2 Konings 19
Afrikaans PWL
1Toe koning Hizkiyahu dit hoor, het hy sy klere geskeur, hom met ’n roukleed bedek en in die huis van יהוה ingegaan. 2Daarna stuur hy Elyakim, wat oor die huishouding was en Shevnah, die griffier en die oudstes van die priesters, wat met rouklere bedek is, na die profeet Yesha’yahu, die seun van Amotz. 3Hulle het vir hom gesê: “So sê Hizkiyahu: ‘Vandag is ’n dag van benoudheid, bestraffing en verwerping, want die kinders het gekom tot by die geboorte, maar daar is geen krag om gebore te word nie. 4Miskien sal יהוה, u God, al die woorde hoor van Rav-Shakeh wat deur sy meester, die koning van Ashur, gestuur is om die lewende God te onteer en sal Hy die woorde bestraf wat יהוה, u God, gehoor het; bid daarom dan ‘n gebed vir die oorblyfsel wat oor is.’” 5Die diensknegte van koning Hizkiyahu het by Yesha’yahu gekom, 6Yesha’yahu sê vir hulle: “So moet julle jul meester antwoord: ‘So spreek יהוה: “Moenie bang wees as gevolg van die woorde wat jy gehoor het nie, waarmee die diensknegte van die koning van Ashur kwaad van My gepraat het nie. 7Let op, Ek sal ’n gees in hom sit sodat hy ’n gerug sal hoor en na sy eie land sal teruggaan en Ek sal hom in sy eie land deur die swaard laat val.”’”

8Rav-Shakeh het teruggegaan en die koning van Ashur gekry terwyl hy besig was om te veg teen Livnah, want hy het gehoor dat die koning Lakhish verlaat het. 9Toe hy hoor dat hulle aangaande Tirhakah, koning van Kush, sê: “Let op, hy het uitgekom om teen u te veg,” het hy weer boodskappers na Hizkiyahu gestuur en gesê: 10“So moet julle vir Hizkiyahu, koning van Y’hudah, sê: ‘Moenie dat u God in wie u vertrou, u mislei deur te sê: “Yerushalayim sal nie in die hand van die koning van Ashur oorgegee word nie.” 11Let op, u het self gehoor wat die konings van Ashur aan al die lande gedoen het, deur hulle volkome te vernietig, dus, sal u gespaar word? 12Het die gode van die nasies wat my vaders vernietig het, hulle gered; Gozan en Haran en Retzef en die seuns van `Eden wat in Tel’assar was? 13Waar is die koning van Hamat en die koning van Arpad en die koning van die stad S’farvayim, van Hena en `Ivah?’”

14Toe vat Hizkiyahu die brief uit die hand van die boodskappers en lees dit en hy het opgegaan na die huis van יהוה en dit voor die Teenwoordigheid van יהוה uitgesprei. 15Hizkiyahu het voor die Teenwoordigheid van יהוה gebid en gesê: “יהוה, God van Yisra’el, wat op die troon sit bo die gérubs, U alleen is die God van al die koninkryke van die aarde, U het die hemel en die aarde gemaak! 16Draai U oor en luister, o יהוה; maak U oë oop, יהוה, kyk en luister na die woorde van Sangeriv, wat hy gestuur het om die lewende God te onteer! 17Dit is waar, יהוה, die konings van Ashur het die nasies en hulle lande verwoes 18en hulle gode in die vuur gegooi, want dit was geen gode nie, maar werk van mense hande, hout en klip; hulle het hul vernietig. 19Nou bid ek, יהוה, ons God, bevry ons uit sy hand sodat al die koninkryke van die aarde kan weet dat U, יהוה, alleen God is.”

20Toe laat Yesha’yahu, die seun van Amotz, Hizkiyahu weet en sê: “So sê יהוה, die God van Yisra’el: ‘Omdat jy tot My gebid het aangaande Sangeriv, koning van Ashur, het Ek jou gehoor.’

21Dit is die woord wat יהוה teen hom gepraat het: ‘Sy het jou verag en bespot, die maagdelike dogter van Tziyon; sy het haar kop agter jou geskud, die dogter van Yerushalayim.

22Van wie het jy kwaad gepraat en onteer? Teen wie het jy jou stem verhef en jou oë hoogmoedig opgelig? Teen die Afgesonderde Een van Yisra’el!

23Deur jou boodskappers het jy יהוה onteer en jy het gesê: ‘Met die menigte van my strydwaens het ék na die hoogtes van die berge opgekom, na die uithoeke van die L’vanon en ek het sy hoë seders, sy keur van sipresse, omgekap en deurgedring tot in sy diepste skuilhoeke, sy digste woude.

24Ék het gegrawe en vreemde waters gedrink en met my voetsole droog ek al die rivierstrome van Mitzrayim op.’

25Het jy dit nie gehoor nie? Lank gelede het Ek dit gedoen; van antieke tye af het Ek dit beplan. Nou het Ek dit laat gebeur sodat jy van versterkte stede puinhope sal maak;

26daarom was hulle inwoners kort van krag, hulle was moedeloos en beskaamd; hulle was soos plante van die veld en soos die groen kruie, soos gras op die dakke verbrand word voordat dit opgegroei het,

27maar Ek ken jou sit en jou uitgaan en jou ingaan en hoe jy teen My raas.

28As gevolg van jou geraas teen My en omdat jou trotsheid opgekom het in My ore; daarom sal Ek My haak in jou neus sit en My toom tussen jou lippe en jou terugbring met die pad waarmee jy gekom het.

29Dan sal hierdie vir jou die teken wees: julle sal hierdie jaar eet wat vanself groei, in die tweede jaar wat van dieselfde af uitspruit en in die derde jaar, saai, oes, plant wingerde en eet hulle vrugte. 30Die oorlewendes wat oorgebly het van die huis van Y’hudah sal weer wortel skiet ondertoe en vrugte dra boontoe, 31want vanuit Yerushalayim sal ’n oorblyfsel uitgaan en oorlewendes vanuit die berg Tziyon. Die ywer van יהוה sal dit doen.

32יהוה sê daarom so aangaande die koning van Ashur: ‘Hy sal nie by hierdie stad kom of ’n pyl daar skiet nie en hy sal nie met ’n skild voor dit kom of ’n wal teen dit opgooi nie. 33Met die pad wat hy gekom het, sal hy teruggaan en hy sal nie by hierdie stad kom nie,’ verklaar יהוה, 34want Ek sal hierdie stad verdedig om dit te verlos, ter wille van Myself en vir My kneg Dawid.”

35Toe het dit gebeur daardie nag dat die engel van יהוה uitgegaan en een honderd vyf en tagtig duisend in die kamp van die Ashuriërs verslaan het en toe manne die oggend vroeg opstaan, let op, was almal van hulle dood! 36Sangeriv, die koning van Ashur, het vertrek, teruggegaan en in Ninveh gebly. 37Dit het gebeur terwyl hy hom neerbuig in die tempel van Nisrokh, sy god, dat sy seuns Adrammelekh en Shar’etzer hom met die swaard doodgemaak het en hulle het ontsnap na die land van Ararat. Esar-Haddon, sy seun, het in sy plek koning geword.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
2 Kings 18
Top of Page
Top of Page