2 Konings 22
Afrikaans PWL
1Yoshiyahu was agt jaar oud toe hy koning geword het en hy het een en dertig jaar in Yerushalayim regeer en sy moeder se naam was Y’didah, die dogter van `Adayah, vanaf Botzkat. 2Hy het gedoen wat reg was in die oë van יהוה en in alles in die pad van sy vader, Dawid, geloop en nie regs of links afgedraai nie.

3In die agttiende jaar van koning Yoshiyahu het die koning vir Shafan, die skrywer, die seun van Atzalyahu, die seun van Meshullam, na die huis van יהוה gestuur en gesê: 4“Gaan op na Hilkiyahu, die hoofpriester en laat hy die geld tel wat in die huis van יהוה ingebring is, wat die deurwagters versamel het vanaf die volk. 5Laat hulle dit oorhandig aan die werkers wat aangestel is oor die huis van יהוה en laat hulle dit aan die werkers gee, wat in die huis van יהוה is om die skade aan die huis te herstel, 6aan die skrynwerkers, bouers en messelaars en om hout en gekapte klippe te koop om die huis te herstel. 7Daar sal net geen boekhouding met hulle gedoen word oor die geld wat in hulle hand gegee is nie, want hulle handel getrou.”

8Toe sê die hoofpriester Hilkiyahu vir Shafan, die skrywer: “Ek het die Boek van die Wet in die huis van יהוה gevind.” Hilkiyahu het die boek vir Shafan gegee, wat dit gelees het. 9Shafan, die skrywer, het by die koning gekom en vir die koning woord gebring en gesê: “U diensknegte het die geld uitgehaal wat in die huis te vinde was en dit in die hande van die werkers wat aangestel is oor die huis van יהוה oorhandig.” 10Meer nog, Shafan, die skrywer, het die koning vertel en gesê: “Hilkiyahu, die priester, het vir my ’n boek gegee.” Shafan het dit in die koning se teenwoordigheid gelees.

11Toe die koning die woorde van die Boek van die Wet hoor, het hy sy klere geskeur. 12Toe het die koning vir Hilkiyahu, die priester, Agikam, die seun van Shafan, `Akhbor, die seun van Mikhayah, Shafan, die skrywer en `Asayah, die dienskneg van die koning, beveel en gesê: 13“Gaan raadpleeg יהוה vir my, vir die volk en vir die hele Y’hudah oor die woorde van hierdie boek wat gevind is, want die toorn van יהוה is groot wat teen ons ontvlam omdat ons vaders nie geluister het na die woorde van hierdie boek, om te doen volgens alles wat vir ons geskryf is, nie.”

14Toe gaan Hilkiyahu, die priester, Agikam, `Akhbor, Shafan en `Asayah na Huldah, die profetes, die vrou van Shallum, die seun van Tikvah, die seun van Hargas, bewaarder van die wapens; sy het in Yerushalayim gebly en die wet bestudeer en hulle het met haar gepraat. 15Sy het vir hulle gesê: “So sê יהוה, die God van Yisra’el: ‘Sê vir die man wat julle na my toe gestuur het, 16so sê יהוה: “Let op, Ek bring boosheid oor hierdie plek en oor sy inwoners, al die woorde van die boek wat die koning van Y’hudah gelees het 17omdat hulle My verlaat en vir ander gode wierook laat opgaan het, om My met al hul handewerk te tart; daarom sal My wraak brand teen hierdie plek en nie uitgeblus word nie”.’ 18Aan die koning van Y’hudah wat julle gestuur het om יהוה te raadpleeg, moet julle egter só sê: ‘So sê יהוה, God van Yisra’el aangaande die woorde wat jy gehoor het: 19“Omdat jou hart sag is en jy jou voor die Teenwoordigheid van יהוה verneder het toe jy hoor wat Ek oor hierdie plek en oor sy inwoners gesê het: ‘hulle sal ’n verlatenheid en vervloeking word’ en jy jou klere geskeur en voor My Teenwoordigheid gehuil het, het Ék jou waarlik gehoor,” sê יהוה.’ 20Let daarom op, Ek sal jou by jou vaders versamel en jy sal met vrede in jou graf versamel word en jou oë sal nie al die boosheid sien wat Ek oor hierdie plek bring nie.” Hulle het woord aan die koning teruggebring.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
2 Kings 21
Top of Page
Top of Page