Sefanja 3
Afrikaans PWL
1Wee haar wat rebels en onteer is, die stad van Yonah.

2Sy het na geen stem geluister nie, sy het geen dissipline aanvaar nie. Sy het nie op יהוה vertrou nie, sy het nie nadergekom na haar God toe nie.

3Haar prinse binne-in haar is brullende leeus; haar regters is wolwe in die aand; hulle los niks vir die oggend nie.

4Haar profete is ligsinnig, onbetroubare manne; haar priesters het die afgesonderde plek onteer. Hulle het die wet verkrag.

5יהוה is regverdig binne-in haar; Hy sal geen onregverdige oordeel vel nie; elke oggend laat Hy Sy regverdige oordeel aan die lig kom, Hy faal nie, maar die onregverdige ken geen skaamte nie.

6“Ek het nasies afgesny; hulle hoektorings is verwoes. Ek het hulle strate verlate gemaak, met niemand wat verbygaan nie; hulle stede is verwoes, sonder ’n mens, sonder ’n inwoner.

7Ek het gesê: ‘Jy sal My sekerlik respekvol vrees, van My dissipline aanvaar.’ Haar blyplek sal nie afgesny word nie, volgens alles wat Ek aangaande haar aangestel het nie, maar hulle was ywerig om al hulle dade korrup te maak;

8daarom, wag vir My,” verklaar יהוה, “vir die dag wat Ek opstaan as ’n getuie. Inderdaad, My besluit is om nasies te versamel, koninkryke te vergader om My verontwaardiging op hulle uit te gooi, al My brandende woede, want die hele aarde sal deur die vuur van My ywer verteer word,

9want dan sal Ek aan die volke gereinigde lippe gee sodat almal van hulle die Naam (Karakter en Outoriteit) van יהוה mag aanroep om Hom skouer teen skouer te dien.

10Vanaf oorkant die riviere van Kush sal My aanbidders, My verstrooides, hulle offers bring.

11Op dié dag sal jy geen skaamte voel weens al jou dade waarmee jy teen My rebelleer het nie, want dan sal Ek jou trotses en die wat hulleself oplig, uit jou midde verwyder en jy sal nooit weer trots wees op My afgesonderde berg nie,

12maar Ek sal ’n nederige en eenvoudige volk tussen jou los en hulle sal in die Naam (Karakter en Outoriteit) van יהוה vertrou.

13Die wat oorbly van Yisra’el sal niks verkeerd doen en geen leuens vertel nie, daar sal ook nie ’n misleidende tong in hulle mond gevind word nie, want hulle sal wei en neerlê, met niemand om hulle te laat bewe nie.”

14Roep uit van vreugde, o dogter van Tziyon! Roep uit in triomf, o Yisra’el! Verheug jou en jubel met jou hele verstand, wil en emosie, o dogter van Yerushalayim!

15יהוה het Sy oordeel teen jou weggevat, Hy het jou vyande weggevee. Die Koning van Yisra’el, יהוה, is tussen jou; jy sal nie meer rampe vrees nie.

16In daardie dag sal dit vir Yerushalayim gesê word: “Moenie bang wees nie, o Tziyon; laat jou hande nie swak wees nie!

17יהוה, jou God, is in jou midde, ’n oorwinnende vegter. Hy sal Hom oor jou verheug met blydskap, Hy sal stil wees in Sy liefde, Hy sal oor jou in die rondte swaai van vreugde.

18Ek sal dié vanuit jou verwyder wat beskuldigings maak teen die aangestelde fees.

19Let op, Ek gaan in dié tyd optree teen al jou onderdrukkers; Ek sal die kreupele red en die wat ver weggestuur was bymekaarmaak en Ek sal hulle skaamte oor die hele aarde verander in lofprysing en roem.

20In daardie tyd sal Ek julle inbring, in die tyd wanneer Ek julle bymekaarmaak; inderdaad sal Ek vir julle roem en lofprysing gee onder al die volke van die aarde, wanneer Ek voor julle oë julle voorspoed herstel,” sê יהוה.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Zephaniah 2
Top of Page
Top of Page