2 Konings 20
Afrikaans PWL
1In dié dae het Hizkiyahu dodelik siek geword en Yesha’yahu, die profeet, die seun van Amotz, het by hom gekom en vir hom gesê: “So sê יהוה: ‘Kry jou huis in orde, want jy sal sterf en nie lewe nie.’” 2Toe het hy sy gesig na die muur gedraai en gebid tot יהוה en gesê: 3“Onthou nou, יהוה, ek smeek U, hoe ek voor U Teenwoordigheid in waarheid en met ’n volmaakte verstand, wil en emosie geloop het en gedoen het wat goed is in u oë.” Hizkiyahu het bitterlik gehuil. 4Voordat Yesha’yahu by die middelste hof uitgegaan het, het die woord van יהוה tot hom gekom en gesê: 5“Gaan terug en sê vir Hizkiyahu, die leier van My volk: “So sê יהוה, die God van jou vader, Dawid: ‘Ek het jou gebed gehoor, Ek het jou trane gesien; let op, Ek sal jou genees. Op die derde dag sal jy opgaan na die huis van יהוה. 6Ek sal vyftien jaar by jou lewe byvoeg en jou en hierdie stad uit die hand van die koning van Ashur bevry en Ek sal hierdie stad verdedig ter wille van Myself en vir My kneg, Dawid.’” 7Toe sê Yesha’yahu: “Vat ’n vyekoek.” Hulle het dit gevat en op die sweer gesit en hy het herstel.

8Hizkiyahu het vir Yesha’yahu gevra: “Wat sal die teken wees dat יהוה my sal genees en dat ek op die derde dag sal opgaan na die huis van יהוה?” 9Yesha’yahu antwoord: “Dit sal vir jou die teken wees vanaf יהוה dat יהוה sal doen wat Hy gesê het: moet die skaduwee tien grade vorentoe gaan, of moet dit tien grade terug gaan?” 10Hizkiyahu antwoord: “Dit is maklik vir die skaduwee om tien grade af te gaan; nee, maar laat die skaduwee terugdraai, tien grade agtertoe.” 11Yesha’yahu, die profeet, het uitgeroep na יהוה en Hy het die skaduwee op die trappe tien grade teruggebring waarlangs dit afgegaan het op die trappe van Agaz se sonnewyser.

12In daardie tyd het B’rodakh-Bal’adan, ’n seun van Bal’adan, koning van Bavel, briewe en ’n geskenk vir Hizkiyahu gestuur, want hy het gehoor dat Hizkiyahu siek was. 13Hizkiyahu het na hulle geluister en vir hulle sy hele skathuis gewys, die silwer, die goud, die speserye, die kosbare olie, sy wapenhuis en alles wat in sy skatkamers te vinde was. Daar was niks in sy huis of in sy hele ryk wat Hizkiyahu nie vir hulle gewys het nie. 14Toe kom die profeet Yesha’yahu na koning Hizkiyahu en sê vir hom: “Wat het hierdie manne gesê en waarvandaan het hulle na u toe gekom?” Hizkiyahu antwoord: “Hulle het van ’n ver land af gekom, vanaf Bavel.” 15Hy het gesê: “Wat het hulle in u huis gesien?” Hizkiyahu antwoord: “Alles wat in my huis is, het hulle gesien; daar is niks in my skatkamers wat ek nie vir hulle gewys het nie.”

16Yesha’yahu sê vir Hizkiyahu: “Hoor en luister na die woord van יהוה! 17‘Let op, daar kom dae dat alles wat in jou huis is en wat jou vaders tot vandag toe opgehoop het, na Bavel weggevoer sal word; daar sal niks oorbly nie,’ sê יהוה. 18‘Sommige van jou seuns wat uit jou sal voortkom, wat jy sal verwek, sal weggevat word en hulle sal amptenare word in die paleis van die koning van Bavel.’” 19Toe sê Hizkiyahu vir Yesha’yahu: “Die woord van יהוה wat u gesê het, is goed, as daar maar vrede en waarheid in my dae sal wees!”

20Die res van die dade van Hizkiyahu en al sy mag en hoe hy die dam en die watervoor gemaak en die water in die stad ingebring het, is dit nie opgeskryf in die ‘Boek van die Kronieke van die konings van Y’hudah’ nie? 21Hizkiyahu is neergelê by sy vaders en M’nasheh, sy seun, het in sy plek koning geword. Yes 36:1-39:8

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
2 Kings 19
Top of Page
Top of Page