Openbaring 7
Afrikaans PWL
1Ná hierdie dinge het ek vier engele oor die vier hoeke van die aarde sien staan en hulle het die vier winde van die aarde vasgehou sodat die wind nie sou waai oor die aarde of oor die see of oor enige boom nie. 2Ek het ook ’n ander engel sien opkom vanuit die opkomende son (ooste) met die seël van die lewende God en hy het met ’n harde stem geroep na die vier engele aan wie dit gegee is om die aarde en die see skade te berokken 3en gesê: “Moenie die aarde of die see of die bome beskadig voordat ons die diensknegte van ons God tussen hulle oë Yeg 9:4 verseël het nie.”

4Ek het die getal van die verseëldes gehoor: een honderd vier en veertig duisend vanuit al die stamme van Yisra’el:

5Uit die stam van Y’hudah twaalf duisend; uit die stam van Re’uven twaalf duisend; uit die stam van Gad twaalf duisend; 6uit die stam van Asher twaalf duisend; uit die stam van Naftali twaalf duisend; uit die stam van M’nasheh twaalf duisend; 7uit die stam van Shim’on twaalf duisend; uit die stam van Levi twaalf duisend; uit die stam van Yissakhar twaalf duisend; 8uit die stam van Z’vulun twaalf duisend; uit die stam van Yosef twaalf duisend; uit die stam van Binyamin twaalf duisend verseëldes.

9Ná hierdie dinge het ek ’n menigte uit alle volke, stamgroepe, nasies en tale gesien, wat niemand kon tel nie, wat staan voor die Troon en voor Hom wat die Lam is, aangetrek in wit klere en met palmtakke in hulle hande 10en hulle het met ’n harde stem geroep en gesê: “Verlossing behoort aan ons God, aan Hom wat op die troon sit, aan die Lam!” 11Al die engele het rondom die troon, die oudstes en die vier wesens gestaan en hulle het voor die troon op hulle gesigte neergeval, 12terwyl hulle sê: “Dit is waar! Die lof, eer, aanbidding, seën, wysheid, aanvaarding van onverdiende guns, die krag en die sterkte behoort aan ons God tot in tydlose ewigheid! Dit is waar.”

13Een van die oudstes het reageer en vir my gesê: “Wie is hulle wat met wit klere aangetrek is en van waar het hulle gekom?” 14Ek sê vir hom: “Meneer, u weet.” En hy sê vir my: “Dit is hulle wat uit groot lyding kom en hulle het hul klere gewas en wit gemaak in die bloed van die Lam 15en is daarom voor die troon van God en dien Hom dag en nag in die tempel en Hy wat op die troon sit, sal by hulle bly. 16Hulle sal nooit honger wees en nooit dors hê nie en nie die son of enige hitte sal op hulle brand nie, 17want die Lam wat in die middel van die troon is, sal vir hulle soos ’n herder wees, hulle lei na die lewe en na fonteine van lewende water en sal elke traan van hulle oë afvee.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Revelation 6
Top of Page
Top of Page