Sagaria 3
Afrikaans PWL
1Toe het Hy Y’hoshua, die hoofpriester, vir my gewys waar hy voor die boodskapper van יהוה staan en die teëstander wat aan sy regterhand staan om hom te beskuldig. 2יהוה sê vir die teëstander: “יהוה bestraf jou, teëstander! Inderdaad, יהוה wat Yerushalayim gekies het, bestraf jou! Is hierdie nie ’n vuuryster wat uit die vuur geruk is nie?” 3Y’hoshua was in vuil klere aangetrek terwyl hy voor die boodskapper staan. 4Hy het gepraat en vir hulle wat voor Hom staan gesê: “Verwyder die vuil klere van hom af.” Weer het Hy vir hom gesê: “Kyk, Ek het jou onregverdigheid van jou af weggevat en sal jou met feesklere aantrek.” 5Toe het ek gesê: “Laat hulle ’n skoon tulband op sy kop sit.” Hulle het ’n skoon tulband op sy kop gesit en vir hom goeie klere aangetrek terwyl die boodskapper van יהוה by hulle gestaan het.

6Die boodskapper van יהוה het Y’hoshua gewaarsku en gesê: 7“So sê יהוה-Tzva’ot: ‘As jy in My lewenswyses sal loop en as jy My diens sal verrig, dan sal jy ook My huis bestuur en ook My howe beheer en Ek sal vir jou vrye toegang gee onder hulle wat hier staan.

8Luister en hoor nou, Y’hoshua, die hoofpriester, jy en jou vriende wat voor jou sit; inderdaad is hulle manne wat ’n teken is, want let op, Ek gaan My Dienskneg, die Spruit, inbring, 9want let op, die steen wat Ek voor Y’hoshua gelê het; op een steen is sewe oë. Let op, Ek sal ’n inskrywing daarop graveer,’ verklaar יהוה-Tzva’ot ‘en Ek sal die onregverdigheid van daardie land op een dag verwyder. 10In daardie dag,’ verklaar יהוה-Tzva’ot, ‘sal elkeen van julle sy naaste nooi om onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom te sit.’”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Zechariah 2
Top of Page
Top of Page