Haggai 1
Afrikaans PWL
1In die tweede jaar van Daryavesh, die koning, op die eerste dag van die sesde maand, het die boodskap van יהוה deur die profeet Haggai gekom tot Z’rubavel, die seun van Sh’alti’el, goewerneur van Y’hudah en tot Y’hoshua, die seun van Y’hotzadak, die hoofpriester en gesê: 2“So sê יהוה-Tzva’ot: ‘Hierdie volk sê: “Die tyd het nog nie gekom nie, die tyd vir die huis van יהוה om herbou te word.”’” 3Toe het die boodskap van יהוה deur Haggai, die profeet, gekom en gesê: 4“Is dit tyd vir julle om in jul getimmerde huise te bly terwyl hierdie huis in puin lê?” 5Nou, daarom, so sê יהוה-Tzva’ot: “Beskou julle lewenswyses! 6Julle het baie gesaai, maar min geoes; julle eet, maar nie tot versadiging toe nie; julle drink, maar nie om dronk te word nie; julle trek klere aan, maar niemand is warm nie en hy wat verdien, verdien lone om in ’n beursie met gate te sit.”

7So sê יהוה-Tzva’ot: “Beskou jou lewenswyses! 8Gaan op na die berge, bring hout en herbou die tempel sodat Ek daarmee tevrede kan wees en geloof, vereer en aanbid kan word,” sê יהוה. 9Julle kyk na baie, maar let op, dit het nie tot veel gekom nie; wanneer julle dit huis toe vat, blaas Ek dit weg. Waarom?” verklaar יהוה-Tzva’ot. “As gevolg van My huis wat in puin lê terwyl elkeen van julle haastig is om vir sy eie huis te sorg; 10daarom, as gevolg van julle, het die hemel sy dou teruggehou en die aarde sy opbrengs. 11Ek het ’n droogte oor die land uitgeroep, oor die berge, oor die koring, oor die nuwe wyn, oor die olie en oor alles wat die grond oplewer; oor die mense, oor die diere en oor al die arbeid van jou hande.”

12Toe het Z’rubavel, die seun van Sh’alti’el en Y’hoshua, die seun van Y’hotzadak, die hoofpriester en die hele volk wat oorgebly het, die stem van יהוה, hulle God en die woorde van Haggai, die profeet, gehoorsaam, soos יהוה, hulle God, hom gestuur het. Die volk het יהוהrespekvol gevrees. 13Toe het Haggai, die boodskapper van יהוה, volgens die opdrag van יהוה met die volk gepraat en gesê: “’Ek is by julle,’ verklaar יהוה.” 14יהוה het die gees van Z’rubavel, die seun van Sh’alti’el, goewerneur van Y’hudah en die gees van Y’hoshua, die seun van Y’hotzadak, die hoofpriester en die gees van die volk wat oorgebly het, opgewek en hulle het gekom en gewerk aan die huis van יהוה-Tzva’ot, hulle God, 15op die vier en twintigste dag van die sesde maand, in die tweede jaar van Daryavesh, die koning.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Zephaniah 3
Top of Page
Top of Page