Psalms 69
Afrikaans PWL
1Vir die musiekleier: op die wysie van: “Lelies,” ’n gedig van Dawid, met instrumentale musiek. 2 Red my, o God, want die waters het naby gekom om oor my te spoel.

2Ek sink in diep modder waar geen staanplek is nie; ek het in diep water gekom waar die vloede oor my stroom.

3Ek is moeg uitgeroep, my keel is droog, my oë faal terwyl ek wag op God.

4Hulle wat my sonder oorsaak haat, is meer as die hare van my kop; hulle wat my sal vernietig, wat kwaadwillig my vyande is, is magtig; toe het ek teruggegee wat ek wettiglik gevat het.

5O God, U ken my dwaasheid en my sonde is nie vir U weggesteek nie.

6Laat hulle wat op U vertrou nie deur my beskaamd wees nie, o יהוה, God van die leërmagte! Laat die wat U soek, nie deur my onteer word nie, o God van Yisra’el,

7want om U ontwil dra ek vernedering en bedek skande my gesig.

8Ek het ’n vreemdeling vir my broers geword en ’n onbekende vir die seuns van my moeder,

9want die ywer vir U huis het my verteer en die ontering van die wat U onteer, het op my geval.

10Wanneer ek my lewe verneder en gedissiplineer het deur te vas, was dit tot my vernedering.

11Ek het ook ’n roukleed my klere gemaak en ’n spreekwoord vir hulle geword.

12Hulle wat in die poort sit, praat teen my en ek was die lied van die dronkaards,

13maar wat my betref, my gebed is tot U, o יהוה; op ’n aanvaarbare tyd, o God, in U oorvloedige onverdiende guns, antwoord my, in U oorvloedige redding!

14Bevry my uit die modder en laat my nie sink nie; laat my bevry word uit die diep waters en van hulle wat my haat.

15Laat die watervloed nie oor my stroom en ook die dieptes my nie insluk nie en laat die put nie sy mond oor my toemaak nie!

16Antwoord my, o יהוה, want U liefdevolle sagtheid is goed; draai na my met die oorvloed van U liefdevolle omgee.

17Verberg nie U gesig vir U kneg nie, want ek is in die moeilikheid. Antwoord my gou!

18Kom nader aan my lewe en koop dit los; bevry my as gevolg van my vyande.

19U ken my verwerping en my skande en my vernedering word versprei voor al my vyande.

20O, genees my gebroke binneste en verbind dit. Ek het sommiges gesoek om my jammer te kry, maar daar was niemand nie; vir vertroosters, maar het niemand gevind nie.

21Hulle het vir my bitter kruie gegee as my kos en toe ek dors was, het hulle vir my asyn gegee om te drink.

22Laat hulle tafel ’n vangnet word voor hulle en dit wat vir hulle ’n beloning moes wees, ’n strik.

23Laat hulle oë donker word dat hulle nie sien nie en maak dat hulle rûe voortdurend buig.

24Stort U woede oor hulle uit en laat U toornige woede hulle beetkry.

25Laat hulle blyplek verlate wees en laat niemand in hulle tente bly nie.

26Hulle het die een vervolg wat deur U geslaan is en smart bygevoeg by die een wat gewond is.

27Voeg die straf vir morele oortreding by hulle oortreding sodat hulle nie in U onpartydige opregtheid kan kom nie.

28Laat hulle uitgevee word uit U boek van die lewendes en nie saam met die regverdiges opgeskryf word nie.

29Ek is egter arm en vol rou; laat U verlossing my help, o God!

30Ek sal die Naam (Karakter en Outoriteit) van God helder en duidelik loof met ’n lied en Hom groot maak met danksegging.

31Dit sal יהוה meer tevrede stel as beeste of bulle wat horings en hoewe het.

32Die nederiges sal dit sien en bly wees en julle verstand, wil en emosie wat na God soek, sal lewe,

33want יהוה luister na die behoeftiges en verag nie Sy gevangenes nie.

34Laat hemel en aarde, die seë en alles wat daarin beweeg, Hom duidelik en helder loof,

35want God sal Tziyon red en die stede van Y’hudah bou.

36Sy diensknegte sal daarin bly; hulle wat Sy Naam (Karakter en Outoriteit) liefhet sal daarin woon.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Psalm 68
Top of Page
Top of Page