige bloed vergiet totdat hy Yerushalayim van end tot end daarmee gevul het, behalwe sy sonde waarmee hy Y’hudah laat sondig het om te doen wat boos was in die oë van יהוה. 17Die res van die dade van M’nasheh en alles wat hy gedoen het en sy sonde wat hy begaan het, is dit nie opgeskryf in die ‘Boek van die Kronieke van die konings van Y’hudah’ nie? 18M’nasheh is neergelê by sy vaders en is begrawe in die tuin van sy eie huis, in die tuin van die skatkamer. Amon, sy seun, het in sy plek koning geword.

19Amon was twee en twintig jaar oud toe hy koning geword het en hy het vir twee jaar in Yerushalayim regeer en sy moeder se naam was Meshullemet, die dogter van Harutz, van Yotvah. 20Hy het boos gedoen in die oë van יהוה, soos M’nasheh, sy vader, gedoen het. 21Hy het geheel en al in die pad wat sy vader geloop het, geloop en die afgode gedien wat sy vader gedien het en hom voor hulle neergebuig. 22So het hy יהוה, die God van sy vaders, verlaat en nie in die pad van יהוה geloop nie. 23Die diensknegte van Amon het teen hom saamgesweer en die koning in sy huis doodgemaak. 24Toe het die mense van die land almal wat saamgesweer het teen koning Amon doodgemaak en die mense van die land het vir Yoshiyahu, sy seun, in sy plek koning gemaak. 25Die res van die dade van Amon, wat hy gedoen het, is dit nie opgeskryf in die ‘Boek van die Kronieke van die konings van Y’hudah’ nie? 26Hy is begrawe in sy graf, in die tuin van die skatkamer. Yoshiyahu, sy seun, het in sy plek koning geword.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
2 Kings 20
Top of Page
Top of Page