Psalms 74
Afrikaans PWL
1’n Onderriggewende gedig van Asaf. O God, waarom het U ons vir altyd weggestoot? Waarom het U woede ontvlam teen die skape van U trop?

2Onthou U vergadering wat U van ouds besit het, die stam van U erfenis, wat U losgekoop het; hierdie berg Tziyon waarin U gebly het.

3Verhoog U diensknegte bo dié wat weggevoer word deur mag; almal wat onderdruk, is vyande van U Afgesonderde Plek.

4U teëstanders het hulleself verhoog te midde van U feeste, hulle het hul baniere as tekens opgestel.

5U weet hierdie dinge, as die Verhoogde Een wat daarbo sit; hulle het die deure met byle afgekap soos wat hulle die bome van die woud sou afkap.

6Hulle het alles met byle en hamers vernietig.

7Hulle het U Afgesonderde Plek aan die brand gesteek en afgebrand. Hulle het die blyplek van U Naam op aarde onteer.

8Hulle het in hul binneste gesê: “Laat ons hulle saam vernietig! Laat ons al die feesdae van God in die land afskaf.”

9Hulle het nie die wonders daarvan gesien nie, want daar is geen profeet meer nie en ook is daar geen wyse man onder ons nie.

10Hoe lank, o God, sal die teëstander spot? Sal die vyand U Naam (Karakter en Outoriteit) vir ewig sleg praat?

11Waarom trek U U hand terug, U krag vanuit die midde van U vergadering?

12God is ons Koning, wat van ouds die verlossing van Ya’akov beveel het.

13U het deur U krag die see verdeel; U breek die koppe van die drake in die waters.

14U het die koppe van die leviatan in stukke gebreek en U het hom gegee as kos vir ’n sterk volk.

15U het die fonteine oopgemaak in die valleie; U het magtige riviere opgedroog.

16Die dag behoort aan U, die nag is ook U s’n; U het die lig en die son voorberei.

17U het al die grense van die aarde vasgestel; U het somer en winter gemaak.

18Onthou hierdie: die vyand het יהוה gespot en die dwase volk het kwaadgepraat van U Karakter en Outoriteit (Naam).

19Gee nie die lewe, wat U erken en bely, oor aan vernietiging nie; vergeet nie die lewens van U armes vir ewig nie.

20Respekteer U verbond, o יהוה, want die blyplekke van die aarde is vol onkunde en wreedheid.

21Laat die onderdrukte nie beskaamd terugkom nie; laat die arme en behoeftige U Naam (Karakter en Outoriteit) helder en duidelik loof.

22Staan op, o God, verdedig U eie saak; onthou hoe die dwase man U daagliks gespot het.

23Vergeet nie die stem van U teëstanders nie, die geraas van hulle wat teen U opstaan styg voortdurend op!

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Psalm 73
Top of Page
Top of Page